Friday, July 31, 2009

Vlieg teen die muur

Langs ons op die vliegtuig sit ‘n Engelse meisie wat opgewonde op pad huis toe is. Sy was drie maande in Kenia waar sy in ‘n dorpie in die allerhaglikste omstandighede gewerk het. Sy het, vertel sy, op die misvloer van die hutjie waar sy gebly het, geslaap – en die skielike trek op haar vrolike gesig vertel ‘n eie verhaal toe sy die herinnering aan daardie nagte bedink. Toe ons op Heathrow land, is sy die ene glimlag, van oor tot or. Duidelik oorvloediglik bly om by die huis te wees.

Ons klim af in die reuse nuwe eindpunt 5 gebou van die Britse lugdiens. Eerste wêreldse tegnologie. Massas mense wat soos miere uit vliegtuie skarrel, in groot breë gange om kits-kits en indrukwekkend effektief deur al die burokratiese prosesse te gaan voordat hulle deur die deure in die alledaagse wêreld weer met hul lewens begin. Hier is die ontwikkelde wêreld. Groot, belangrik, presies, blink en effektief. En om jou, in hierdie woelige bestaan, soek jy verniet vir ‘n enkel arm mens, of iemand wat maar net ‘n bietjie armoedig lyk.

Ons doen later die middag inkopies by ‘n groot kettingwinkel. Alles is blink, skoon, netjies en, resessie ten spyt, is die inkopie-waentjies tjok en blok. Nie vol nie. Tot oorlopens toe vol. Ek kan nie help om dit raak te sien nie. Oorvloed.

In Kenia slaap mense op misvloere. Hulle kan nie ‘n lig aanskakel om ‘n boek te lees nie. Hulle het nie ‘n hospitaal nie. Daar is nie ‘n groot kettingwinkel nie. Geen televisie-program om na te kyk nie. So af en toe sal hulle miskien ‘n sagte dreuning in die hemel hoor en hoog-hoog in die Afrika hemel ‘n blink vliegtuig deur die lug sien kruip.

Ek bly dink aan die jong meisie langs ons op die vliegtuig. Sy was so opgewonde soos ‘n kleintjie by ‘n krismisboom vol blinkste presente. Sou haar Afrika-avontuur haar blydskap om te kon teruggaan soveel groter gemaak het as wat dit normaalweg sou wees?

Ek sou wat wou gee om vanaand ‘n vlieg teen die muur te wees in die kamer waar die jong meisie vir haar familie en vriende in die lekker gemaklike eerste wêreldse huis vertel van haar Afrika-avontuur.

Thursday, July 30, 2009

Reg vir die...

reis. 'n Reis is soveel lekkerder as jy dit deel. Met mense na aan jou. Ons is op pad na ons koloniale meesters se tuiste, 12 000 kilometers ver. Om die familie daar te gaan ontmoet waar hulle nesgeskop het en te kuier, maar ook vir 'n tawwe tydjie van deel met kollega's wat 'n mens nie aldag sien nie.

Iets om na uit te sien.

Dis maar soos ons geestelike reis....

Wednesday, July 29, 2009

Spiritualiteit as self-verbetering? Oor selfbeheptheid en nietiging....

Ek kyk vandag na ‘n program oor meditasie in die Malmesbury gevangenis. Die inwoners, waaronder veral ‘n paar gewone Afrikaanse mans, het ‘n Boeddhistiese groep gekry om hulle te help om te leer mediteer. Dit is indrukwekkend om die groep te hoor dreunsing, met al die bypassende kleredrag, gebare en seremonies.

Een van die inwoners vertel dat hy deur sy meditasie besef het hoe gewelddadig hy vroeër was en hoe hy gewetenloos ander seer gemaak het. ‘n Ander een, weer, vertel van ‘n gesprek met sy pa waarin hy, tot sy pa se ontsteltenis, vir hom gesê het dat hy nie uit die tronk ontslaan wil word nie, want as hy eers weer buite die tronk in die besige lewe is, het hy nie meer tyd vir homself en vir sy innerlike versorging nie. Hierdie man het iewers geleer om nie net te lewe nie, maar om te kyk hoe sy innerlike bestaan deur sy lewe geaffekteer word. Hy het besef hoe kosbaar is ‘n mens se siel.

Dit was ‘n interessante, selfs boeiende gesig om hierdie harde mense uit ‘n harde verlede te sien soek na die geestelike weg. Deur meditatiewe tegnieke kom hulle tot ‘n innerlike reinigingsproses. Dit is duidelik iets wat hulle, soos een dit stel, transformeer, wat van hulle ander mense gemaak het as wat hulle was – stiller, gefokusd.

Wat my aangryp is hoe gekonsentreerd hulle ingestel is op die belewing van ‘n groter ervaring. Die hande is, tipies, in ‘n gebedshouding saamgevou, die liggaam op ‘n mat in ‘n stil posisie, die kop word gereeld vooroor, op die grond gebuig. Klanke stroom egalig, stilweg, melodieus uit en resoneer met liggaamsgebare en –bewegings.

Maar tog kan ek ‘n afstand in my aanvoel oor waarop dit alles sal uitloop. Ek voel selfs ‘n bietjie argwaan, nadenkend oor hierdie self-gerigtheid en self-verbetering waarop hulle meditatiewe proses ingestel is. Die inspanning is groot. Die asem moet beheer word, ervaar word sodat, vertel hulle, ‘n mens vergeet van ander dinge en bewus is van die hier en die nou. Jy moet jou instel op jouself en hoe jy tot innerlike rus kom. In ‘n sekere sin is daar afstand neem van die onnodige en fokus op die kern.

My gevoel van argwaan het my laat nadink oor die element van nietiging wat so ‘n groot rol in die mistiek speel. Die mens wat biddend na God verlang, raak op ‘n stadium bewus van God se teenwoordigheid. Dit “skemer” as te ware deur dat hy of sy nie meer alleen, verlangend is nie, maar dat Iemand by hom of haar is. Of, soos dit gestel word, ‘n mens raak nou bewus dat God die kern van jou ervaring is. Hierdie teenwoordigheid raak jou so aan, dat jy van jouself vergeet. In hierdie moment van ekstase, verloor jy jouself juis in die grotere teenwoordigheid van God. Dit is dan dat jy die gehegtheid aan jouself kwyt raak. Wie jy is, wat jy doen maak nie regtig meer saak nie. Jou hart is lank nie meer verkleef aan jouself nie. Hoe sterker die ervaring van God, hoe sterker die onthegting aan jouself. Jy is juis nie meer bewus van jouself nie. Jy dink nie oor jouself nie, jy word juis minder – sodat God meer kan word. Alles wat met jou te doen het, word nietig. En God word alles. Dit is oorweldigend, hierdie gloeiende binnekom van God in jou lewe.

Ek is aangegryp deur die ystere greep wat die gevangenes in Malmesbury se tronk op hul lewens uitoefen. Die bewussyn van die oomblik, die vergeet van die verlede wat jou in sy greep hou en die konsentreer op wat werklik saak maak. Dit is inderdaad ‘n stukkie nietiging.

Maar tog wonder ek of Bybelse tekste tog nie vir ons wil neem na ‘n dieper stuk nietiging nie. Want in die mistiek gaan dit nie net om sekere dele van jou bestaan agter jou te laat en om iewers iets van ‘n verlore self terug te vind nie. Ek leef nie meer nie... skryf Paulus. Hy moet meer word... sê Johannes. Nie my wil nie... worstel Jesus.

Die ervaring van die egte paradys beteken dat ‘n mens die bewussyn van jou bestaan opgee. Paulus leer dit sterk: ek leef nie meer nie. Dit gaan nie om my self-verbetering en –progressie nie.

‘n Mens gee jou lewe, jou bestaan op vir die Lewe en die Bestaan by God. Jy begeer hierdie lewe by God bly en gee jou eie nietige bestaan dankbaar prys vir die groter werklikheid, omdat jy in die teenwoordigheid van die liefdevolle God staan, by die Ander een, met jou gelaat voor die Sagte Gelaat van God.

Iewers is hierdie innerlike bekyk van jou eie siel so lou, vreemd en selfs uitsigloos. Dis eensaam, hierdie stil word saam met jouself. Dit maak ‘n god van dit wat juis nietig is en wat in vergetelheid verval. Hoe lief ‘n mens jouself ook al het, is die self-liefde net sinvol as dit in relasie met die Liefde van die Ander beleef word. Liefde vir die self deur die self is ‘n vreugdelose sug na die self, eintlik selfsugtigheid.

Tuesday, July 28, 2009

Die skokkende ervaring van die lewende God se genade. En ons oorgawe daaraan in kinderlike vertroue.

Karl Rahner (1904-1984) was een van die groot teoloë van die twintigste eeu. Hy het diepsinnige werke geskryf, volgens sommige van die moeilikste tekste in die moderne teologiese wêreld. Hy het graag oor temas geskryf wat die lewe van die kerk ten nouste raak. Hy is veral beïnvloed deur die spiritualiteit wat in die tradisie van Ignatius van Loyola gestaan het. Vir Rahner was die direkte menslike ervaring van God ‘n passie. Hy het dit as die hart van sy teologie gesien.

Een van sy bekendste werke waarin hy hieroor skryf, is sy “Brief van Ignatius aan moderne JesuÏte” waarin hy, self Jesuïet, die spiritualiteit van Ignatius “vertaal” in ‘n moderne konteks. Ignatius, skrywer van die klassieke Geestelike Oefening (sien elders op die blog), se geestelike oefening wat ingestel om die mens mistagogies te begelei in die goddelike ontmoetingsproses.

In die brief skryf Rahner asof hy “Ignatius” is. Hy hervertel Ignatius se lewe in ‘n twintig-eeuse konteks. Hy onthou dat hy God twee keer direk ervaar het (hy verwys na twee geleenthede in Ignatius se lewe). Hierdie ervaring het hom gedryf om met mense te praat oor God. Hy vier God se genade. Hy praat oor Jesus as die Gekruisigde en Opgestane Een wat mense vrygemaak het in God se vryheid.

Dit was nie ‘n ervaring waaroor hy allerhande slim teologiese dinge kan kwytraak nie. Dit was ook nie ‘n ontmoeting met sensasionele, buitengewone ekstatiese gawes nie. Hy het bloot net God ervaar, “die naamlose en ondeurgrondelike, stil en tog so naby.” Hy was by God, gewoon en direk het hy naby aan God gekom en dit het hom deurgrondelik getransformeer. Hy het nie geluister oor hoe mense praat oor God nie. Dit was nie ‘n mooi preek wat hom in sy hart gegryp het nie. Hy het God self beleef en dit het hom getransfomeer.

Hierdie stelling dat ‘n mens God ervaar het, kan heel mooi en onskuldig klink vir godsdienstige mense. Maar eintlik is dit skokkend. Want vandag praat ons nie eintlik meer so in die kerk nie. Ons sit in kerke en in Bybelstudie-groepe al pratende oor God sonder dat God by ons is. Die kerk het in baie opsigte selfs ‘n plek geword waar mense nie kan verduur om in stilte alleen by God te wees nie. Hulle hou van besig-wees, ons geniet die lekker aktiwiteite, die kerk lewe, dinge is aan die gebeur. Dit erediens weergalm onder die orkeste en die luidsprekers en die getuienisse en die gebede. Ons kuier lekker knus en geselling saam met ander gelowiges en vorm selgroepies waar ons mekaar se laste drae en saam vriende kan wees. In ons gedagtes is daar eintlik nie meer plek vir God, veral nie vir ‘n onbegryplike God wat al ons verstand te bowe gaan nie. Ons het God netjies in ons Bybelstudie-gidse verklaar en ons preke help ons om ons lewens met opwindende gebeurtenisse en aksies te vul.

Alles wat die kerk sê, skryf Rahner, die totale geestelike begeleiding van die mens deur die predikant, wil uiteindelik die aandag vestig op die onbegryplike, onpeilbare, genadige ontmoeting met God, die stile eenwording met en ervaring van God in ‘n atmosfeer van totale oorgawe en vertroue. Wat tel is dat God en die mens mekaar direk ontmoet, van aangesig tot aangesig teenoor mekaar staan. Dit is, skryf die katolieke teoloog, presies die bevrydende ervaring wat Luther ook gehad het – hierdie direkte ontmoeting met God en die kragtige uitstorting van God se groot genade in sy hart. Geen preek, geen Bybelstudie, geen huisbesoek nie. Alleen maar, iewers in die stilte van alleenheid hierdie oorweldigende besef: God het my in genade kom vrymaak en in God se vryheid opgeneem. Ek sal nie meer as ‘n slaaf van ander en van myself leef nie.

Los maar daardie teologiese slimmighede wat ‘n stortvloed van gedagtes, redenasies en woorde op ander aflaai. Vergeet maar van getrou wees aan die kerk en om die kerklike strukture te probeer beskerm. Help mense om verby die sigbare, uiterlike dinge te beweeg en om van behendige slimmighede te vergeet. Wys hulle op die onmoeting met God wat onmeetbare vreugde en liefde bring, nie net in hierdie desperate wêreld van ons nie, maar ook wanneer hulle op ‘n dag hulle koppe neerlê en die angs vir die dood hulle oorval. Waar die kerk dit doen, sal die kerk egte lewe ontdek, sal mense bevry word, vry van hul eie, onvervullende godsdiens, vry van leë, besige, ontrustige, haastige gejaag agter godsdiens aan en vry om in vreugdevol in God se oneindige, onbegryplike, onpeilbare, onmeetlike liefde te gaan rus. Dit is spiritualiteit. Hier is die Gees teenwoordig. Die Heilige Gees.

Monday, July 27, 2009

Navolging van Christus?

Een van ons gerekende teoloë sê ‘n paar jaar gelede in ‘n gesprek met my dat hy onvrede het met Thomas a Kempis se Navolging van Christus. Watter arrogansie, merk hy op, dat ‘n mens op navolging van Christus aanspraak kan maak. Hy, vermoed ek, dink steeds aan die Latynse titel van die boek, Imitatio Christi. Hy het waarskynlik gedink dat ‘n mens eerder ‘n volgeling van Christus moet wees, ‘n dissipel. Maar ‘n “nabootser” – dit kan nie, dit is niks anders as menslike hubris nie. Niemand kan dink om soos Christus te wees nie.

Hy is natuurlik reg.

Behalwe dat Thomas a Kempis sy beroemde boek, die mees geleesde boek, naas die Bybel, van alle tye, sekerlik nie so gesien het nie. Veral nie Thomas, met sy diepe aanvoeling vir die mens se afhanklikheid van God, nederigheid, verganklikheid en voorlopigheid.

Waar kom die misverstand in? Thomas begin sy boek met die aanhaling uit Johannes 8:12 (dit is al veelseggend dat die Bybel aan die begin van sy boek staan – die vertrekpunt daarvan vorm). “Wie my volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” Dit is woorde van die Here, skryf Thomas, wat ons maan hoe om sy lewe en optrede na te volg. Dit, voeg hy by, sal ons verlig in en bevry van ons blinde harte, ons verharde innerlike – waarmee hy na Markus 10:5 sinspeel. Laat ons hoofdoel wees om na te dink, te mediteer oor die lewe van Jesus Christus.

Wat vir sommige inderdaad ‘n bietjie arrogant kan klink.

Maar vir Thomas is ons nadenke oor Christus juis om ons harde, arrogante harte stukkend te breek. Ons kan die Bybel uit ons kop uit ken, skryf hy sonder dat ons ‘n stekie liefde in ons kan voel. n Mens kan allerhande slimmighede bedink. Jy kan ure oor berou praat, sonder dat jy ooit berou voel. Ons blinde, harde harte kan ons net agterlaat as ons deel word, konform raak aan Christus.

Ons bedink dus nie die lewe van Christus om uit te vind wat Christus dus alles so mooi gedoen het en nou doen ons dit ook agterna nie. Die lewe van Christus is ‘n lewe waarin God se krag aanwesig is. As ons Christus bedink, bring dit ons ook in God se teenwoordigheid. Ons kom agter dat ons niks kan doen om ‘n jota of ‘n titteljtie van ons lewe te verander nie.

Ons kyk na die lewe van Christus en ons sien ‘n goddelike liefde in Hom aan die werk. Dit raak ons, verander ons, maak ons nederig, laat ons smag om ook daardie liefde in ons eie lewens te ervaar. Ons sal alles prysgee, roem, eer, besittings – al die leeghede en ydelhede van ons bestaan, as ons net in die God se intieme liefde kan leef. Daarom, as ons Christus volg, ontdek ons dat God alles is, dat ‘n mens, soos Christus, jou eie lewe prysgee, as jy God se liefde as wins kan kry.

Wat tel, regtig tel, wat saak maak, is om in Christus se lewe, die goddelike teenwoordigheid te ervaar, daardeur oorweldig te word, meegesleur te raak deur die onstuitbare krag daarvan en te verlang dat alles in jou wat hierdie liefde terughou, stukkend gebreek sal word.

Wat ‘n ramp dat ‘n mens deur jou vooroordele oor een woordjie, die stortvloed van woorde oor God se liefdevolle teenwoordigheid in Christus kan miskyk! En dat ‘n mens daardeur jouself die voorreg ontsê om die Navolging van Christus te lees.

Sunday, July 26, 2009

Ons onvergeeflike foute. Oor die transformatiwe krag van transformasie.

Om foute te maak waaroor ons sleg voel, is ‘n alledaagse ervaring. Ons menslikheid beteken juis ons onvermoë om volmaak te wees.

Ons troos onsself dikwels met die volkswysheid dat almal foute maak. Die belangrikste is om uit ons foute te leer, dink ons.

Maar somtyds maak ons foute waarvoor ons onsself nie kan vergewe nie. Die foute gaan woon in ons diepste binne as etterende wonde waar hulle sweer en ons innerlik siek maak.

Ons worstel met ons verwyte - as ons tog maar nie... Het ons tog maar net daardie een woord nooit kwytgeraak, daardie een daad nooit gedoen nie... Hoe kon ek so iets oor my lippe kry, hoe kon ek dit aan iemand anders gedoen het?

Ons kan onsself nie vergewe vir wat gebeur het nie.

Ons kan liefdevolle mense wees wat ander lief het, selfs tot die punt dat ons hulle vir foute vergewe waarvoor ons onsself nie wil vergewe nie. Dit terwyl ons hard en onvergewensgesind oor onsself is.

Ons het ons naaste lief, maar ons faal in die eenvoudige opdrag om onsself lief te hê. Daarom word ons gevangenes van ons eie verlede, vasgketting deur ons foute, deur die negatiewe. Ons destruktiewe verlede breek ons verder af.

Die oplossing is eenvoudig dat ons onsself moet liefhê. Ons moet die wonde wat ons onsself toedien verpleeg en heel.

Ons moet leer om met liefde teenoor ons foute te handel. Ons moet onsself kan vergewe.

Ons kan dit doen deur eenvoudig bloot te aanvaar wat verskriklik verkeerd gegaan het, aan te gaan met ons lewe en die foute van die verlede agter te laat.

Of ons kan dit doen deur te aanvaar dat ons foute ons geestelike lewe in 'n bepaalde rigting gestuur het wat uiteindelik tot ons eie beswil was, dat ons foute ons laat besef het watter negatiewe kragte in ons kan werk en hoe versigtig ons moet lewe, naby aan God.

Om so ons foute te aanvaar en diep na te dink, te mediteer oor die skerp kante, die verkeerde, donker oomblikke in ons pelgrimsreis, kan terapeuties wees. Ons kan getransformeer word, genees word, juis deur ons foute, deur in te sien hoe die negatiewe ons nader bring aan God.

Maar daar is 'n dieper verborgenheid. As ons bedink hoe die diep wonde wat ons onsself toegedien het, ons eintlik in ons geestelike reis verander het, is dit al self weer 'n verdere stuk transformasie. Dit is 'n verborgenheid: ons bedink hoe ons foute ons lewe gestuur het. Maar jare later, as ons oor daardie nuwe rigting in ons geestelike reis nadink, gee dit opnuut weer rigting aan ons lewe. Ons beleefs iets msitieks: om te dink hoe ons verander het!Dit raak iets dieps in ons. En dit bring groter genesing.

Jy moet vir jou naaste lief wees, maar ook vir jouself.

Saturday, July 25, 2009

Die dodelike sleur van elke dag

Ons sleep ons dikwels deur die lewe. Ons sloof ons af, ons ploeter van oomblik tot oomblik. Die dodelike roetine, die neerdrukkende herhaling van gesukkel. Die innerlike moegheid. Die donker, dikwels, van depressie.

Hoe gemaak?

As die mistieke mens hierop antwoord: vind God in jou afslofende geploeter, beteken dit een ding. Dit is tyd om tot rus te kom. Dit is die regte oomblik om stil te word. Dit kan letterlik wees: om een kant toe te gaan, ‘n deur toe te maak, kop te buig en tot God te roep in vrede. Dit kan figuurlik wees, om vir jouself oor te gee aan God, net vir ‘n oomblik diep in jouself te sê: Here, neem hierdie afslofende lewe van my en heilig dit. Wees by my. Gee vir my innerlike vrede.

Dit sal nie altyd die gesloof en geploeter tot ‘n einde bring nie. Maar dit sal vir ons die rus en stilte laat vind waar God weer kom woon en ons hygende hart asem skep.

God is by ons, ook in die gesloer van elke dag.

Friday, July 24, 2009

"Ek is in 'n verhouding!"



Geskilder deur Cindy Davis: Bruid

Iemand skryf nou die dag iewers: ek het so gereeld vir die kerk gegee, soms selfs ‘n tiende, maar nou gaan ons firma bankrot en ek sien geen uitweg nie. Dit is harde woorde. En in ons godsdiens dink ons dikwels só: Ek gee sodat God weer aan my sal gee. Ons het ‘n kontrak met God waar die verpligtinge van die partye netjies uitgespel is.

Dit is ‘n mooi Bybelse boodskap dat God ons ryklik seën, ook materiëel. Maar Spiritualiteit wil ons dieper en verder neem, want wat saak maak in ons godsdiens is nie wat ons daaruit kry nie, maar om wie dit daarin gaan. God sluit nie met ons ‘n “kontrak” nie. ‘n Kontrak is ‘n koue, kontroleerbare afspraak op papier waarin verpligtinge tussen partye uitgespel word. So ‘n stel reëls bepaal dan wat tussen mense gebeur en hulle word absoluut daaran gebind. Dit gaan om regulasies, verpligtinge, eise en bindende afsprake “Jy presteer teenoor my en ek sal op my beurt weer teenoor jou presteer.”

Dieselfde afwyking gebeur wanneer ons ons godsdiens in terme van “ek glo die waarheid” en “jy is op ‘n dwaalspoor” beleef. Dan word godsdiens ‘n kwessie van feite wat ingeryg word. ‘n Mens kan baie, baie feite oor God opnoem sonder dat dit ‘n dotjie verskil aan jou lewe maak.

Ons godsdiens lyk anders. Dit gaan nie om ‘n kontrak of ‘n klomp feite nie, maar ‘n verhouding met God. Spiritualiteit gaan oor God wat met ons ‘n verhouding aanknoop. Ons vra nie vir gawes en gunste van God nie.

Ons vier ‘n verhouding wat God met ons aangeknoop het.

En hoe belangrik is verhouding nie! “Ek is verloof,” roep die jong vrou vrolik uit – haar lewe is nou vol vreugde. “Ek is ‘in ‘n verhouding’” is die nuwe ding wat ons trots oor onsself sê. Liewers arm, maar verliefd as ryk en eensaam, sou ‘n mens by wyse van spreke kan sê. God het na ons uitgereik, vir ons uit ons eensaamheid kom haal en vir ons die volheid van die liefde gegee. Ons is ‘in ‘n verhouding’ met God. Ons het die paradys-ervaring op ‘n ander vlak: soos twee mense in Eden aan mekaar gegee word, so gee God aan ons ‘n verhouding. In Bybelse taal: God maak ons tot bruid.

Uit hierdie verhouding kom dan toewyding, opoffering, dienswilligheid, gehoorsaamheid. Maar waar Iemand in jou hart woon, kom dit vanself. Dit is nie ‘n harde kontrak wat allerhande pligte en voordele uitspel nie. Dit is nie allerhande feite wat ek oor God kan afrits nie. Dit is ‘n verhouding wat in swaar tye ‘n mens laat oorleef, wat ‘n verskil aan my maak – wat my transformeer! Arm kan ons wees, sonder baie dinge, soms selfs sonder dierbares. Maar altyd in die Liefde, ingewortel in die goddelike Liefde, onskeibaar van die grootste van alle gawes.

Thursday, July 23, 2009

Om God se inwoning te ervaar

‘n Kunstenaar neem ‘n stukkie klei, sonder enige vorm. Net een groot slap bol. Hy bekyk dit, voel dit, brei dit, vorm dit en skep ‘n beeld daaruit. Die klei kan niks tot hierdie proses van transformasie bydrae nie. Dit moet maar net in die hande van die kunstenaar bly en toelaat dat dit gevorm word.

Spiritualiteit as geleefde geloof bring die mens om na te dink daaroor dat hy of sy ook só getransformeer is. In Jeremia 18 moet die profeet na die kunstenaar se huis gaan om te sien hoe hy ‘n kleipot maak. God stuur dan die boodskap: "soos klei is jy, Israel, in my hande."

Meister Eckhart (1260-1328) was een van die diepste mistieke denkers in die Christelike tradisie. Hy is bewus van ‘n oneindige afstand tussen God, die Verhewene en die Totaal Andere en die mensdom. Hoewel hy beklemtoon dat God ver bo ons verstand verhewe is en nie in ons taal vasgevang kan word nie, is hy ook bekend daarvoor dat hy ook weer kan praat oor hoe God met mense ‘n intieme verhouding aanknoop. Hy vertel dat daar iets in sy innerlike is wat hom heeltemal afhanklik maak van God. Diep binne-in hom weet hy dat niks of niemand so naby aan hom is soos God nie. Sy hele bestaan hang af van God se nabyheid en God se teenwoordigheid in sy lewe. Natuurlik, voeg hy toe, is God ook daar by ‘n klip en ‘n stuk hout. Maar ‘n klip en ‘n stuk hout is nie bewus van God se nabye teenwoordigheid nie. As hulle maar net dit sou weet, sou hulle gelukkiger as engele wees. Geluk, saligheid, vreugde, verwondering kom net by ons op as ons God se werke in ons lewe herken en vier.

Klippe en blokke weet nie dat God hulle omvorm nie. Mense met klipkoppe en houtharte weet dit ook nie. Trouens dit is hulle wat vir hulleself ook gode van klip en hout oprig. Dit is net wanneer ‘n mens God met jou hoor praat, dat dit tot jou deurdring. Dit gebeur net wanneer 'n mens God toelaat om met jou te praat! Jy kan die transformasie in jou lewe nie uit jou eie bewerk of dit selfs ontdek nie. Dit moet by jou tuisgebring word. Jy moet terugsit, diep nadink, oordink, toelaat dat jy ontdek, dat God vernuwend in jou lewe wil werk. Saggies praat God hieroor: luister, hoor, gee aandag: jy word nuut, vrede kom lê in jou hart, liefde kom woon in jou midde as jy maar net jou Maker, jou Formeerder raaksien.

‘n Vaste deel van Spiritualiteit is transformasie. Maar dit kan ‘n dooie letter en 'n vlak woordjie bly totdat ons daarvan bewus raak, dit deel van ons maak, dit in ons opneem en dit ervaar.

Wanneer dit tot ons deurdring, vind die groot konneksie plaas en die stroom van vernuwing word in ons lewens ingeskok.

Iewers is dit lewensnoodsaaklik dat God se vormende werk in ons lewens tot ons deurdring.


Dink aan jou Skepper in die dae van.... En dink daaraan jou Skepper het jou gevorm, lank voor jou geboorte. Soos 'n pottebakker die klei....

Wednesday, July 22, 2009

God vernuwe lank voor ons besef. Oor Spiritualiteit, transformasie en bekering.

Ons reis graag omdat dit ons opgewonde maak. Ons ervaar nuwe dinge. Dit verruim en verryk ons. Ons tel oneindig baie dinge op waaroor ons nie uitgepraat kan raak nie. Ons reiservarings kan ‘n lewe lank by ons bly.

Ek luister nou die dag vir ‘n stukkie na ‘n radioprogram waarin mense aanmekaar kla omdat die predikers in outydse taal praat. Iemand kla oor die woord barmhartigheid. Dit is outyds en konnekteer nie meer nie. Sou ontferming beter wees? Of goedheid?

As iemand sy mond oopmaak, verraai hy of sy dadelik wie hy is. Taal gee jou weg. Dit vertel al jou geheime. Daarom is dit sekerlik belangrik hóé ons oor die geestelike reis praat.

Maar dit gaan nie net oor outydse woorde wat ons gebruik nie.

Ewe belangrik is ook die inhoude van ons getuienis. In nuwe tye moet ons die ou dinge op ‘n nuwe manier kan oorvertel. Of ons ontdek heel verras dat die ou dinge baie wonderlike aspekte het wat ons net nog nooit raakgesien het nie.

Die geestelike reis gaan oor vernuwing. “Transformasie” is ‘n kernwoord in spiritualiteit. Ons ervaar nuwe dinge, wat ons verruim en verryk. Ons kan nie uitgepraat raak oor ons ervaringe. Hierdie “vernuwing” word dikwels in die kerk met die woordjie “bekering” aangebied. Jy moet jou “sonde” bely en die Here Jesus as jou “persoonlike saligmaker” aanneem.

Maar vernuwing of bekering het baie ander gesigte. Verras ontdek 'n mens dat ons vernuwing 'n baie dieper begrip is as wat ons ooit kan droom.

Ons praat dikwels oor God as Skepper, maar as ons daaroor begin nadink sit daar in die skepping reeds transformasie en omvorming. In Psalm 139:13-16 word dit pragtig uiteengesit: Die Psalmdigter vertel hoedat God hom “gevorm” en “aanmekaargeweef” het toe hy nog in die skoot van sy ma was (vers 13). Toe niemand hom kon sien nie, het God hom al gesien, maar meer nog, vir hom vorm gegee, soos 'n mens aan 'n doek vorm gee met verf en 'n kwas (vers 15-16). En dit bring hom in verwondering voor God.

Vir die gelowige begin die geestelike reis dus lank, lank terug. Daar waar God ‘n mens in jou ongebore staat raaksien, bedink hoe jy gaan lyk, vir jou laat gebore word en met jou lewe ‘n doel het (al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is! – vers 16), daar is jou geestelike reis al aan die gang en tree God met jou in ‘n verhouding. Lank voordat ‘n mens tot bekering kom, raak God jou al aan en vorm jou vormlose toestand om soos iemand wat ‘n borduurstuk aanmekaar weef (Ps. 139:13!)

Die geloofstaal praat van God wat intens betrokke is by die wording van die mens, van die eerste moment van sy lewe af. Dinge begin nie by jou geboorte nie – die geboorte is maar net ‘n verdere moment in jou geestelike reis. God doen met ‘n mens waarvan Jesaja 46:11 praat: “Ek het dit beplan en Ek sal dit doen.” God het die mens beplan, die mens gevorm, die mens laat ontstaan. Van voor ons geboorte af is ons opgeneem in ‘n goddelike handeling. Ons is geskape in heerlikheid!


Om na verre lande te reis, maak ons lewe interessant en nuut. Ons geestelike reis saam met God is net so nuut en spesiaal. Maar wat ons nog meer verwonder is hoedat God met ons op reis gaan lank voordat ons dit besef. Ons is begenadigd, want God raak ons aan terwyl ons nog skaars bestaan. Lank voordat ons dit kon sien, was God al op reis met ons.


Ons spog so dikwels stilletjies oor ons bekering as ons groot transformasie. Maar lank voordat ons tot bekering kon kom, was God al besig om ons te transformeer. Alles wat met ons gebeur en wat ons nuut maak, is daarom, in die ou kerklike taal, pure, pure genade. Was dit nie vir God nie, het ons nooit nuut geword nie. Ons het dit nie in ons nie. Selfs ons bekering kom van God af. Dit is 'n goddelike aanraking wat ons nuut maak. Ons kan nie daaroor spog nie. Ons kan maar net soos die Psalmdigter in verwondering staan: my bekering is een dotjie op die lang, lang pad van God se omvorming van my lewe.

Tuesday, July 21, 2009

Wanneer 'n mens nie meer mens is nie. Die wrede gesig van haat.






Ek kom op die internet op die foto’s en die verslag oor die aanvalle op die Mumbai hotelle vroeër vanjaar toe verskeie jong mans uit Pakistan uitgestuur is deur hulle hanteerders om soveel as moontlik mense dood te skiet. Die berig oor die aanval is verstommend en bevat inligting wat nog nie bekend gemaak is nie.

Kyk by die volgende link:
http://link.brightcove.com/services/player/bcpid1184614595?bctid=27874456001


Die oorlewende jong man, tans in die hof, vertel dat hy wou ryk word. Sy pa het hom aangespoor om te gaan deel neem. Dan sou hulle nie meer swaar kry nie. Terselfdertyd het sy hanteerders vir hom en sy vriende vertel dat hulle moet sorg dat hulle in die aanvalle sterf en dan sal God hulle martelaarskap beloon deur hulle in die hemel op te neem.


Hulle loop deur die hotel, verstom oor die weelde wat hulle daar sien. “Kyk, hier is televisie skerms van 30 cm” roep een uit. Hulle vergeet skoon dat hulle mense moet doodskiet. Die hanteerders moet hulle oor die radio aanspoor om met hul vernietigingstaak te begin.


Hulle val ook ‘n Joodse sentrum aan. Hulle skiet die rabbi en sy verwagtende vrou dood en neem 2 mense as gyselaars. Later gee hulle onderhandelaars vir hulle opdrag om die gyselaars dood te skiet. “Wat, moet ons hulle doodskiet?” vra een. “Draai hulle om en skiet hulle agter die kop” antwoord die hanteerder, koelbloedig, koud, meedoënloos.

Kan armoede en gulsigheid mense so koelbloedig maak, so meedoënloos soos masjiene? Kan mense ander oplei en in die veiligheid van hulle huise vir hulle opdrag gee om soveel as moontlik te moor en skade aan te rig? Juis hieroor bly 'n ander foto oor die aanval by my spook: Dit is van die klein seuntjie van die rabbi wat doodgeskiet is wat wonderbaarlik deur sy duidelik brandarm en verwaarloosde nanny gered is. Die film wys hulle in ‘n kamer waar sy die seuntjie, wat heeltemal getroos op haar arm sit, by haar hou. Die pa en die verwagtende ma is koelbloedig vermoor, maar sy het die seuntjie gegryp en gered. Hierdie seuntjie se lewe is gespaar deur ‘n vrou wat ook uit uiterste armoede kom. Sy, duidelik getraumatiseerd, hou hom beskermend vas. Sy het 'n gesig van iemand wat egte menslikheid uitstraal, ten spyte van armoede en van eenvoud.

Die ander foto wat my bybly is van die Italiaanse chef wat veilig uit die hotel vlug. Hy hou sy eie seuntjie vas. As 'n mens die foto kyk, sou jy dink dit is doodgewoon van 'n pa wat sy seun vashou. Maar as jy na die omstander kyk, sien jy die skok op hulle gesigte. Dan besef jy die drama van wat hier aangaan en die wonderbaarlike ontkoming van die twee mense.





Hoe dierlik die mens wat sy menslikheid verloor. En tot watter verskrikking is sulke mense nie in staat nie.

En intussen sit daardie hanteerders veilig en behaaglik in hul stoele terug. Tevrede omdat die hele wêreld die bes gedokumenteerde aanval ooit op hul rekenaars en televisies van sekonde tot sekonde kon dophou en nog baie jare daarna. Oral was daar kameras wat hierdie groep mans duim vir duim afgeneem het soos hulle op verskillende plekke geloop het om hul verwoesting aan te rig.

Hulle het vir die wêreld die egte gesig van haat en wreedheid gewys. Vir hulle was dit ‘n oorwinning. Hulle het hul saak gewen, glo hulle. Hulle God juig saam met hulle, dink hulle. En hulle glo waarskynlik werklik dat ‘n groepie jong mans in die hemel rondloop, beloon vir hul wreedheid en mense-slagting.

Dit gebeur wanneer 'n mens jou menslikheid verloor en wanneer haat jou binneste opvreet. Uiteindelik is jy die grootste slagoffer van jou eie wrewel.

Monday, July 20, 2009

Wat sê die Bybel self oor spiritualiteit?

Ons kan op allerhande maniere probeer om sinvol oor ons geestelike reis te praat. Soms doen ons dit met abstrakte woorde, soos “spiritualiteit” of soms gebruik ons die woord “mistiek.” Hierdie is twee moderne woorde waarmee ons baie ou insigte probeer verduidelik en verstaanbaar maak.

Die Bybel self help ons soms nogal baie om ons geestelike reis helder te begryp. Die Bybel vertel heel eenvoudig dat God vir ons lief het en ‘n verhouding met ons wil aanknoop. Maar wee jou as God jou hart aanraak. Dit skroei jou en God gryp jou om jou nooit te laat los nie. Iets verander vir altyd in jou en jou lewe loop nou ‘n nuwe koers in.

‘n Mens kan heel vroom hieroor praat, maar dit is iets anders wanneer hierdie verhouding met God beleef word. Dikwels word van ‘n ekstatiese belewenis gepraat. Daarmee word bedoel dat ‘n mens besef jy word deel van ‘n ruimte van liefde wat jou lewe vul en vir jou met nuwe oë na alles rondom jou laat kyk. Jy beleef jou self, ander en die wêreld op ‘n nuwe, vars manier en soos jy nooit gedink het moontlik is nie.

Die Bybel praat baie eenvoudig met ons oor wat hierdie liefdesverhouding beteken.

Eerstens is hierdie liefdesverhouding in Bybelse taal gelaai met eerbied, ontsag en selfs met vrees. Wanneer Paulus op ‘n dag deur God aangeraak word, val hy in eerbied neer voor dit wat met hom gebeur. Dit is ongewoon, veblindend en vreeswekkend vreemd. Dit maak mens huiwerig, ons word geboei, ons vrees selfs, ons word op ‘n onverklaarbare, vreemde manier in ons hart aangeraak. Ons kan nie verklaar wat met ons gebeur nie. Dit is vir ons ‘n skok. En tog ontdek ons dat ons deur hierdie vreemde ervaring ongelooflik gelukkig word. Ons word, byna soos ‘n vlieg by ‘n kers, nader getrek aan iets wat vir ons oorweldig in grootheid. Hier begin iets groots in my lewe. Paulus wat verblind op die grond neerval, gaan bid in Reguitstraat en word dan die een wat met passie die boodskap uitdra.

Tweedens word ons oorweldig deur ‘n gevoel van onwaardigheid. Wat ons ervaar, is so mooi, so oorrompelend, dat ons nie kan glo dat ons soveel skoonheid kan ervaar nie. Dit is soos om met ‘n modderlyf voor in die kerk langs die mooiste van bruide te staan om met haar te trou. Hoe kan ek dit doen terwyl ek so lyk soos ek lyk? Hier word ek uit die modderslyk van onheiligheid opgetrek en in ‘n ruimte van totale skoonheid opgeneem. Ek is by die heilige God en ek word deur God se heiligheid skoon gebrand. Wat ons ervaar is dus spesiaal, anders, uitsonderlik. As ons deur hierdie ervaring van heiligheid aangeraak word, wil ons liewers nie eers oor onsself dink nie.

Derdens gaan dit in spiritualiteit volgens die Bybel om God se goedheid. Hier waar ek voor God is, is sagtheid, teerheid, ontferming. Ek staan in verwondering en bewondering by ‘n God wat gaaf is teenoor my en wat oneindige goedheid oor my uitstort. Iemand gee vir my om. Daar word na my uitgereik. Ek ontvang oorvloediglik alles waarna ek verlang en wat ek nodig het. Paulus die moordenaar van mense word nie vernietig nie, maar deur God se goedheid oorweldig.

En uiteindelik gaan dit in spiritualiteit volgens die Bybel om volmaaktheid. Wanneer God my aanraak, wil ek soos God word. Ek beur vorentoe na ‘n tyd dat ek die beeld van God in my lewe kan wys. En ek begin dan ‘n reis waarin ek na volmaaktheid soek. Wanneer God my lewenspad kruis, word die saad in my gesaai wat moet uitblom tot die volle oes. Ek kyk met verbasing na myself en wat met my aan die gebeur is. Daar kom iets in my los wat my laat verlang om al die pad saam met God te loop, oor berge en dale, oor pieke, kruine, valleie en dale, om net by God te kan wees en eendag in volmaaktheid by God te kan bly. Ek wil nie meer wees wat ek was nie.

Wat my opval in hierdie Bybelse kernwoorde is die manier waarop God uitgebeeld word. Hoewel God so anders en so heilig is, hoewel ek in ontsag voor God staan, is dit iets verborge. Ek word deur God aangetrek. Dit is vir my goed om by God te wees. Dit is geen angs vir God nie. Ek is by die bron van die lewe, by die een wat volmaak is. En dat God kan uitreik en vir mens in ‘n verhouding kan opneem.... Hoe bevoorreg is ons nie.

Spiritualiteit vertel van die werking van die Gees, die Heilige Gees wat soos vlammende vuur oor my uitgestort word, maar wat diep in my kom nestel en my skoonbrand van alle donkerte wat die liefde uitdryf. Dit is goed om by God te wees.

Sunday, July 19, 2009

Is die mistiek wêreldvreemd?



Die film "Into Great Silence" geen 'n boeiende insig in 'n streng (Kartuisiese) orde in Frankryk wat in totale stilte leef. Miljoene mense oor die aarde heen het hierdie film gaan kyk.

Die mistieke lewe is veral ook bekend vir die monastieke bewegings. As ‘n mens daarvan praat, is die eerste ding wat by jou opkom dat die monnike eensaamheid opsoek, na stilte verlang en die lectio divina, of te wel die geestelike lees van die Bybel volg. Hulle lees so veel as wat hulle kan. Van die monastici sal byvoorbeeld twee of drie keer in die middel van die nag bymekaar kom om die Bybel te lees en te bedink. ‘n Mens kan die monastieke tradisie nie voorstel sonder die Bybel nie. Hulle lewe is ingestel daarop. Later sou hulle die lees van die Bybel met die sing van die Bybel aanvul. Met die sing van die Bybel resoneer die teks nog dieper in jou en word dit dieper deel van jou bestaan.

Hulle nadenke en meditasie oor die Bybel is nie 'n doel op sigself nie. Die nadenke en deurdink van die Bybel moet lei tot iets diepers, tot kontemplasie. Die aanskouing van God, die ervaring van God se nabyheid is wat vir hulle tel. Die mens moet uiteindelik in eenheid met God geniet om in God se teenwoordigheid te wees. Dit is nie juis ‘n sensasionele lewe wat op die mistici in die kloosters gewag het nie. Om die waarheid te sê, dit is ‘n lewe van eenvoud, van die absolute minimum, van nagte in lees en bid, van 'n sober leefstyl, van onbekendheid, opoffering, ontbering. Die monastieke lewe soek bewustelik daarna om die liefdesgawe van God te beleef eerder as 'n aangename rustydjie weg van alles te beleef. Wat saak maak vir hulle is om die teenwoordigheid van God in die aardse bestaan te ervaar, nie om die aardse bestaan te bekyk en te geniet nie.

Een van die groot name in die mistiek is die van Benedikctus van Nursia wat van 480-547 lewe. Die Benediktyns spiritualiteit kan na hom teruggevoer word. Hierdie Benediktynse spiritualiteit fokus op die Bybel en rig die lewe volgens die Evangelies in. Benediktus het ‘n harde lewe van askese gevoer toe hy drie jaar lank in ‘n grot gaan bly het. Dit was so kwaai dat die monnikke van ‘n klooster naby die grot wat hom uitgenooi het om hulle leier te word, naderhand probeer om hom gif in te gee omdat hy te streng na hulle sin geleef het. Vir hom was dit belangrik dat ‘n mens ‘n lewe van nederigheid voer. Iemand kan alleen met sy hele hart na God soek as hy hom ten volle toewy aan geestelike diens en bereid is om geduldig swaar te kry en te ly. Maar, leer hy verder, die mens vind God alleen in ‘n opregte verhouding met mense. Familie, vriende, vreemdelinge, armes en verstotenes is waar ‘n mens God sal beleef. ‘n Mens moet los kom van aardse goed en jou liggaam inspan om God te dien. Jy is intens bewus van jou eie gebreke. Jy leer af om ander te veroordeel en selfs te beoordeel. Nederigheid, maar ook terughoudendheid is wat werklik saak maak. ‘n Mens ontdek dikwels deur pyn heen God se genadige teenwoordigheid en in jou borrel daar ‘n verlang op dat ander mense hierdie genade saam met jou sal deel.

Op die manier kom 'n mens tog weer terug aarde toe, na jou mense, jou familie, almal wat die wêreld as woonplek met jou deel. Jy het God gevind en jy wil opnuut God saam met almal om jou vind.

Hoe dieper ‘n mens dus in stilte terugval op meditasie en nadenke oor God, hoe meer ‘n mens alle tye van die dag die Bybel lees en leer, hoe nader kom ‘n mens aan ander mense en hoe sagter word jy teenoor ander.

Baie keer dink ‘n mens oor die monnikke as mense wat uit die wêreld gevlug het. En dit is seker so. Maar hulle het uit die wêreld padgegee om naby aan God te kom en om dan deur God weer teruggestuur te word. Ons praat dikwels oor die mistici as Maria – mense. Ouens wat aan Jesus se voete sit, wêreldvreemd, gevlug uit die hitte van die kombuis. Ons dink aan onsself as Marta – mense. Ons wil ‘n verskil aan die wêreld maak. Ons is aksie-mense, nie kontemplasie-mense nie.

Wat ‘n vrotterige teenstelling is. Want die mistici word passie-vol met ander mense in liefde verbind vanuit hul liefde vir God. Hulle begin op ‘n ander plek as die rondhol-Christene met hul geestelike reis. Maar hul geestelike reis is nooit selfsugtig, op hulle self gerig, gefokus op hul eie geestelike behoeftes nie. Dit is juis ‘n reis waarin die self afgelê word, verloën word en afgesterwe raak. Van die groot mistici was daarom ook dikwels sterk betrokke by die vraagstukke van hul dag.

Miskien is dit dalk meer as ooit tevore tyd dat ons die stilte moet invlug om naby aan God te kom.

Saturday, July 18, 2009

Sport en die lewe




Ons deel graag ons lewe in kompartemente op. Maandae is blou, want dit is werk toe en die week se sake moet beplan word. So hou dit aan tot Vrydae. Dan begin die uitspan-tyd. Kantoor-deur agter jou toe en die naweek wat wag. Saterdae voordag klim jy op jou fiets en jy ry kilometers saam met jou pelle. Dis lyfdag, oefentyd. Smiddag rugby kyk. En Saterdag-aand braaivleis met dalk ‘n fliek of DVD.

Sondag moet jy jou siel versorg. Tyd om jou in te stel op die dieper dinge. Saam met die familie in die kerkbank inskuif, sing, bid, luister, kollekte en sommer net die innerlike voed. Soms goed, soms vervelig, soms opheffend, maar nie te mis nie.


Maar ons kan dinge ook nie altyd so netjies in blokke indeel nie. 'n Mens kan by die werk of op die sportveld groot lewenslesse leer of jouself deeglik op die lewe voorberei of inoefen.

Neem nou maar muurbal as sport. Dit is ‘n wedstryd vir die vinniges. Jy moet in ‘n oogwink, ‘n breukdeel van ‘n sekonde ‘n bal wat op jou afskiet kan raaksien, opsom, raakslaan en stuur. In ‘n milli-sekonde moet jy besluit jy gaan die bal teen die muur afstuur, volgens die reëls van die spel, agter in die hoek. Want hoe nader aan die muur en hoe verder agter in die hoek, hoe moeiliker kan jou teenstander die bal terugslaan, laat staan nog ordentlik plaas. Of as jy sien jou teenstander is nie flink nie en staan in die middel rond of agterlangs, laat val jy die balletjie met ‘n sakhoutjie dat hy net bo die voorkantste rooi lyn raak en grond toe drop. Dit is die drop-houtjie - daardie sagte hou wat jou teentanders op sy agtervoete vang. Dus in muurbal moet jy, soos in die lewe, vinnig en vooruit kan dink, jou instel op alle moontlikhede en so afgerond as moontlik speel.


Muurbal is die geduldspel, die uithou-spel, konsentrasie, nie moed opgee nie, vasbyt.

Dikwels as ek myself dwing om geduldig volgens die filosofie van die spel te speel, dink ek terwyl ek op die baan hardloop: hier leer ek nou wat die lewe is. Hier leer ek om wakker te wees, flink te reageer, dinge te bedink voordat ek reageer of doen. Hier, meer as enige plek anders, leer ek ek moet versigtig speel, ek moet steeds onthou ek dra die gevolge van my besluite. Dus moet ek reg besluit. Moenie dinge probeer regfoeter nie. Speel volgens die reëls. Uitoorlê jou teenstander in terme van die spel.

En, iewers, as die nood dreig, moet jy maar waag. In muurbal het jy so ‘n wegsteek-houtjie. Jy staan en wag vir die bal, hou dit fyn, baie fyn dop, met jou ander oog, verkleurmannetjie-agtig, beloer jy jou opponent. Jy kyk hoe hy hom regmaak om te hardloop na waar hy dink jy die balletjie gaan stuur. En jy wag want jy weet hy kan nie te lank terughou nie. Sodra jy sien hy begin byvoorbeeld regs verby jou hardloop, knik jy die balletjie met so ‘n deftige swaaihoutjie weg van hom na die ander kant – op die allerlaaste oomblik wat jy dit kan speel. Hy hol regs en jy slaan links. Mooi om te sien hoe jy hom verras. Nog mooier is die uitdrukking op sy gesig.

Een van die grootste van groot muurbalspelers, Geoff Hunt, was in die sewentigerjare op Stellenbosch vir ‘n vertoonwedstryd en vir ‘n gesprek oor die spel. Korterige mannetjie, kordaat, egte groot speler, ‘n ware sportman, ryp en getoeë in denke. Hy moes al steil lere klim op bo-uit te kom. En die lewenservaring het oral by hom uitgestraal.

Daar kom tyd, sê Geoff Hunt nadat hy met ons al die kunsies van die spel gedeel het, daar kom dae dat jy die perfekte wedstryd speel, valhoue en muurhoue en deftige kaphoutjies. En dinge werk nie uit nie. Dan, sê hy, moet jy maar die game so bietjie rek. Die reëls moet gebuig word. Wat jy dan doen is om “per ongeluk” jou teenstanders tussen sy blaaie met die balletjie raak te slaan. Hard genoeg om sy konsentrasie te breek. Ontsenu jou teenstander. Of jy gee nie vir hom die bal aan as hy moet dien nie. Jy skop dit vir hom vloerlangs aan dat hy hom vervies. Werk sielkundig sy sake. Hy vertel dit natuurlik so bietjie met sy tong in sy kies.

Ons leer op die sprotveld dinge van groot waarde vir ons geestelike reis. ‘n Mens moet ystere self-dissipline hê wanneer jy jou vir iets inlaat. Toegewyd tot bloedsweet toe, ure oefen, goeie toerusting hê, jou teenstander opsom, die wedstryd volgens die spelreëls speel.

Die interessante is dat dit wat net ‘n “spel” is, maar wat ons met soveel erns speel, ons voorberei vir die belangriker lewensdinge – vir die groot uitdagings om in die werk uit te haal en te wys. Kinders leer deur sport om ook in die skool en by die huis volgens die reëls te speel. So af en toe wil jy die reëls bietjie strek, maar nooit kan jy teen die reëls speel nie.







Ons geestelike reis werk ook so. Om met God op pad te wees, is ‘n lang proses. Soms wag sweet en bloed op ons. Daar is die tye dat ‘n mens die reëls moet leer ken, deurwerk, onthou en toepas. Die Woorde van wysheid jou eie maak en opnuut kies om daarvolgens te speel.

Daar is die goeie tyd, die glanstye, die opgewonde gebruis van duisendes in die stadium. Jy leef naby aan die Here. Dinge kan nie beter wees nie. Jy seil in lieflike weer. Soms is daar ‘n sierlike valhoutjie, ‘n dodelike effektiewe muurhou, soms die duikslag, ver deur die lug, terwyl die toeskouers soos een man opspring. Ons geestelike lewe gaan deur die valleie, maar soms klim ons ook die kruine.

Ander kere kyk jy in die gesig van ‘n woedende of ‘n gevaarlike teenstander wat lyk soos ‘n brullende leeu. Dan vra dit fyndink, selfbeheersing, versigtig speel, pypkan deur die reëls, deur toewyding, deur die regte Gees, deur vas te byt. Dit is tye dat ons bly speel terwyl ons vasbyt, kreun, kortasem is, moeg word.

Dit kan natuurlik ook presies andersom werk: soms is hulle wat in die Gees leef, die mense wat sport vir jou mooi maak, wat by jou bewondering oproep, vir wie jy respek het – nie net omdat hulle goeie sportmanne is nie, maar ook omdat hulle taai is, reg loop, vasbyt, humor het, kanse vat, maar altyd in eerbied vir dit waarmee hulle besig is. Hulle getuienis is kosbaar. Die manier waarop hulle hul sport speel, dwing ons bewondering af. Ons sien in hulle iets diepers raak as net hoe hulle aan die sport deelneem.


Ons dink ons kan ons lewe in kompartemente opdeel, maar dit werk nie so nie. Wat ons Saterdae in die wedstryd en Dinsdagaaande in die oefening doen, het 'n invloed op wat ons ander dae doen. Net so kan ons inskuif in die kerkbank op 'n Sondag vir ons 'n geestelike verryking bring wat van ons beter spelers maak.

Friday, July 17, 2009

Die soekers maak die soektog mooi.... Oor die mistiek van die aarde....



Kerk in Vosburg in die Karoo. Kyk die swewers in die lug!

Die Kyknet program, “Boer soek vrou” begin sy tweede reeks. Die eerste program het die land in vervoering gehad. Vanaand besef ‘n mens opnuut waarom dit so gewild was as jy kyk na die inleidende program oor die tien boere van oor die hele land wat vir die volgende maande groot aandag met hul liefdesafari gaan trek.

Ek kyk só na hierdie boer-kinders en dink by myselwers dat ek glad nie sal omgee as een van hulle my skoonseun sou wou word nie. Watter indrukwekkende mense is nie op ons plase aan die boer nie! Dit is lekker om te hoor hoe hulle praat oor hul boerdery. Daar word duidelik gewerk op die plase, hard gewerk. Boer het nie tyd vir twak of kleilat gooi nie. En daar word kundig gewerk. Die beeste en vee is spekvet, uitsoek diere, goed versorg en pragtig, pragtig op die oog. Die boere laat glip allerhande indrukwekkende uitheemse name van die beesrasse sommer so losweg van hulle tong af – so asof hulle oor laas week se rugby praat. En daar is groot, blink trekkers op die werf. Duidelik nie die ou dae se poer-poer slepertjies van ploeë nie. Die dae van dinky toys is verby. Hier praat ons van bulle van trekkers met allerhande tegnologiese blou linte op hul borste. Hulle blink en hulle beïndruk. Ek dink, daardie girls wat op die plase opdaag moet liewers nie die trekkers sien nie. ‘n Man wil mos nou nie dat iemand jou vat oor jou perd of jou trekker nie. Laat my dink oor my gasheer op Prieska wat vertel sy paar miljoen rand stroper hardloop op sy eie deur die oes, gestuur deur ‘n rekenaar en ‘n satelliet-navigasie sisteem. En al wat die een werker in die stuurkajuit min of meer doen is om te kyk dat die liggies brand. Broer masjien sorg vir homself.

En die boere praat die mooiste Afrikaans, is mense wat soek na die ideale dinge en wat duidelik vol romantiese afwagting is op die vroulike weergawe van die ridder op die perd wat die werf sal inry en liefde bring waar daar groot ruimtes daarvoor ingerig is. Dis uitsoek-mense op hierdie program. Hulle weet wat hulle wil hê.

Solidariteit moet die program stuur aan elkeen wat uit Suid-Afrika geëmigreer het as hulle ons mense wil terugbring na hul land toe. Ek is breëbors oor die mense van my land en oor die Afrikaansheid wat met so ‘n mooi gesig in die program uitgebeeld word.

Toevallig is die Amerikaanse program, Bachelorette waarin ‘n terterige meisie met geverfde lippe en geplukte broue iemand uit ‘n klomp terterige, kreatien-gelaaide Amerikaanse mans moet soek, net langs Kyknet se kanaal aan die gang. Gelukkig hoef ‘n mens net tydens die advertensie-gleuwe daarna te kyk. Wat ‘n kontras is die boerseuns van die volk nie teenoor die Amerikaans glitz en bling nie.

Ek het dus ‘n lekker aandjie gehad, ‘n goeie beloning op ‘n artikel wat ek vandag klaar geskryf het. Nogal oor die liefde in Filemon.


Ek onthou, terwyl ek so kyk, hoe ek altyd graag by die boere gaan kuier het en huisbesoek gedoen het. Daar is iets aantrekliks aan mense wat met die aarde werk, in die sweet van hul aanskyn. Dit kom vir my die mooiste vanaand uit in die jong boer, skaars dertig jaar oud, wat met die wysheid van afhanklikheid en ontbering, vertel hoedat hy elke oggend vroeg opstaan en buite toe gaan. Die eerste ding wat hy dan doen is om te kyk hoe die wind waai. “My dag is sommer mooi as die wind reg waai. Want dan weet ek die reën is aan die kom.” Weerloos voor die weer. Dankbaar as die elemente seën bring. Afwagting op die goeie. Opwinding oor die lafenis en die uitkoms. Die aarde hou jou voete plat op die grond.

“Ja,” sê die ander een, “daar is wel tye wat ‘n mens swaarkry. Maar jy doen maar jou deel. Jy werk hard. Gee jou helfte. En dan weet jy die ander helfte sal kom. Van bo-af”, voeg hy spontaan, natuurlik by. En dit word ‘n refrein, hierdie geestelike instelling (“sy moet my waardes deel,” “sy moet gelowig wees”). Jou hart reik uit na hierdie mense. Jy weet van die groot druk, die politieke spanninge. Jy weet hoe die landbouers die toekoms van die wêreld in hulle hande hou. Hulle moet ‘n ontploffende wêreldbevolking kos gee. En daarom, oor al hierdie dinge, gun jy hulle die liefde, die geselskap, die ideale maat waarna hulle verlang. Maar jy gun dit ook aan hulle omdat hulle sulke mense is.

Dis mense wat soek na liefde, na gesels, na goeie tye saam. “Wat op aarde kan jy hier in die uithoeke van die aarde, weg van nêrens doen vir ‘n meisie?,” vra die mooie Elma Postma, vroeër van Sewende Laan se blink Stefaans-familie. Boer dink na. “Ek sal my bottel wyn wat ek self gemaak het, in ‘n piekniekmandjie pak, saam met haar na die rivier gaan en by die dadelbome kuier en net lekker, lekker gesels.” Dit plekke is ver, die ruimtes is groot, die son is genadeloos, die elemente doen hul eie ding. En op hierdie woelige aarde, wat oor ons heers, kry hulle ‘n holte vir hulle voet. Mense wat so na an die natuur leef, kry iets van die aardse skoonheid in hulle bloed.

Watter ongelooflike land is dit nie wat ons van Bo gekry het nie en watter mense het hierdie land en ons taal en ons kultuur en ons godsdiens nie opgelewer nie. Ek kry pure nostalgie na ons winterreis verlede Junie deur die Karoo. Carnarvon toe, waar my oupa op ‘n plaas groot geword het. Loxton toe, daarna ‘n tydjie in Prieska. Die land is wyd, bar, groot, oneindig. En die mense is indrukwekkend. Laat my dink aan ons gesegde, “So wyd soos die Heer se genade...” Die land en die geestelikheid. Vermengd en verenig.

Wat my laat dink aan die aand toe ons naby Hanover op ‘n plaas oornag en ‘n plaasete met die boer-familie deel. Die boer het met olywe begin boer. Maar op ‘n hoogs wetenskaplike manier word die dinge beplan. Hier word nie net geboer nie. Hy is ‘n man wat opgelei is en wat met ‘n besigheidsin en vernuf sy ding doen in die groot, bar Karoo. En sy vrou, wat in Bloemfontein grootgeword het en haar beeldende kunste daar gestudeer het, ‘n volledige stadsmens, woon nou in hierdie niks by nêrens plek. In die eetkamer is daar ‘n beeld van ‘n vrou wat op haar rug lê en die lug in staar. Maar die beeld se voete is heeltemal uit proporsie te groot. Ek vra haar terwyl ons aansit daarna. En sy vertel dat sy vir jare op die plaas met ‘n ontstuimige gemoed rondgeloop het. Moeilik om aan te pas by die afstande en die afgeleë leefstyl. En toe het sy eendat in die veld ingestap en op haar rug gaan lê, net hemel toe gestaar. En terwyl sy daar lê het daar ‘n stilte in haar kom lê toe die besef by haar insink dat sy nou daar, in die oop vlaktes, wortel geskiet het. Sy leef nou met albei haar voete plat op die Karoo-aarde. Dit was haar oomblik van waarheid, van omkeer, van tuis-koms, van nes-skop.





‘n Ekstatiese oomblik. En sy giet daardie oomblik vas in ‘n beeld van ‘n vrou met groot voete, plat op die aarde. Om haar te herinner aan die mistiek van ons bestaan. Ons kan waar wees, op watter eensaam plek, hoe bar en hard ook al. Maar ons kan tog daar wortelskiet. Want wat saak maak is wat ons van die plek maak, nie wat die plek aan ons doen nie.

Ons is almal soekers. Die jong boere, soekers na liefde. Die wegtrekkers en ontheemdes, soekers na ‘n tuiste. En hoe mooi maak die soekers nie die soektog nie. Ons reis haal die beste uit ons uit, laat ons vra na wat ons regtig gelukkig maak. Ons lewensreis leer ons sif, leer ons liefhê, bind ons aan mekaar. Reisgenote in ‘n Kanaänsland. Hoe geseënd is ons nie, in hierdie land van ons met sy mooi mense.

Thursday, July 16, 2009

'n Mistieke lees van Efesiers 3:14-21. Oor die verborgenheid van God se liefde

Ek loop nou al twee dae my en verwonder oor Efesiërs 3:14-21. Paulus skryf as volg in die gedeelte:

Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van ons Here Jesus Christus, aan wie elke familie / gemeenskap van gelowiges in die hemele en op die aarde sy bestaan te danke het,
• dat God aan jule mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur die Gees in die innerlike mens,
o sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is,
• en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en die lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref,
o sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God.
Aan God wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan God die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid!


Dit klink bietjie drogerig, maar as 'n mens dit in jou gedagte opneem en daaroor begin nadink, dit begin bedink en herkou, is dit 'n gebed, 'n oratiewe teks, wat jou gemoed vol laat skiet.

Paulus praat diep sake in hierdie brief. Hy skryf in Efesiërs 2 oor die boodskap van God se liefdevolle genade: ons is van ons slegte verlede (Efes.2:2-3) vrygemaak deur “die grote liefde waarmee God ons liefgehad het” (Efes.2:4). Ons lewe staan in die teken van transformasie. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Iets radikaals het met ons gebeur. Ons verhoudinge is totaal omgekeer. God het ons aangeraak. Wat aleg was, wat ons verniel het, is nou verby. Ons armoed kan ons agter ons laat. Ons word ryk gemaak: Ons, die heiden-nasies, ons wat altyd buite in die koue moes staan, wat op die rand van die liefde gewoon het, word nou saam met die Jode deel van God se nuwe familie (Efes.2:19).Ons is God se nuwe familie, opgeneem in God se nuwe liefdeskring.

Hoe kan ons dit begryp, vra Paulus eintlik daarna. Dit is ‘n misterie, ‘n geheimenis, ‘n verborgenheid, skryf hy ‘n paar keer in Efesiërs 3. Ons, die heidene, hoor by Paulus, God se apostel, van God se ontsaglike, “onnaspeurlike” rykdom wat vir ons as gawe gegee word. Hoe bevoorreg is ons nie. Die volk wat in duisternis woon, het 'n lig gesien.

Dit alles beteken heel eenvoudig dat ons heeltemal anders na die lewe kyk. Omdat ons hierdie verborgenheid ontvang en leerk ken het, daarom kan ons nie moedeloos word in verdrukking nie. Ons verdrukking is ons eer! Om te ly, is niks. Want ons is by God. (Efes.3:13). Die nietiging! Alles wat ons ervaar wat altyd vir ons so swaar lyk, is niks, is nietig, in die lig van die groot liefde wat oor ons uitgestort word.

En dan, na hierdie verborgenheid, volg Paulus se gebed oor God se ryke heerlikheid (die kabod – die teken van God se mistieke teenwoordigheid) wat ons innerlik sterk maak. Paulus kan nie meer stilweg oor hierdie groot, diep dinge skryf nie. Hy breek uit in gebed, lofgebed. God se heerlikheid gee ons mag, skryf hy in sy gebed.

Die vereniging, die wederkerigheid! God, die heerlike, word deel van ons, die kragteloses, die verdruktes, die eerloses. Dit is hoogste intimiteit: God se Gees gee ons die krag. Die asem van God kom blaas krag in ons. God is naby aan ons, in ons “innerlike mens,” ons is met God in ons diepste wese verenig (vers 16).

Ons ontvang nou geloof – en dit beteken; Christus kom woon in ons harte (vers 17!). Weer eens die intieme, vervullende, inwonende vereniging van die goddelike met die binneste deel van ons lewe, ons hart. Hierdie keer nie die Gees nie, maar Jesus. Dubbele inwoning...

Ons ontstuimige hart kom tot bedaring. Ons dra in ons, diep in die sentrum van ons bestaan, in ons hart, die Gesalfde, die Messias, die Christus (vers 17).Die een wat aan Joodse gelowiges beloof het, kom woon nou ook onder hulle wat eenkant geleef het.


Paulus kan hieroor nie ophou nie: dit alles beteken dat ons nou in die liefde gewortel en gegrond is. Die Grieks stel dit presies so: die liefde het in ons wortel geskiet, die liefde het die fondament van ons bestaan geword. Liefdesmistiek! Ons eenheid met Christus in die geloof, plant ons in die liefde in, laat ons rus op vaste fondamente van liefde. As ons groei, groei ons liefdesvrugte. As ons bou, bou ons liefdeswonings. (Vers 17) Om by God in Christus te wees, beteken dat die liefde in my woon.

En dan uiteindelik Paulus se diepste uitspraak (verse 18-19). Wanneer ons glo en in die liefde is, staan ons verstom daaroor: die liefde is wyd, lank, diep en hoog, ver bo ons verstand. Dit is mooi, dit is pure skoonheid.

Ons is verlief op die liefde. Dit oortref alle kennis. Dit vervul ons tot die volheid van God (vers 18-19). (Hadewych, Bernard van Clairvaux!). Die volheid van God vervul ons heeltemal! Ons vind verruking in totale eenwording met God.


Dit is eintlik te groot, te veel. Sal dit werk? Ons sal moet strek en kreun en groei. Maar God se liefde stuit vir niks. God wil ons so groot maak soos wat God ook is - ons moet God se beeld dra. Ons sal die volheid van die liefde uiteindelik smaak.

Wednesday, July 15, 2009

Ons soek die liefde omdat dit liefde so mooi is. Oor die mistiek van die liefde en Bernard van Clairvaux



‘n Mens kan baie oor die mistieke liefde praat terwyl jy dit nie leef nie. Hadewych van Antwerpen sê ‘n mens moet die grammatika van liefde aanleer as jy in liefde wil leef. Dit is swoeg en sweet om jou in die liefde in te oefen. Weldra ontbrand egter dan ‘n liefde vir die liefde. En dan ontdek jy dat dit deel word van jou natuur en dat jy dan die liefde natuurlik leef. Soos asem vir die liggaam, so word liefde dan vir jou gees.

Die lewe in liefde is die hoogste sin van ons geestelike lewensreis. Om geestelik te groei is baie meer as om netjies deur breingimnastiek geestelike dinge uit te pluis. Ons verlang daarna om God met ons hart te bemin en te aanbid. Wat saak maak is dat ons harte uitgestrek raak, wyd, wyd uitgerek word dat ons liefde so wyd sal reik soos wat die hemel oor ons uitmekaar gespan is. Ons liefde moet so oorrrompelend mooi soos die skoonheid van die hemel wees, skryf Bernard van Clairvaux, die mistikus van die liefde.

Ek bedink na aanleiding hiervan vandag ‘n verder vraag: maar waarom soek ons hierdie liefde? Bernard skryf ‘n boek “Oor die liefde vir God,” waarin hy uitspel dat ons aan die begin van ons geestelike reis dikwels uit blote selfsugtigheid vir God soek. Ons verwag van God belonings. (Ek gee ‘n tiende, God sal vir my geldsake sorg....). Of ons is bang vir die hel. Of ons wil graag eendag weer ons geliefdes in die hemel ontmoet. Of, soms is dit bloot net omdat God ons troos wanneer ons God soek.

Deur meditasie, gebed, Bybelstudie en goeie dade dien ons dan vir God. Maar, amper soos Hadewych, sê Bernard, word ons naderhand met vreugde gevul deur ons soeke na God. Ons ontdek die vreugde van by God wees. Uiteindelik leer ons naderhand om God self lief te hê sonder enige selfsugtige oorwegings.

Grace Jantzen (in haar uitstekende boek met die titel Power, Gender and Christian Mysticism) skryf dat Bernard hiermee eintlik verder gaan as om die liefde as die hoogste doel van die mistiek uit te wys. Waarom soek ons liefde? Nie bloot net omdat dit liefde is nie. Ons soek dit omdat dit ons so oorrompel in sy skoonheid. Die liefde bring vreugde en genot. As ‘n mens vir God lief is, ervaar jy skoonheid, aantreklikheid, begeerlikheid, onweerstaanbaarheid, onmeetlike heerlikheid. Dit bring jou in verwondering. Ons soek die liefde, omdat die liefde so mooi is!

Dit is soos ‘n pa of ‘n ma wat vir die eerste keer hul pasgebore baba in die hande neem: jou liefde is oorweldigend, want hierdie baba is so kosbaar, so mooi, so onskuldig, so hartroerend kwesbaar. Dis nie net die liefde wat alles in jou omkeer nie, maar dit is die liefde vir hierdie pragtige, onskuldige klein wese wat jou in beslag neem.

Om God in liefde te sien, is, skryf Bernard, soos om die koning in sy prag en skoonheid in die oase in ‘n woestyn te sien binnegaan. Daar is koel, lafende tuine vol rose in volle bloei, vol lelies langs rustig vloeiende waterstrome. Die tuin is vol geure en orals kan die koning die heerlikste voedsel vind. En daar is ook ‘n plek waar die koning in stilte, in afsondering ‘n rustige nag kan deurbring. Die liefde betower. (Sien en bedink die foto hierby...).

Waarom het ‘n mens lief? Omdat dit vervullend is. Dit laat jou vol word met die allermooiste van skoonheid, met oneindige aantreklikheid.

Eintlik weet ons dit uit ons daaglikse ervaring: om altyd in die geselskap van ‘n liefdevolle mens te wees, is ‘n heerlike ervaring.

Hier moet ‘n mens ‘n dieper punt verstaan: Bernard het in liefdestaal oor God gepraat, maar telkens weer gewys dat ‘n mens nooit deur taal reg kan laat geskied aan wie God werklik is nie. Uiteindelik is taal te swak en te beperk om God se skoonheid in liefde te peil. Ons probeer en ons staan verstom voor die heerlike liefde van God. En as dit goed en mooi klink wanneer ons dit so in woorde oorvertel, hoeveel groter en mooier is die liefde nie werklik nie! Die skoonheid van die liefde is groter en heerliker as wat ons ooit in taal kan uitdruk.

Ek bemin die liefde, want die liefde is betowerend.

Tuesday, July 14, 2009

Leef die mistiek in liefde. Oor Hadewych van Antwerpen



Maria Magdalena se huwelik (die liefde!)
Oorgeneem van: http://www.lebanonart.com/eng/mary_magdalen2.htm




Ek lees so bietjie oor die mistiek van die dertiende eeuse vroue mistikus, Hadewych van Antwerpen. Sy was afkomstig uit ‘n welgestelde familie, maar het deel geword van ‘n groep vroue wat hulle toegespits het op hande arbeid, sorg vir die armes en siekes en ‘n gebedslewe. Hulle is, soos wat ‘n mens seker maar moet verwag, weens hul oortuigings vervolg, maar het later as “Begyne” amptelike verlof gekry om hul werk te doen. Sy het 45 gedigte, 16 briewe in digvorm, 32 briewe in prosa-vorm en 14 visoene neergeskryf, in besonder passievolle vorm en diep gekleur deur liefdestaal. Haar werke is diepsinnig en het veral groot invloed op Jan van Ruusbroec, een van haar leerlinge en ‘n beroemde mistikus, gehad.

Ek is geboeid deur haar mistieke van liefde. Teenoor die groot manlike mistici soos Dionusios en Eckhart met hul klem op eenheid met God as die hoogste doel waarna die mens kan streef, bring sy ‘n hoogs uitdagende klem-verskuiwing in die mistieke tradisie. Wat, vra sy, behels die vereniging met God? Verenig met God – en wat nou? Eckhart sou sê ‘n mens vra nie eers so ‘n vraag nie. Die vereniging met God is dit waaroor alles gaan: die begin en einde van jou lewensoektog. Hadewych dink uniek en antwoord die vraag vanuit die mistiek van die liefde. Met passievolle, gelaaide taal, skets sy die liefde as ‘n hoogs intieme, vervullende, praktiese verhouding. Jy word in intense, intieme ervaring opgeneem in ‘n liefdes-eenheid met God. Maar: die liefde hou nie op as ‘n mens met God verenig is nie. As ‘n mens in passievolle liefde met God verenig is, op so ‘n manier dat dit jou hele wese, jou liggaam, jou totale bestaan in beslag neem, dan leef jy hierdie liefde uit in meelewing en diens aan ander. Eenheid met God beëindig nooit die liefde nie. Ek soek, skryf sy, “na niks anders as Liefde, werk niks anders as Liefde, beskerm niks anders as Liefde en jaag niks anders as die Liefde nie.” En vind jy die liefde, vul dit jou so sterk dat dit jou uitdryf om dit verder te gaan uitleef.

In die groot mistici soos Dionusios en Eckhart bring die vereniging met God ‘n mens tot die punt om soos God te wees, om die dinge van God te bedink. Dit is ‘n manlike, rasionele, intellektuele aanpak van die mistiek. Hadewych as vrou se liefdesmistiek laat haar sê dat ‘n mistikus ontmoet as hele mens die Liefde van God sodat ‘n mens die werke van God kan doen. En as ‘n mens die liefde wil ontdek, skryf sy, bedink jy wie die aardse Jesus was en wat Hy gedoen het. Jesus wys ons wat liefde is. Liefde is baie konkreet, tasbaar, voelbaar. Liefde is nooit spekulatief nie, dit is geïnkarneerd. Net soos Christus dryf ‘n mens nie weg van die ellende in die wêreld as jy met God verenig word nie. Soos Christus giet jy jouself uit in ontferming teenoor die ellendiges. ‘n Mens deel dus in liefde Christus se lyding. ‘n Mens omhels die ellende in solidariteit van liefde met die mensdom.

Hieroor sou ‘n mens nog veel meer kon skryf. Maar ek wonder die laaste tyd dikwels oor hoe ‘n mens die mistiek naby aan jou lyf kan bring. Die groot probleem is dat ‘n mens altyd teoreties daaroor kan praat sonder dat dit deel van jou bestaan word. En vandag kry ek nogal hulp in my leeswerk oor Hadewych. Hier is die voorbeeld: Bitter is dit om ‘n taal aan te leer. Jy sukkel en sukkel om die spel- en taalreëls aan te leer, om jou woordskat op te bou. En dan, op ‘n dag, kan jy Duits praat. Jy kan na gedigte luister, Mozart se oratoria in hul oorspronklike weergawes gaan luister. En dan word jy verlief op die taal, want dit bring skoonheid in jou lewe.

Dit is, sê Hadewych, wat met ons en die liefde moet gebeur. Ons moet leer om die liefde lief te hê. Daar moet in ons ‘n begeerte wees (biddende verlange) om die liefde te leer ken. Mettertyd gebeur dit ook dat jy op ‘n dag, in ‘n ekstatiese oomblik, besef dat jou bemoeienis vrug dra. Jy verloor jou in die liefde, jy is op die liefde verlief. Jy besef op ‘n dag hoe kragtig, hoe mooi, hoe lewegewend, hoe oorwinnend, hoe genesend, hoe menslik, hoe goddelik die liefde is. En dan volg die verdere fase: jy doen die werke van die liefde. Die Liefde het so deel van jou natuur geword dat jy die Liefde van nature begin doen. Nou word jou lewe geïntegreer: wat jy dink, wat jy begeer, wat jy ervaar, wat jy doen kom alles saam in die krag van die Liefde. Jy is ‘n “heel” mens, jy het die beeld van God wat Liefde is en Liefde doen in jou.

‘n Mens kan slim praat oor die liefde. Jy kan allerhande debatte daaroor voer. Dit fyn ontleed. En tog kan ‘n mens nie die liefde leef nie. Dit is die mistieke: om so oor die liefde te dink, dat dit deel word van jou bestaan en jou lei waar jy nooit gedink het jy sal kom nie.

Hadewyk het my diep laat nadink.

Monday, July 13, 2009

Geluk in duisternis; oor sondebewoëndheid



Hierdie skildery is in 1607 deur Carvaggio geskilder onder die titel: die geseling van Christus. Dit is 'n aangrypende, ryk uitbeelding van Jesus se uitlewering aan lyding en verwerping.


Spiritualiteit word dikwels geassosieer met “geluk”, ‘n gevoel van innerlike vervulling, geestelike groei, transformasie en ‘n intieme verhouding met God.

Mense wat soek na innerlike vervulling, wil ervaar dat hulle potensiaal tot volle ontplooing kom. Hulle ware mens-wees moet na vore kom.

Daarom dink ons dikwels die dae van die hel-en-verdoemenis preke is verby. Ons gaan kerk toe, nie om verder in die grond geboor te word en te hoor ons is so sleg nie. Ons is verslae, vernield en wanhopig genoeg om nog verder afgebreek te word.

En dit is goed dat ons in verset kom teen ‘n tipe boodskap wat moralisties vir mense as goed of sleg uitmaak. Dit is soms afgryslik om te hoor hoe predikers vinger-swaaiend vir mense vertel presies hoe sleg hulle is.

Maar tog is ons geestelike lewe kinderagtig as dit dink ‘n mens moet die sonde ignoreer deur versigtig daarby verby te stuur. In die vorige blog het ons juis daaroor gepraat dat ‘n mens die erns van sonde moet begryp en die greep daarvan op ons lewens nie moet miskyk nie.

Dit is waar van ons eie lewens, maar ook van ons wêreld. Jesus se bergrede is deurtrek met ‘n liefdevolle ontferming vir almal in die wêreld wat arm is, wat na vrede soek, wat treur, wat met stil, sagte harte leef, wat vir ander omgee, wat rein van binne is... En tog praat Jesus met dieselfde mense oor egskeiding, moord, doodslag, onreinheid en ander donker skaduwees in ons lewens. En later sou Jesus, ontsteld, ook die sondes van die hele volk vreesloos aanvat toe hy die spekulante uit die tempel verjaag het omdat hulle van God se gebedsplek ‘n rowerspelonk gemaak het. Met swepe.

Die wêreld is die plek waar ons God vereer, met God verenig word, uitroep na God wat heilig in die hoogste hemele, maar ook heilig in ons midde woon. Maar watter rowerspelonk het ons nie van God se aarde gemaak nie. In ons eie lewens, maar ook in Zimbabwe, in Rwanda, Afghanistan, New York, Hollywood en plekke van afgodery oor die aardbol heen is dit vir ons asof ons vir God nie meer kan vind nie. Daar hang ‘n donker wolk oor ons wêreld wat ons uitsig op God verdoof. In so ‘n wêreld kan niemand gelukkig wees, sy of haar volle potensiaal ontwikkel nie. Ons kan dit nie ignoreer dat ons in duisternis woon nie. Wie dit wil doen, ontvlug sy verantwoordelikheid, is liefdeloos, verstaan nie God se hart nie en leef met ‘n dooie hart.

‘n Geestelike mens, iemand wat naby aan God leef, huil saam met Jesus oor Jerusalem wat ‘n tempel vir God het, maar wat God daaruit verdryf het. ‘n Mistikus is nie iemand wat mooi vroom kan bid dat God ‘n mens pyn en lyding spaar nie. Want hoe kan ons sonder pyn wees as ons wêreld deursuur is met lyding? Elke keer as ‘n mens nuus kyk en hoor van lyding, is ‘n mens verpletter deur wat jy hoor en sien. Die pyn van ander kom lê in jou hart. Hulle pyn word joune. As ons gedink het sonde is om allerhande reëls te oortree, skraap ons net aan die oppervlakte. Sonde is om jou af te vee aan die pyn in hierdie wêreld, om daarvan weg te vlug en jou rug daarop te draai. Want, dit is die diepe verborgenheid, wanneer ‘n mens dit doen, draai jy jou rug op God. Deur sonde te onderskat of te wil systap, sondig ‘n mens.

Jesus, hoor ons, het as Kneg van God, in die wêreld en sy duisternis ingegaan. Die Seun van God, vertel die Evangelies, het in die ure van duisternis, uitgeroep van sy verlatenheid van God. Maar sy uitroep was nie, soos sy mede-gekruisgde, ‘n hoon-roep nie. Dit was ‘n gebed. In die duisternis, in die tyd van sy diepste lyding, het hy nog vir God geëer, na God geroep.

As ons dink dat ons nie in die wêreld se duisternis hoef in te haan nie, word ons tot bekering geroep. Want as ons nie ons kruis opneem, soos Jesus nie, dan kan ons nie een word met God nie. Juis daarom word ons tot rou en boete-doening geroep en staan ons voor God met die belydenis: ons is arm, arm aan medelye, arm aan ontferming, arm aan sagmoedigheid. Ons is nie honger nie, het nie dors nie, kyk weg as ander ly, vermy ‘n sondige wêreld. Maar ons het nie innerlike vrede nie en is ons nie gelukkig nie.

Ons kyk na ons wêreld en ons sien donkerte. Ons kan deur die digte duisternis nie meer vir God raaksien nie, dink ons. Die armoede, die hongersnood, die droogtes, die hardheid, die lyding. Maar tog is God in die duisternis teenwoordig, roep Jesus in die bergrede uit. Wie treur oor God se afwesigheid, wie uitroep oor die hongersnood, oor die hardheid, moet weet: God is daar! En daarom kan hulle gelukkig wees! God is by die armes, stilles, treurendes, hongeriges, dorsendes. Salig, salig, salig, salig, salig is julle wat in die duisternis gedompel is, wat arm is, treur, honger en dors het. Julle wat in hierdie duisternis woon en hierdie duisternis deel met al God se ander kinders, julle ontvang God se koninkryk, julle word deur God geregeer, God is julle koning. Dit is die mistieke antifrase. Ons gru vir armoede en ontbering, en tog, God gru nie daarvoor nie. Ons is sku vir lyding en ellende. Maar God woon daar.

Kyk maar na die eenvoudigste voorbeeld hiervan, in Jesus se lewe. ‘n Kruis in die duisternis, stik-donker, maar dan die gelowige uitroep: Waarom het U my verlaat, my God? Die Kneg, die Seun van God sal die gelowige mens aantref in die donker van ‘n kruis.

My hart smag na God. Ek sien U nie! Maar ek hoor die Gees sê: luister die verborge woorde en weet: U is daar! Hierdie wêreld wys nie vir my U gesig nie. Maar hoor God se antwoord: die wêreld behoort aan U! Ek wil nie weghardloop van die donkerte nie. Ek wil daarna kyk, dit selfs geboeid omhels. Want hier, in die donkerte, is U.

Hoe word ons volledig mens? Hoe kom ons tot ons ware potensiaal? Hoe vind ons vervulling? Hoe word ons gelukkig?

Deur in die duisternis in te stap en by God in die verborgene te woon. As ons dit kan doen, het ons ons volle potensiaal bereik. Ons vind vervulling in hierdie verborgenheid.

Dit het Jesus gedoen. Die klein, bruin Jood, die aardse, vervloekte een (a la Cussons), wat terselfdertyd juis daarom die kosmiese, volmaakte Christus is. ‘n Verborgenheid. 'n Mistieke antifrase.

Ons geloof is nie vulgêr nie. Dit rus nie op oppervlakkighede nie. Dit vind sy volmaaktheid in solidariteit met die plek van leegheid. Dit vind sy grootheid in sy fokus op die geringste.

Wie die verheerlikte Jesus wil vind, moet maar die waagstuk aanvat en kruis toe gaan, die donkerte in. Wat ‘n skoonheid.

(Met dank aan Merton, The Inner Experience).

Sunday, July 12, 2009

Sonde



(Satan, sonde en die dood - William Blake, 1808)

‘n Mens kan skuldig voel oor iets waarvoor iemand jou dalk sou kon uitvang en straf. Dan vrees jy iets uiterliks en is jy bang vir iemand wat na jou kyk en jou dade as verkeerd veroordeel. Jy voel skuldig daaroor.

Sonde is veel erger as so ‘n skuldgevoel. Dit sluit sekerlik 'n skuldgevoel in dat 'n mens aan God ongehoorsaam is. Maar ‘n egte sonde-besef (teenoor ‘n skuldgevoel) is ‘n verslae, knaende gevoel en gewetenswroeging dat ek my diepste, innerlike wese aangetas het. Hier waar God wil woon, op die intiemste van intieme plekke, hier waar alles begin wat vir my innerlike vrede gee en wat my lewe in helder lig laat skyn, hier het ek donker ingedra wat God se lig, God se beeld in my uitgedoof het.

In ons moderne godsdienstige konteks het ons nie meer 'n benul van hoe erg sonde is nie. Dit is juis die diepe bedreiging van sonde – dit doof 'n gelowige se gevoeligheid vir dit wat verkeerd is, uit of dit begatelliseer sonde deur die destruktiwiteit daarvan te verberg.

Sonde beteken dat ek my innerlike lewe, die wortel van my bestaan, daar waar my hart klop, waar ek skoon water van die lewe moet indrink, dat ek dit vergif, verkrag en vernietig. As ek volhard in die sonde, kan ek uiteindelik selfs my gees tot niet maak. Dan is ek, in Bybelse sin,“geestelik dood.” En dit beteken eintlik 'n vorm van self-doding.

Sonde is, soos Luther dit al gestel het, 'n self-ingekeerdheid. Dit is wanneer ek uit selfsug leef, ‘n valse bestaan voer, wanneer ek voorgee wat ek nie werklik diep in my is nie, wanneer ek ‘n dubbele lewe leef. Ek is dus deurtrek met valsheid. Ek gehoorsaam nie meer my gewete nie. My gewete pla my eintlik nie meer nie.

Eintlik beteken sonde dan dat ek myself tot niet maak – of in die ergste vorm – myself tot niet gemaak het. In my woon die "Heilige" Gees nie meer nie. Ek doen nie net slegte dinge nie, ek het boonoop sleg geword en is sleg.

Sonde is ‘n dodelike mag wat my in ‘n greep het waaruit ek nie kan losbreek nie en waardeur ek my herhaaldelik tot niet maak. Elke keer weer steek ek ‘n dolk in my eie hart. Ek het ter helle neergedaal.

Ons het dus nie regtig meer ‘n idee van sonde nie. Ons wil nie regtig weet dat ons sleg is nie, ons tyd vra self-respek en 'n gevoel van eie waardigheid. Dit is afwykend, dink ons, as ons deur 'n sondebewussyn ons eie onwaardigheid bely. Ons godsdiens praat eerder van voorspoed, van vergifnis, van foutjies en glipsies. Ons praat van sonde soms selfs ligtelik as stoutigheid. Ons weet nie eintlik meer wat berou is nie en ons bedink nie meer die sonde teen die Heilige Gees nie. Ons vrees sonde nie meer as daardie donker, dreigende, vernietigende, verborge mag wat sataniese houvas op on het nie.

En dit terwyl ons eintlik elke dag by herhaling verslae staan oor wat om ons aan die gang is: Die korrupsie, selfsug, ongevoeligheid, hardheid, self-verryking, materialisme, omgewingsbesoedling, hatigheid, jaloesie, misdaad, moord, diefstal en ander sondes sien ons, maar ons eien dit nie as ons s'n toe nie. Dit is die ander een se probleem en foute. Of ons het daarmee leer saamleef, sonder om te besef dit sypel ons eie bestaan ook binne. Laat ons maar net rondom ons kyk as ons ‘n slag tot ons sinne wil kom.

Ons godsdiens het deur ons saamleef met sonde en ons onderskatting daarvan, ‘n soort ruilhandel geword: ons doen allerhande vroom dinge, soos bid en kerk toe gaan. En met dieselfde voete stap ons in die sonde in en uit dieselfde mond peul die sondetaal. Ons skrik nie meer terug voor wat verkeerd is nie. Ons gee dit ‘n aparte “plekkie” in ons lewe waarvoor ons “goeie” vroomheid kompenseer. Ons godsdiens self sirkel om ons eie voorspoed, wil ons gewetens sus en maak ons veroordelend en beterweterig teenoor ander wat sondig is in vergelyking met ons goeie pogings tot vroomheid.

In die Cloud of Unknowing word van ons gevra om baie realisties te wees oor onsself. In nederigheid moet ons nie oor onsself dink soos baie idols-kandidate wat met hul totale vals note vir hulle verbeel hulle is unieke, talentvolle sangkunstenaars nie.

As ons realisties na onsself kyk, neem ons ‘n beslissende stap tot genesing. Hand in eie boesem. Balk in eie oog. Vee voor die eie deur. As ons eerlik na ons aarde kyk, kan ons nie anders as om ook onsself in te sluit in die verval nie.

Hoe bevrydend word die Evangelie tog nie, as ons deur ‘n diepe sonde-besef oorweldig word nie. Ons smag dan om uit die moeras te kom. En ons vind dit in alles wat die Bybel vir ons as God se liefde voorhou. Om te dink dat God met ons ‘n liefdevolle verhouding wil aanknoop sodat ons innerlik gereinig kan word en egte lewe in ons kan voel ontkiem. God wil ons kom haal, weg van hierdie verskriklike self-vernietigingsproses waarmee ons besig is. God wil ons hand kom gryp, vasgryp, sodat ons nie langer onsself so tot niet maak nie. En God wil ons omdraai, in liefde vir ons as sy eiendom vashou, in ons kom woon en ons bevry van al die donker wat ons in ons lewe in gedra het. Dit is nooit te laat en dit is nooit te veel nie.

Hoe bevrydend is die Evangelie nie. ‘n Krag tot redding, ver bo wat ons ooit kan dink. Die weg tot die ware lewe, ‘n lewe van vervulling en vrede.

Die mistikus se ervaring van God is juis so oorweldigend omdat dit gebeur in 'n konteks van intense bewussyn van eie onheiligheid en God se suiwer heiligheid. En dit is so vreugdevol omdat God ons wil heilig, reinig en tot die volle lewe wil herstel.

Verras ontdek ons juis hoedat ons aarde wat so verderflik lyk, ook in die tyd van die eerste Christene diepe wanhoop opgeroep het: Kyk na 2 Timoteus 3:

Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. (Let veral op hoedat vroom godsdienstige mense hier ingesluit word).

Die gelowige van alle tye, verslae voor die mag van die sonde, hoor in die Evangelie van 'n groter mag, die mag van die Liefde wat ons van onsself bevry.

Saturday, July 11, 2009

Altyd nuut: oor die mistiek, vaalheid en piña coladas



Ek luister vanoggend weer “Escape” van Rupert Holmes wat in Desember 1979 wêreldwyd ‘n treffer was en wat vandag een van die groot simbole van musiek in die tagtis is. Ons glimlag as ons dit hoor: ja! so het ons toe musiek gemaak.

Holmes is ‘n bekende musiekskrywer, ook van musicals en het ‘n klassieke musiek-opleiding gehad. Hy spot self met die ongelooflike sukses van “Escape” wat hom wêreldbekend en skatryk gemaak het. Hy sê sy grafsteen sal eendag in die vorm van ‘n pynappel wees, terwyl niemand iets van sy ander werk sal onthou nie.

Soos in ander liedjies van Holmes, vertel hy met Escape ook ‘n verhaal. Dit gaan oor ‘n paartjie wie se verhouding in ‘n vaal en vervelige roetine verval. Hy is moeg vir sy “lady” – soos vir ‘n flou-gespeelde plaat van ‘n trefferliedjie. Die man lees een dag ‘n persoonlike advertensie in die koerant van iemand wat ‘n onkonvensionele date soek – ‘n persoon wat van piña coladas hou (Spaanse drankie van pynappel en klapper-sap gemeng met rum), van loop in die reën, wat ‘n halwe brein het, wat nie van gesondheidskos hou nie, mal is oor die see en sjampanje en wat op die onmoontlikste tye en plekke passievol kan wees. Hy maak dan ‘n afspraak by ‘n kroeg genaamd O'Malley's en vind daar uit dat die een wat die advertensie geplaas het, eintlik sy maat was. Hulle besef hulle hoef nie verder te soek as mekaar nie: “You're the love that I've looked for, come with me, and escape."

Lekker humor, maar ook ‘n heerlike, maklike liedjie met ‘n meesleurende beat. Dit bly maal in jou kop en jy wil net lyf swaai as jy dit hoor.

Om een of ander rede het dit mense se verbeelding aangegryp. Die treffer word kort-kort in flieks gebruik, onder andere in Shrek. Soms word dit selfs gebruik vir gesprekke oor dieper vrae. In ‘n Amerikaanse komedie-reeks is daar gespot oor die liedjie se boodskap dat twee mense wat in ‘n verhouding is nie eers weet die ander een hou van pina coladas.

Kyk: http://www.youtube.com/watch?v=Hl0xLTXxOhM.

En op intertekstuele vlak leef die liedjie voort in skreeusnaakse advertensies:

Kyk bv. http://www.youtube.com/watch?v=bV2XphGofCE

Dis waar: ons leef saam met ander mense vir tye wat vir ons soms na eeue kan voel, dodelik in afgesaagdheid. Ons moet net rondom ons kyk om te sien hoe sulke vaal, vasgeloopte verhoudings dodelike, slegte gevolge kan hê.

“I was tired of my lady, we'd been together too long.
Like a worn-out recording, of a favorite song.”

Moeg van die ander een. Keelvol.

En tog ontdek ons dan weeer op 'n dag steeds weer nuwe dinge oor mense wat ons al jare goed ken. Soms skokkende dinge. Soms teleurstellend. Maar ek het ook agtergekom dat as ‘n mens mooi oplet en goed na ander mense kyk, jy steeds weer sien hoe mense jou verras met die goed waartoe hulle in staat kan wees of sommer net hoe hulle die lewe geniet. Dit hoef nie groot wyshede te wees wat ons nou raakhoor nie. Blykbaar onthou die meeste mense hierdie liedjie van Holmes nie as “Escape” nie, maar as die liedjie oor piña coladas. Dit word ook deesdae “Escape (the piña coladas song)” genoem. Wat ‘n verrassing: my maat hou van piña coladas! Sy is minder vervelig as wat ek gedink het. Sy het ‘n eksotiese kleurtjie. Sy is minder vaal en oninteressant as wat ek begin vermoed het.

En nog dieper: ons soek na iets wat ons lewe kleurvol kan maak, wat ons lewe transendeer, wat ons vreugde gee, veral by hulle met wie ons in ‘n intieme verhouding leef. Diep in ons soek ons om die vaalheid, die geroetineerdheid, die groef waarin ‘n mens vasval te ontvlug. Ons soek na iets spesiaals, iets wat ons verweerde lewens opkikker, wat nuwe kleur gee. Bietjie anders is. Dit is ook waarom spiritualiteit en veral mistiek gaan: om die verlange na die diepste transendensie en die diepste integrasie. Waar ek die diepere ontdek - hoe eenvoudig ook al (die liefde!), daar kom heelwording, integrasie, versoening, kompassie.

En as dit gebeur – as ons die ruimte van verrassings binnestap, doen dit iets aan my, maar veral ook aan die ander een. Daardie nuwigheid, andersheid, verrassing help mens om die ander een as mens weer raak te sien en die ander groei uit tot 'n heel mens oor die ruimte wat ek vir hom of haar skep.

Die wese van godsdiens is dat dit altyd nuut maak (die ou mens....) Deur die eeue sal jy nie een mistikus vind wat presies dieselfde geestelike ervaringe as ander het nie. Elke mens is uniek en die verhouding met God wys daardie uniekheid te duidelik. En boonop is elke dag ‘n verrassing. Die mistikus leef aards, want die aarde is God se leefplek, God se speelruimte, God se liefdesoord. Wanneer die ou, vertroude teks en die mistikus mekaar ontmoet, broei nuwe lewe, nuwe insigte, nuwe ervaring en lewensvreugde. Die simbiose van teks en leser kan nie in vaalheid verval nie.

En dit terwyl die Bybel steeds dieselfde gesig het, dieselfde tekste, dieselfde boodskap. Vol plooie, ‘n bekende lied wat oor en oor gespeel word, ‘n lady met wie ‘n mens ‘n lang pad geloop het. Maar elke dag ontdek jy iets nuuts, word jy verras hoe God die ou verhaal omtower in nuwe belewenisse. Hoedat mense met wie jy ‘n lang pad loop, iets onverwags sê en doen wat jou betower, moed gee, goed laat voel, verras juis omdat hulle in hul lewens ‘n liefdesverhouding met God het wat na ander toe deurwerk.

Die probleem lê nie by die lady nie. Die probleem lê by die lady se kêrel wat blind is vir wat hy reeds het. Wat te min gees het, wat nie die Gees van liefde wil toelaat om die nuwe dinge vir hom te wys nie.

Om selfs net na hierdie song te luister, so eenvoudig, so lekker lig, so hups, en te weet dat dit vertel eintlik ‘n ou waarheid op ‘n nuwe manier: ons het skatte in erdekruike. Moet hulle maar net skink, proe en verras ervaar.

Friday, July 10, 2009

Om te lees is om te waag. Oor die geestelike lees van die Bybel as resonansie




Ons beskerm ons kinders teen boeke wat ons dink hulle kwaad kan aandoen. En ons wil graag hê dat hulle die Bybel lees, in die hoop dat dit hulle lewens vol en ryk sal maak.

Maar ons sensoreer ook onsself as dit by die Bybel kom. Ons lees byvoorbeeld nie “sektaries” of “liberale” teoloë of skrywers nie, want ons dink hulle idee’s sou ons kan laat dwaal.

Die Bybel self, voel ons, is ‘n boek wat ons met veiligheid kan lees. Ons ervaar immers hoe die Bybel ons kan inspireer en vir ons baie kan beteken. Ons dink: die probleem is nie om die Bybel te lees nie. Die probleem is eerder wanneer ons verkeerde interpretasies van die Bybel lees.

Maar die blote lees van die Bybel is tog al 'n waagstuk. Dit kan selfs gevaarlik wees. 'n Enkele woord van die Here kan 'n mens neem waar 'n mens nooit gedink het jy sal beland nie.

Hoekom gebeur dit dan dat die Bybel nie maar net "vryblywend" of skadeloos is nie? Dit het alles met die leeshandeling of die leesproses te doen. Wanneer ‘n mens die Bybel optel en dit lees, vloei die teks en die leser inmekaar: ‘n egte geestelike lees van die teks, raak die mens op baie maniere en op 'n omvattende manier aan. 'n Mens kan bly moeilik onbetrokke en neutraal by die lees van die Bybel. Deurdat ‘n mens die teks lees, word jy in 'n proses opgeneem wat jou onmiddellik verander. Jy hoor jouself lees, jy voel die teks, dit raak jou aan. Maar jy sien ook die teks terwyl jy dit lees - merke op papier. En jy sien hoe hulle betekenis vorm. En veral wanneer jy dit, in 'n geestelike lees, hardop doen, werk hierdie leesproses op jou in.

Op die manier vloei die teks in jou in en jy verloor jouself in die teks. Daar vind ‘n simbiose tussen teks en leser plaas. ‘n Geestelike lees van die Bybel is daarom altyd ook ‘n leeshandeling, ‘n lees-daad. Die teks praat met jou. Soms verloor jy jou so in die gesprek dat jy nie agterkom die tyd gaan verby nie. As jy jou kom kry, is dit al laat. Jy doen dus met jou gelees iets wat jou intrek in ‘n gesprek en wat jou lewe daarom kan verander.

Hierdie lees van die Bybel en hierdie hoor van die Here se woord kan baie ingrypend wees. Dit is ‘n leeshandeling wat ‘n klomp dimensies van die mens aanraak. Mense wat die woord van die Here oor Ananias en Saffira se bedrog hoor (Hand. 5:5 en 11) is deur ‘n groot vrees oorval. Toeskouers wat die dade van apostels gesien het, het die Here “baie geëer” (Hand. 5:13). Dit laat ‘n mens dink aan Psalm 119:120 waar die Psalmdigter vertel: “My vlees sider van skrik vir U; en ek vrees vir u oordele,” met Psalm 119:161 wat sê: “my hart vrees vir u woord.” En tog kan dieselfde digter sing: “Ek sal my verlustig in U insettinge, u woord sal ek nie vergeet nie.” Dinge wat die Here se of doen, kan jou hart laat smag na meer. Waar ‘n mens die Bybel geestelik lees is daar dus dikwels ook verlange teenwoordig: “My siel smag na U heil” (Ps.119:81).

Terwyl Jesus saam met sy dissipels die pasga volgens die voorgeskrewe tradisie vier, sê Hy: “Ek het baie sterk daarna verlang om hierdie pasga met julle te eet voordat ek ly” (Luk.22:15). Hy vier saam met sy dissipels die uittog uit Egipte - hulle heilige geskiedenis.

Wanneer ons by die nagmaalstafel sit as die Here se “sigbare” Woord aan ons, kan dit ons byvoorbeeld oorrompel as ‘n geskenk van God, aanvuur om ons lewe in orde te kry, help om vrede met ander mense te maak of inspireer om die gemeenskap van gelowiges na te jaag. Baie is nogal op die spel as ons eers die Here toelaat om met ons te praat.

Wanneer ‘n mens die woord van die Here hoor, vier, gedenk en beleef, vind daar ‘n vereniging tussen die goddelike en menslike plaas. Die woord van die Here en die luisteraar word saamgebind in ‘n eenheid, 'n simbiose vind plaas. Maar terselfdertyd kring dit uit om baie ander dimensies van ‘n mens se bestaan in te sluit. Jou ervaringe in die hoor van die Woord het diep, wye emosionele implikasies. Die Here se woord resoneer met jou hele wese. ‘n Geestelike lees van die Bybel kan nooit net die verstand aanraak nie. Dit roep ‘n hele reeks van ervaringe, reaksies, belewenisse en gevoelens op.

Wanneer dit gebeur, word die mistieke proses voltrek, want hierdie resonansie beteken dat Iemand van buite jou in jou innerlike bestaan inkom en jou omvorm. Daar gebeur iets met jou wat nie uit jou binneste opgekom het nie, maar wat van Buite op jou inwerk. Die Woord word jou woord. Jy het dit gelees en dit kom lê nou in jou hart, in jou binneste as deel van jou. Dit steek ‘n lig aan die brand. “Die opening van u woorde gee lig; dit maak die eenvoudiges verstandig” (Ps.119:130). “U woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig vir my pad” (Ps.119:105). Jou binneste word ruimer, groter, gevul deur ‘n Mistieke Teenwoordigheid wat in jou skyn: “Ek sal op die weg van u gebooie wandel, want U verruim my hart” (Ps.119:32). En ons leef, droom, reageer en rig ons lewe in op grond van ons ervaringe.

Hoe onthou ons tog nie die teks wat by ‘n begrafnis gelees is nie, of by ons troue, of die gesang wat gesing is nie, of die versie wat by ons geloofsbelydenis aan ons gegee is. Dit bly klink en klink jare na die tyd nog by ons. Dit roep aangename, troostende, blye of soms negatiewe gevoelens by ons op. Die Here se woord kan diep in die menslike lewe insny.

Die geestelike lees van die Bybel behels ‘n leeshandeling waardeur ‘n mens die teks hardop lees, hoor, sien en tas. En daardeur kan jy nie onaangeraak bly nie. Want as ‘n mens die Woord so beleef, is dit soos ‘n klip wat ‘n venster tref: die krake loop deur die hele ruit.

Mense wat weet, besef waarmee hulle te doen het as hulle die Bybel optel en lees. Eintlik maak ‘n mens ‘n lewensdeur oop wat onstuitbare kragte in jou kan losmaak. “Ek staan by die deur en klop....” Ek tel die Bybel op, bewus daarvan dit is God se woord. Ek lees die Bybel en dit raak my hele wese aan. Want, uiteindelik, is dit nie ‘n Bybelteks wat ek lees nie, maar God self wat met my praat, wat in my innerlike bestaan toegelaat word en lig opsteek wat donkerte verdryf en vrese tot niet maak. Om net die Bybel te lees is al ‘n groot saak....

Wanneer ek die Bybel lees is ek dus eintlik besig om met God te praat - en al pratende kom God nader en nader aan my, om uiteindelik in my te kom woon. Die woord word so vlees en kom woon in ons...

Blog Archive