Sunday, March 31, 2013

Geel, wit en blou: die bindende vuur van die Gees kom in oorvloed






Die ikoon wat ek vandag raakloop op Erik Buys se webwerf is populêr geteken, 'n maklike uitbeelding van Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou.

Ek sit en wonder waarom dit my aandag dadelik trek.

Miskien is dit omdat ek sy blog geniet - en die genot oorspoel op die hoogs interessante illustrasies wat hy dikwels gebruik.

Miskien is dit oor die ligte, sagte kleure van hierdie Japannese "ikoon" (soos hy dit noem). Ek hou van die komplementêre kleure van geel en blou met al die verskillende ryk skakerings daarvan. 

Helder son-kleure vorm die agtergrond en gee warmte aan die verhaal oor die ongewone gesprek tussen Jesus en die vrou in Johannes se Evangelie. Schneiders het op 'n heel kreatiewe manier die trefkrag van hierdie gedeelte uitgelê as die roeping van 'n vrou tot apostel. 

Dit het van die Samaritaanse vrou 'n unieke sleutel-figuur, gemaak: mense, ook vroue, die "besittings" en "ondergeskiktes" van hul mans, kry ook deel aan die Evangelie-woord en - meer nog - kan dit verder gaan uitdeel. Die aanraking van die mistieke Christus-ontmoeting sou haar en ander se lewens onherroeplik omkeer en omvorm. Hulle kry 'n plek in die son. Die son van geregtigheid laat ook aan hulle reg geskied.

Maar die skildery is vir my ook boeiend oor die manier waarop die helderwit van Jesus se kleed 'n balans vorm met die wit rondom die vrou se kop. Die twee figure is in die wydheid van die wit vir altyd aan mekaar verbind: die Joodse Messias en die Samaritaanse Vrou. Die samebinding van ou aartsvyande, geswore opponente,  vertel van die die werking van die Gees wat nie meer vasgepen kan word in tempels in Jerusalem of Samaria nie. 

In Hom sou die Gees alle grense en plekke oorskry en alle mense in 'n intieme verhouding saambind. In die skildery deel Christus die Gees met die vrou. Een in die Gees, een in Liefde en Waarheid. In die vrou se hand is daar die emmer, ook wit, waarmee sy kom Water haal het. Die emmer van die dorstige vrou is gevul met geesvervulde woorde. Wit, so suiwer, so skoon, so insluitend en omsluitiend is die werking van God.

Uiteindelik is daar die blou van die vrou se rok. Haar blou klere smelt saam met die stromende blou waters wat so oorvloedig is dat sy en Christus, mistiek, halflyf, selfs, daarin staan, of byna daarop sweef.  Die Woorde wat dors vir ewig les, omhul, saam met die warmte van die gesprek, die twee figure. 

Die groot bruin put bring ons aarde toe en anker die toneel in die werklikheid: hier in Samaria, die plek van die vyand, het Hy op 'n keer ingegaan en die vyand tot volgeling geroep in 'n mistieke oomblik wat daardie plek en daardie dag ver en verreweg getransendeer en oortref het. 

Tydloos gee Jesus vir haar, en dus vir alle mense, deur sy oop handpalm dit wat sy in daardie put gaan soek het. Sy kry van Hom woorde, Woorde, die Uitnodiging en, daarmee, die Liefde. Hy neem haar weg van die aardse, na die Verborgene, na wat ewig is en alle kortstondigheid besweer. Hy deel met haar die krag van die Gees. En, ewe mistiek, stroom, in 'n vloed, die waters van sy woorde om hulle.  

Ek dink tog dit is Paassondag en die wonder van die dag wat my tot die skildery trek. Die skoonheid van hierdie Paas-evangelie, die sterkheid van die lewe oor die dood, van die liefde oor die haat, sou op die dag so duidelik na vore kom in 'n episode - ook uit Johannes Evangelie - in die Tuin waar Hy begrawe was:

Toe het Hy, na die harde lyding verby is, so gewoon gelyk, so vroegdag-rustig rondgewandel dat die ander vrou van betekenis in sy lewe, Maria, gedink het hy is die mens wat in die tuin gewerk het. So nuut, maar so gewoon was die nuwe lewe! 

Dit het net een woord, haar naam, gekos om haar uit die tranedal op te trek. Hy het ook met haar bloot net gepraat, maar in die gepraat ook weer onthul wie Hy werklik was en hoe koel, lewegewend sy woorde was

En soos destyds in Samaria met die Vrou-sonder-naam, het Maria vir die mans gaan vertel Jesus lewe. Woorde van die lewe, wat die dors van hulle skok en smart sou les, het sy aan hulle bedien.



Saturday, March 30, 2013

Die dag toe die gordyn voor tempel en wêreld oopgeskeur is...



Die meeste Bybellesers weet dat Lukas-Evangelie veral beklemtoon dat Jesus vir die armes en verstotenes omgegee het. Lukas het veral Jesus se reputasie as Iemand wat uitgereik het na hulle wat min het en wat geminag word, beklemtoon.

Oor die eeue heen lees vele lesers byvoorbeeld Lukas 6:20b-23 met verwondering. Dit is ‘n teks waarin die ontferming van die Ewige oor die wat ongerekend is onmiskenbaar na vore kom:

“Geseënd is julle wat arm is, want aan julle behoort die koninkryk van God. Geseënd is julle wat nou honger het, want julle sal versadig word. Geseënd is julle wat nou huil, want julle sal lag. Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die mens.

In meer onlangse tye vra uitleggers aandag vir ‘n ander aspek van die evangelie. Voorheen is ook onderstreep dat Lukas graag die lewe van Jesus in die groot geskiedenis van die volke van die wêreld plaas (bv. Lukas 4:1). Steeds weer, as ‘n ondertoon van albei sy werke, vertel Lukas van die plek van die Evangelie in die groter raamwerk van die Romeinse Ryk. Hier is Handelinge, wat eindig met Paulus se twee-jarige verblyf in Rome (Hand. 28), ‘n goeie voorbeeld. Wat Jesus begin doen het, het gevolge selfs vir die groot wêreldryk van die Romeine.

Dit sien ‘n mens in die lydensverhaal in die optrede van Pilatus en Herodes as Romeinse handlangers in Judea. Self by die kruis is die Romeinse Ryk teenwoordig. In Lukas 23:36 word vertel dat die Romeinse soldate Jesus hulle hou ingekry het en Jesus bespot het.

Dit is ‘n opvallende vertelling in die konteks van die kruis-verhaal. Die soldate se spot volg direk na die gespottery van die volk en hulle leiers. Die verwerping van Jesus is totaal: Jode en Romeine, die Joodse Raad en die Romeinse goewerneur Pilatus, beskimp Jesus.

‘n Mens sou kon sê: Jesus se eie mense en ook nie-Jode wys Hom af. Of, sou ‘n mens selfs kon byvoeg: Die volk van God en die volkere van die wêreld span saam in die verwerping van die heil.

Dat dit werklik Lukas se bedoeling was, word in Handelinge 4:27 duidelik gemaak. Petrus en Johannes is pas deur die Joodse Raad vrygelaat en bid dan saam met die gemeente: “Waarlik, Herodes en Pontius Pilatus het saam met heidene en die volk van Israel vergader teen u heilige Kind Jesus wat U gesalf het.” Heidene en die volke van Israel is kop in een mus.

Waarom is dit vir Lukas so belangrik? Hy wil duidelik wys dat die teenkanting teen Jesus op alle vlakke van die samelewing voorkom. En dit terwyl Jesus die “Heilige Kind” van God is wat deur God “gesalf is.” Dit is groot aansprake wat Jesus as die buitengewone verteenwoordiger van die goddelike wil uitbeeld.

Die teenstelling word des te meer pregnanter omdat dit nie gaan om ‘n oorlog tussen godsdienstiges en “heidene” nie. Dit is veel meer kompleks: dit is ‘n teenstelling tussen egte godsdiens en godsdiens waar God nie meer teenwoordig is nie. Of nog meer toegespits: nie net is die heidene verduister in hul siening van God nie. Ook God se uitverkore volk ken nie meer vir God nie.

Dit is, dus, in Lukas se oë, nie sommer voor die handliggend dat ‘n mens God ken as jy gelowig is nie. Godsdiens waarborg niks nie. Wat eerder tel is ‘n godsdiens wat ‘n mens in die teenwoordigheid van God bring.

Op drie maniere relativeer Lukas hierdie samespanning van die gelowige volk van God en van die wêreld-volkere teen die Lig en help hy die leser om die dieper sin van sy kruisverhaal te begryp:

Eers is daar die “goeie” misdadiger aan die kruis wat Jesus herken vir wie Hy werklik is. Dus, merkwaardig, daar is ‘n enkele Jood wat Jesus as Onskuldig uitwys en as Koning bely (41 en 42). Dit bly ondenkbaar dat hy boonop ‘n self-erkende midadiger is.  Een enkele getroue onder ‘n hele volk herken en betuig die Waarheid. En, in lyn met Lukas se fokus op die ongerekendes en armes, is hy juis die ongerekende, die verworpene, die arme en veragte wat Jesus herken vir wie Hy is.

En dan, na Jesus se laaste woord, word ‘n tweede getuie deur Lukas gebruik om te wys hoe lyk die weg na God: “Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig” (Luk.23:47). Die Romeinse offisier is ‘n simbool van die mense onder die volkere van die wêreld wat na Jesus wys as Lig van die wêreld.

Uiteindelik is daar ook die woord-lose reaksie van die skare om die kruis (Luk:23:48) wat hulleself op die bors slaan. Dit is ‘n teken, baie bekend in daardie tyd, van boete-doening, van skuld-besef en van rou.

Lukas wil met hierdie drievoudige perspektief sy boek Handelinge voorberei: reeds aan en om die kruis was daar die oorblyfsel, die klompie mense wat die verborge werking van God herken het. Selfs die Romeinse soldaat kon nie anders nie. Uit alle volke kom hulle - uit God se totale skepping.

Later, in Handelinge, sou daar meer en meer bykom – uit die Joodse volk, maar ook uit alle wêrelddele.

Die Jesus-verhaal het hierdie Romeinse soldaat en die samedrommende skare radikaal verander. ‘n Kort rukkie tevore het die soldaat nog vir Jesus geminag en vir Hom suur wyn gegee. Maar aan die einde “het hy God geprys.” Die teks beklemtoon dus dat hierdie soldaat in Jesus die werking van God raakgesien het. Hy is volledig verander en getransformeer.

Die hele wêreld, God se totale skepping, word deur die lewe van Jesus in ‘n nuwe rigting gestuur. Die herskepping is aan die gang.

‘n Mens kan Lukas se “kosmiese” perspektief op Jesus op baie maniere van naby bekyk en dit reduseer tot allerhande aktivistiese praktyke.

Maar dit is goed om bietjie terug te staan en die kosmiese implikasies van die evangelie vanuit ‘n ander hoek te bekyk: in Jesus word die skepping weer met die Skepper verenig. Dit beteken dat die mensdom nie ter wille van homself bestaan nie. Dit geld vir die Joodse volk, maar ook vir die Romeine. Dinge loop verkeerd wanneer mense in hul eie bestaan opgesluit word – skryf Waaijman oor deformasie. Dit is dan wanneer hulle op dinge begin vertrou wat nie die tyd sal oorleef nie.

Soms verstaan mense dat vertroue op voorlopighede futiel is: hulle sien met verwondering teenoor God dat Iemand soos Jesus in die aller-akuutste oomblik vol vertroue in God as “Vader” kan sterf selfs al het alles om hulle in duie gestort. Die verlies aan hul geliefdes en aan hul eie lewe is niks teen die groter voorreg om ‘n mens aan God toe te vertrou.

Iewers neem die wêreld in Lukas se oë al hoe meer kennis van die evangelie: die blye tyding dat God alle mense as God se skepping nooit agterlaat nie. Uiteindelik keer die skepping daarmee terug na die begin van alle dinge: die transformasie in herskepping, ook van die soldaat, is uiteindelik ‘n omkeer en terugkeer tot God. ‘n Mens leef vanuit die bewussyn dat ‘n mens aan God behoort, dat ‘n mens se eintlike tuiste by God is – die Een wat met die skepping alle begin het en dit altyd weer onderhou. Wie dit besef, ontdek die rykheid van God se goedheid.

Wat ‘n mens weer terugneem na Jesus se belofte aan die “goeie” misdadiger dat hy met Hom in die paradys sal wees. Die paradys as God se woonplek. Die volkere van die wêreld word gekonfronteer met God se herskeppingswerk. Die voorhangsel skeur oop. Die digte gordyn wat tempel en wêreld van God afgesluit is, is geskeur - God woon weer in die skepping.

Friday, March 29, 2013

Goeie vrydag en die liefde


Na die diens, draf ek vanmiddag ‘n bandelose 12 kilometer al langs die seepad. Ek het min aan die oefen gekom. Die lyf smag dus om gebrei te word. Die instelling op die diens het immers ook tyd gevra. Mens pluk nie so iets uit jou mou nie. Dan bly die gewone dinge agter.

Ek is dus hart en siel in my draf-tydjie verlore – asof in ekstase.

Dit is Maartmaand. Hier en daar steek die Maart-lelies hulle koppies al flink bo die grond uit. Net twee blaartjies. Groen, groen en petiet lê hulle platore op die gras. Binnekort sal die bloedrooi lelie, net een blom, tussen die blare opkom en kortstondig, sommer net, so sonder rede, uit pure oorvloed, God se skepping verryk. Kortstondig sal dit ook die Herfstyd mooi maak. En dan, binne dae, sal hulle weg wees. Om ‘n mens daaraan te herinner: dit is herfs, die seisoen om oor die oorgange in die lewe na te dink.

Dit is die Goeie Vrydag-gedagtes wat by my op die vroeë herfsdag langs die see opkom: die kom en gaan, ook van die lydenspad, altyd intens, maar steeds weer voltooi en afgerond in ‘n laaste dag, die finale oomblikke, die volbring van die goddelike wil.

Die stilheid en soberheid van die dag is in die lug: Die Goeie Vrydag op ons geliefde kuier-plekkie is hierdie jaar die hele dag deur bewolk. Reënwolke pak so af en toe saam, maar deur die dag wil-wil die son homself laat voel. Ek swem vanoggend na die diens. Die water is lekker, die see, na die volmaan-nag, ongewoon laag. Enkel-diep kan ‘n mens byna diep-see instap.  

Maar die goedheid van die natuur bly sing ‘n mineur-ondertoon: God treur.

My draffie al langs die seepad, is vol betowering: die see is ‘n herfse diep-blou, maar so helderblou dit ruk aan jou hart. En kus-langs breek die branders juis teen die horison van die blou witter as ooit tevore. Dit is asof die wit ‘n mens se gedagtes vir ewig wil laat stilstaan. En jou wil laat vashou, in die gedagtes wat in jou spoel, aan die beswering van kortstondigheid, aan die trou van God wat oor eeue heen bly – soos die wit-spoel van die golwe wat gedurig en altyd daar is - keer op keer, dag na dag, seisoen vir seisoen.

Goed is God se skepping en die trou van God wat dit bly onderhou. So goed soos die liefde wat op hierdie dag tot die uiterste beproef en bewys is.

Maar die dag is laat-aand so stil. Daar is nie ‘n trekkie in die lug nie. Net die see wat op ‘n afstand raas, maar ook maar net, amper huiwerig-stil, asof dit ‘n mens se aandag van die dieper dinge nie wil wegneem nie.

So stil is hierdie aand soos dit was vir Hom nadat hy op hierdie dag sy lewe gegee het. Die Een wat God met eerbied en ontsag gedien het (Heb.5:7) se lyding is uiteindelik verby. Vir altyd is dit oor, is die taak volbring, is die liefde vas geborg, is die ewigheid in ons midde. Want hoe kan die Liefde ooit gepeil word? Eeue sal ‘n mens daarmee besig bly. Seisoene sal dit neem om daarin te woon en daarin bly te wees.

Veel ryker as die genoegdoening oor ‘n middag-draffie langs die allerskoonste lieflingsstrand, is die innerlike vervulling wat 'n goeie vrydag bring. Dit is goed om op hierdie Dag in die Teenwoordigheid van die liefde te kan wees.

Thursday, March 28, 2013

Goeie Vrydag as liefdesdag

Ek wou eers iets anders oor Goeie Vrydag hier skrywe.
 
En toe, onverwags, beland hierdie berig uit vandag se Trouw op my rekenaar. 
 
Dit vertel hoe die pous daarop aandring dat priesters in nouste kontak met gemeentelede bly. Hy noem as voorbeeld van sulke intieme kontak, die gebruik in sy kerk om siek lidmate te salf waardeur die priester baie naby aan die lidmate kom. Dit is nie die salwing wat vir die pous so belangrik is nie. Dit is eerder die kontak tussen geestelike leier en gemeentelede wat hy wil beklemtoon. 
 
Met die woorde wil die pous uitspel watter verleiding dit vir geestelike leiers is om niks anders as maar net nog 'n bestuurder te word soos vele ander bestuurders in die besigheidswêreld. Die geestelike leier word 'n organiseerder wat aan die spits van 'n groot bedryf staan. Die predikant sit in 'n kantoor, bedink strategie, toets modelle, praat oor die "belangrike" dinge, en organiseer ander om geestelike werk te doen.
 
Vir so 'n geestelike bestuurder wag daar volgens die 76-jarige pous teleurstelling en ontnugtering. Hy weet. Hy het leeftye se ervaring.
 
Die afstandige geestelike hoor nie die dankwoord van die siek mens wat bemoedig voel deur 'n besoek, deur 'n gebed, deur 'n simboliese handeling waarmee God se seën oor die sieke versinnebeeld word. Hy of sy sien nie die warm blik van 'n lydende mens wat aangespreek voel deur die omgee van 'n besoek nie. Hy of sy kyk nie sy gemeentelede tuis en in die hospitale in die oë nie. Hy staan nie in die branding van die stryd nie.
 
Die geestelike leier sonder 'n daaglikse verkeer met ander gelowiges en sonder die wedersydse geneentheid wat daardeur opgeroep word, meen die pous, is bestem om uitgebrand te raak en met 'n verdorde hart rond te loop. Dit is wanneer 'n mens in die veld is, tussen die ander stry, dat 'n mens vervulling vind.

'n Mens kan die pous se woorde "vertaal" vir baie ander kerkverbande. Daar sit iets universeels in sy woorde.

Op Goeie Vrydag herdenk die kerk die bedieningsmodel van die Een aan wie dit behoort. Terwyl ek my boodskap voorberei vir môre se nagmaal, val dit my opnuut op hoe die lewe en werk van Jesus deurtrek is van die diens-motief. 
 
Diens is in die konteks van die lydensverhaal nie 'n leë mode-woord nie. Dit is 'n diens waarin Jesus Homself prysgee en Homself nie meer laat geld nie. 
 
Om dit te begryp kan 'n mens die kruisverhaal weer bedink: Die rower aan die kruis word die sinnebeeld van gelowige verwondering wanneer hy uitroep dat Jesus "onskuldig" gekruisig word. Dit is wanneer die motief van onskuld bedink word, dat die kruis 'n aangrypende simbool word. Dit is 'n verhaal oor Jesus se diens - oor die lydensweg wat gekies word ten koste van jouself, met die uitdruklike begeerte dat ander God kan ontmoet. 
 
Die rower het dit gesien: hierdie Man, Jesus, die stukkend geslaande Kruiseling, is die beeld van onskuld, van Goddelike diensbetoning. En toe, toe hy, die rower, dit in Jesus herken, hoor hy ook van Jesus die salwingswoord: jy sal met my in die Paradys wees. So is hulle twee dan, die Kruiseling en die Rower, in 'n volmaakte eenheid in die teenwoordigheid van God.

Watter onoortreflike wisselwerking is daar tussen Jesus en die rower: hulle reik na mekaar uit. Hulle sien mekaar raak. Hulle hoor trooswoorde van mekaar. Die Rower sien die onskuld en dit laat hom verlang om by God te wees: dink aan my!, roep hy tot Jesus. En dan neem Jesus, oorstelpt deur die man se begeerte na God, hom saam die paradys in. Dit is 'n mistieke wederkerigheid en 'n onpeilbare vereniging. Die diens van Jesus, sy uitreiking na ander deur Homself prys te gee, gaan nie onopgemerk verby nie.  
 
By hierdie punt, wil ek nou bedink, het 'n mens uitgekom by Goeie Vrydag as 'n liefdesdag. Die kruisverhaal waarin 'n Rower met liefdevolle ontsag die Onskuldige sien en verlang om by Hom te bly, vertel hoe hy die verlossende Liefdeswoord van die Kruiseling hoor dat hy in heerlikheid, in die paradys, getransformeer sal word. 
 
Geen wonder dat die kerk steeds weer op Goeie Vrydag die nagmaal as liefdesmaal vier. Dit is die tyd dat die kerk die Liefdesoffer van die Lam herdenk - gegee ter will van almal wat ver van God weggeval het. Die Lam het naby aan ons gekom, as brood en wyn het Hy selfs deel van ons alledaagse, liggaamlike bestaan geword. 

Hier is die artikel oor die Pous se opmerkings:
 
 
Priesters verzaken hun opdracht als ze zich niet voortdurend ten dienst stellen van hun 'kudde'. Met dat appèl leek paus Franciscus het belang van de kerk te relativeren.

De afgelopen dagen profileerde Franciscus zich al als een paus die zorg voor zwakken en spirituele groei hoger op de agenda heeft dan het zo strak mogelijk besturen van de kerk. 'Een goede priester is te herkennen aan de manier waarop hij zijn mensen zalft', preekte hij donderdag tijdens de chrismamis. Bij die jaarlijks terugkerende mis zegent de paus de olie voor ziekenzalving.

Het zalven van zieken is wat Franciscus betreft 'een echte test'. Een priester die zijn parochie nauwelijks of niet zalft, 'mist het mooiste, en dat wat zijn priesterlijke hart diep kan raken'.

'De manager-priester raakt gedesillusioneerd'
'Wie zichzelf niet dienstbaar opstelt, wordt een manager', waarschuwde de paus. 'Een manager hoort nooit een warm, welgemeend woord van dank. Dat is precies de reden dat sommige priesters geen bevrediging meer vinden, teleurgesteld raken en hun hart verliezen.'

In sommige gevallen worden geestelijken die zich niet eerst en vooral richten op hun 'kudde' zelfs niet meer dan 'verzamelaars van antiek'.

Donderdag voegt Franciscus de daad bij het woord; hij wast dan de voeten van jonge Romeinse gevangenen. Het ritueel, dat pausen normaal gesproken enkel uitvoeren op priesters, lijkt een van de eerste uitingen van Franciscus' streven naar een 'arme kerk voor de armen'. Eerder deze week werd bekend dat hij voorlopig niet gaat wonen in het pauselijk paleis, maar in een sober appartement.

Wednesday, March 27, 2013

Wanneer ateïste soos gelowiges leef...

Hierdie brief het eergister in die koerant verskyn. Sedertdien bly ek daaraan dink.

 

Te meer so oor 'n ervaring wat ek onlangs het toe ek op besoek is in 'n plek waarvan die gemeente van bo tot onder vir of teen die predikant geskeur is. Die hare waai. Groepies raas en baklei met mekaar. Telefoonlyne gons van die kwaai verhale. Dreigende epos-briewe doen die rondte. Vingers word geswaai.     

 

Mense praat dikwels hieroor wanneer hulle daarop dat daar in so 'n geval nie veel verskil tussen 'n gemeente en die "wêreld" is nie.

 

Dis seker al erg genoeg. Al wat erger is, is wanneer 'n briefskrywer, soos hieronder, vertel dat die "wêreld"'n voorbeeld vir die kerk is.   

 

Hier is die brief:    

 

Gelowiges maak dit maklik om nié te glo

deur Epimetheus 2013-03-25 22:00 

Hoewel ek die nimmereindigende en met tye intellektuele debat oor geloof altyd met belangstelling volg, bly die interessanter aspek van geloof vir my die korrela­sie tussen gelowi­ges se daaglikse handel en wandel.


My werk-, kennis- en vriendekring bestaan uit ’n verskeidenheid individue van verskillende kerkdenominasies, asook ateïste. As iemand wat die lewe intens ervaar, is ek geneig om mense se optrede te analiseer. Dit is vir my dus opmerklik dat dié wat bely dat hulle nie glo nie, se optrede, emosies en lewensuitkyk baie meer ooreenstem met my verwagting van hoe gelowiges moet optree en kommunikeer in hul handel en wandel.


In die werk­lewe is dit opmerklik dat die gelowiges gereeld koud en ongevoelig teenoor hul medemens staan. Dit gaan net oor die self. 

Dit is die optrede van dié wat glo, wat dit vir my makliker maak om nie te glo nie.


Epimetheus
Durbanville

Blog Archive