Friday, May 15, 2009

Afskeid

Daar het loodswaar wolke, vol belofte van emmersvol (broodnodige) reënwaters, oor Stellenbosch vanoggend gehang. Dit was ‘n pragtige gesig, die laaghangende wolkmassas wat oor die berge van ons dorpie as ‘n waardige begrafniskleed uitgehang is.

Ek het Prof Jan de Villiers se begrafnisdiens in die moederkerk bygewoon. Hy was my promotor en ek was destyds in die eerste derdejaarklas wat hy op Stellenbosch as nuutaangestelde dosent na die aftrede van prof. Jac Muller gehad het. Lekker dosent wat eindelose draaie by allerhande interessanthede gaan maak het. En na die bedompige jare selfs gewaag het om vir ons te vertel wie Rudolf Bultmann is en wat hy geskryf het.

Hoe sal ek hom onthou? As die een, wanneer ek by sy huis kom met ‘n hoofstuk van my proefskrif, eers vir my die stukke op die klavier gespeel het wat hy as dirigent vir die sangfees-koor vir die groot jaarlikse sangfeeste wou laat sing. Hy het hom verlustig in die kans wat hy gehad het om die massakoor af te rig. En hy het steeds onthou hoe baie het ek gehou van sy Morning has broken wat hy hulle een jaar laat sing het. Of ander kere het hy sommer net vlytig ‘n klassieke stuk gespeel. Ek sal hom onthou as iemand wat my opbel en saamnooi Nuweland toe vir ‘n krieket-toets. As iemand wat die groot teologiese pretensies om hom stilweg, sonder veel gepraat, met ‘n half-mas oog bekyk het. Een van die gesigte wat my bly bybly is hoe hy uit die dorpsbiblioteek met ‘n arm vol nie-teologiese boeke uitgestap kom. Hy het ‘n wye horison gehad – daarom sy vertaling van Erasmus.

Ek verwonder my, terwyl ek in die kerk sit, weer aan die ryk kleure wat deur die sier-vensters op ‘n mens afspeel. Maar in die stil atmosfeer kry ek kans om hom vir oulaas te huldig met goeie herinneringe. Maar ander dinge bly my ook by van hierdie diens, behalwe die kerkgebou, die vensters en al die herinneringe (intertekste) wat dit aan ander dienste daar oproep (ons jongste kind is daar gedoop, deur my pa, toe ons in Rattraylaan gewoon het).

Hoe val die ouer geslag nou weg.

Die kerk is vol grysaards. Tydgenote wat kom afskeid neem.

Buite gaan die lewe rustig sy gang, onverstoord, gejaagd, die daaglikse roetine. Dit is net nog een van baie begrafnisse.

Maar binne sing ons “Op berge en in dale” uit die ou ou Psalm-geboek. En die bekende orrelis speel ‘n wonderlike improvisasie daarvan voor die tyd. Ek vloei weg in die note, weg in herinneringe aan al die ou tye oor baie jare in baie plekke waar die lied gesing, aangehaal, gebid is.

Twee Schubert-liedere word gesing, in Duits. Dit is smaakvol, sober, rustig. Prof. Jan se gunsteling liedere, sê sy seun in sy huldeblyk so sonder fietrjassies en aansit. Sy doen van die blyk pas vir my by die diens. Dis hoe ons ons pa en ma begrawe het. “Aan die kunste.” Sing sy die Schubert lied.

Maar dit maak dit alles so skreinend seerder as destyds met my oom Jan se begrafnis op Hanover toe ant Vya, behoorlik opgewerk omdat niemand die begrafnis behoorlik treurig na haar sin hou nie, vol drama by die lykswa gaan staan en snik het. Dit is die mooiheid van soberheid, van terughoudendheid, van understatement wat die verlies intenser maak. Want mense wat ryk is in die lewe, in diepte, kan ‘n mens op ‘n telraam bereken.

Prof. Jan is op die rype ouderdom van 87 jaar dood. Hy het tydens ‘n kerkdiens sleg gevoel en net daar gesterf. Sommer vinnig.

Op hierdie stil-treurig-mooi dag in so ‘n mooi omgewing kan ‘n mens met soveel waardigheid en met soveel hartseer ‘n punt by ‘n lewenssin sit – hoewel te gou geskryf, te onherroeplik verby, te finaal. Nog iemand wat jy nie weer sal kan gaan opsoek nie.

Die swaargelaaide, donker wolke het dik strome reën uitgegiet toe ek na die begrafnis gou af dorp toe is vir ‘n paar takies. God se trane-bui wat die opgekropte hartseer uitwoed. Stellenbosch se lewe gaan voort. Die eeue sal kom en gaan. Ons name sal nie aan die vergetelheid ontruk word nie. Die tye sal oor ons nagedagtenis kom lê en dit vir altyd verdonker. Ons voetspore sal uitgewis word. Die waters van die tyd sal alles wegspoel waarvoor ons gelewe het.

Om voluit te lewe totdat hierdie waters uitgegiet word. Om dan te drink uit die fontein van die ewige lewe.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive