Ek gee vandag klas en daar is intense gesprekke met studente oor die betekenis van die Bybel in ons tyd. Hulle is meestal goeie Christene, aktief in hulle gemeentes as predikante.
In ons gesprekke tref dit my hoe sulke goeie mense eensklaps kan verander. Dit gebeur wanneer ons om een of ander rede begin gesels oor die posisie van die vrou in die kerk. Blykbaar is vroue hier nog nie regtig in leidende posisies in die kerk nie.
Nog lank nie.
Dit is 'n egte patriargale situasie.
Ek is so gewoond daaraan dat vroue by ons bevry is, dat ek byna nie kan glo wat ek uit hulle monde hoor nie.
Ek sien voor my totale transformasie wanneer hierdie goeie mense oor die vrou in die amp praat. Hulle lyftaal wil driftig wees, alleen maar getemper deur die teenwoordigheid van 'n gasdosent uit 'n ander land.
Daar is hier nog nie sprake van vroue in die amp nie.
In die klas sit vier of vyf vroue. Ek bekyk hulle terwyl die gesprek aan die gang is.
Hulle speel saam. Wat kan hulle nou ook doen? Maar in hul oë sien ek die gretigheid dat ek moet praat en meer moet vertel. Dit skeur 'n mens se hart in twee.
Ek dink ver terug - aan die groot stryd in die N.G.Kerk toe vroue tot die amp toegelaat is. En toe die gesiene ouderling in ons plaaslike gemeente onmiddellik uit die amp bedank het en toe ook uit die kerk. Hy was 'n aktiewe kerkganger wat sy vorige kerk verlaat het oor die kerk se "liberale" teologie. En toe moes hy toesien dat die N.G. kerk, die enigste kerk wat volgens hom nog woordgetrou was, ook by die tou ingeval het.
Hy kon dit net nie in sy maag hou dat die N.G.Kerk toe ook vroue in die amp toegelaat het nie.
'n Paar jaar later gesels ek met iemand wat hom goed ken. Ons sit so en gesels oor hom - ek ewe vriendelik aan die vra oor hoe dit dan met hom gaan. Ek het die een wat uit die kerk bedank het, altyd onthou as 'n interessante mens met wie ek graag gesels het. Dus was dit vir my 'n geleentheid om van sy vriend te hoor hoe gaan dit met hom.
Nee, vertel die vriend vir my, hy is intussen geskei van sy vrou.
Ek moet stil sit om nie van my stoel af te val nie.
Hy het, het dit in die hof uitgekom, sy vrou gereeld geslaan.
Hoekom dink ek vandag aan daardie gesprek? Hoekom, as ek na die paar vroue in die klas kyk, skrik ek skielik terug voor die onbedoelde gemeenheid wat ek aanvoel onder hierdie goeie, gelowige mense? Hoekom voel dit vir my asof ons gesprek van vanoggend vir die vroue in ons midde erger as fisieke houe moes gevoel het?
Ek kom huis toe, na die klasse. Om een of ander rede sluit ek my gesprek met die studente af met die opmerking dat dit makliker is om vir jou godsdiens te leef as om daarvoor te sterwe. Ons behandel immers Openbaring en die dood van die getuies is 'n belangrike motief daarin: 'n mens moet bereid wees om tot die dood toe getrou aan jou getuienis te bly.
En tog, in Johannes se gedagtes is die sterf van die getuienis nie die belangrikste nie. Keer op keer beklemtoon hy in Openbaring hoe belangrik dit is dat 'n mens met jou hele lewe vir God getuienis moet lewer. Die getuies is hulle wat wit klere dra, fyn linne - 'n simbool van hul regverdige lewe, van hul volharding, hul vasbyt. Dit is nie maklik om te bly getuig nie. Jy kan immers binne die kerk net nog 'n Jezebel word - die profetes in die gemeente van Tiatire. Dit is nie maklik om die bose te herken nie. Dit kom na jou agter 'n vroom, mooi masker. Dit vra nogal om daardie masker af te ruk.
By die huis google ek my gedagte hieroor. En, verrassenderwyse, kry ek die volgende uitspraak van die legendariese Argentynse skrywer Jorge Luis Borges (wat stadig heeltemal blind geword het - maar dit is 'n storie vir 'n ander tyd): Dit is makliker om vir godsdiens te sterf as om dit absoluut te lewe.
Die internet is vol verwysings na hierdie uitspraak. Hoe moeilik is dit om te kan besef wat jou godsdiens eintlik van jou vra en nog moeiliker is dit om dan aan daardie eise te voldoen...
Hoe baie gaan dit tog vir hierdie mense vra om ter wille van hul geloof ook hul vroue vry te maak?
Ek hou toe vanmiddag op met die klasse. More wou ek bietjie op my laaste dag hier museums toe gaan.
Die studente vra of hulle nie maar nog klas kan kry nie. Hulle het so baie vrae wat hulle nog wil stel. Ons spreek af dat ons 'n ekstra sessie sal werk, al beteken dit nou vir my dat ek my museum-besoek kwyt is. Ek wou dan nog so graag weer 'n keer die Verlore Seun in die Hermitage en die Triniteits-ikoon van Rublev gaan kyk het.
Ek dink na oor hierdie dag: so soos hulle was, so driftig, so was dit by ons, nog 'n skrale vyftien/twintig jaar terug. En ek onthou dat dit volhardende gesprekke, durende getuienis was, ook van die bybelwetenskaplikes wat gedurig aan die kerk bly knaag het, wat uiteindelik vir vroue bevry het. Vandag is ons oor daardie hekkie. En as ek hierdie goeie mense in my klas bekyk, is ek diep dankbaar dat daardie stryd verby is. Al wat my kwel is hoeveel gemorste jare daar sal wees totdat ook hulle sal besef dat God nie mense oor hulle fisiekheid opsoek en uitsoek nie. Al waarin God belangstel is om met mense, alle mense, wie ook al, 'n liefdesverhouding aan te gaan - ongeag wie hulle is.
Maar dit boei my ook dat die studente nog wil praat. Immers, besef ek, hulle is die produkte van hul kerke se "teologie." Hoe kan hulle dan ook van beter weet as niemand hulle vertel of uitdaag nie (die Etiopier!). En as daar iewers 'n woord kan val wat eendag iemand kan bring tot groter menslikheid...
Miskien kry ek nou nie die Verlore Seun en die Triniteitsikoon te sien nie. Maar ek sal iewers môre op meer as een vlak myself bevind tussen soortgelyke kinders van God - tussen die vromes, die ouer seuns wat so kwaad in die donker gestaan en kyf het teen die broer wat nou plek in die Vaderhuis weer kom inneem. Hier, by die Vader, is daar volgens hulle net die "goeies" en die "regtes" toelaatbaar.
Nouwen was reg: dit is dan die tyd dat ons buitentoe moet gaan en as die Vader liefdevol moet bly praat en praat en praat. Ons moet saam met hulle wat nog onvry is en wat nog ander in onvryheid opsluit, gedurigdeur herinner word daaraan hoe God ons ou menslike voorwaardes ignoreer en deurbreek. Meer nog: hoe belangrik is dit om gedurig deur na te dink oor God se liefde. Wanneer ons praat oor die liefde, die liefde wat alle grense oorsteek, wie weet, kom ons dalk uit die donker in en omhels hulle wat ons 'n rukkie terug eerder in die varkhokke sou wou gesien het.
Terwyl ek so nadink, besef ek dat ek vir altyd aan hierdie groep mense vir wie ek klas gegee het, gebonde sal bly - nuuskierig, selfs angstig sal ek hulle geestelike reis saam met hulle loop, terwyl ek gedurig sal kyk of hulle so diep in hulle geloof kan groei dat hulle gedryf sal word om hul groot vooroordele prys te gee. Ek skrik terug voor hul driftigheid, maar groei daardeur in my verbondenheid aan hulle, soekend na groter volwassenheid in die geloof en groter gehoorsaamheid aan God se wil.