Sunday, May 17, 2009

Sheila Cussons en die mistiek.

Hier volg die gedig


Huis paleis …

Jesus, jy’s te laat, of te vroeg vir die media,

Jy’s nie op die kassie nie – waar ‘n ruigte antennes

die lug inreik uit elke onbevoorregte dak –

‘n regte kêrel, ‘n werkerleier, sonder ‘n burgerdas.

Jy’s hier? Jy Leef? Jy ly in ons? Sal jou sê wa’jy kan

doen met jou lyding. Óns verkies ‘n Mercedes.

Heil is dít: elke dik kapitalis in sy moer,

die wedrenne, steentjies en kreef, en aborsie gratis

en drinks all round tussen nou en bokveld toe.


Die slagspreuke op die mure

struikel oor stukkende spelling, en wanneer my huishulp,

opgeknap, om twintig oor vyf verkas in ‘n wolkie

duur parfuum, is dit ék wat haar wrokkige woede

voel – “my oom kan kak op die Kerk” – teen alles wat

haar belet om haar droom te vind in die Groot Doodloop.

Vanaand sal sy weer voor die skerm sit, mooi dinge sien

en smag, en nie weet nie want hóé kan sy weet

wat dit is wat haar hart met ‘n punt laat trek –

en weer kom die woorde: besige Christus, jý!

Onpartydige daarby, ek weet: my pap piëteit,

my lekkergelowigheid sal g’n niks sagter hanteer word

wanneer jy met ‘n laaste ruk ‘n vinnige einde maak

aan al ons pyn, en jou skoon vure, ontketen,

dreun om jou aarde … deernis is dít. Anders as

aalmoes-liefdadigheid en enigiets-net-vir-die-vrede-

Ruk dan, al skyt ek by die gedagte, want

nadat die as met ‘n sug gaan lê het en alke doodloop

as tot die einders is, sal jy kom in ‘n storm musiek –

o barshart hóór, onthou jy? – sal ons huis toe huil

in jóú Hart in, o voltooide Christus, en jý sal huil.


Hier is my vinnige lesing van die gedig (kyk die volle gedig heel onder):



Hier is my vinnige lesing van die gedig:

1. Druk dit op in...
Cussons skryf die gedig oor mense wat aan die massa-kultuur en –vermaak van ons tyd verslaaf is. Vir so iemand tel Jesus nie. Daar is ‘n kru reaksie oor enige iets diepers aan Jesus: “Jy’s hier? Jy leef? Jy ly in ons. Sal jou sê wa’ jy kan doen met jou lyding. Óns verkies ‘n Mercedes”.

Enige iets in die dampkring van hierdie mistieke Jesus is vir hulle goor. (Daarom sê die digteres se huiswerker ‘n entjie verder: “my oom kan kak op die Kerk”). Die werker onder die “onbevoorregte dak” assossieer die dieper dinge met bevoorregting. In die lig van sy eie, geslote bestaan tel blote uiterlike vermaak die meeste. Saligheid / “heil” is die volgende: “dik kapitalis in sy moer, die wedrenne, steentjies en kreef, en aborsie gratis en drinks all around tussen nou en bokveld toe.” Die Epikureïese, laat ons leef, môre sterf ons.

Hierdie ruwe eerste paneel oor die siniese afwysing van enige vorm van ‘n lewende Jesus wat leef en ly in ons (strofe vyf) word deur ‘n tweede paneel verder uitgewerk. Die paneel word met ‘n duidelike breuk, ‘n oop spasie in die teks ingelei. Die digter waarsku: hier kom ‘n wending. Die tweede paneel word ingelei met ‘n verwysing na slagspreuke wat struikel oor stukkende spelling (lekker s’e). Graffiti teen die mure wat die werkersopstand uitdruk? En verraai dat hulle nie eers behoorlik kan spel nie? En daarmee hul klein, ongeletterde wêreld met sy toe bestaan uitspel?

Die digter dig in die tweede paneel oor haar huishulp wat opgedos en besprinkel met duur parfuum na werk “verkas” terwyl sy die digter ‘n “wrokkige woede” laat voel “teen alles wat haar belet om haar droom te vind in die “Groot Doodloop”. Moenie my, jou huiswerker, belas met jou idees van kerk/Jesus/lyding nie. My drome lê elders. Sy is ook voor die kassie vasgenael waar sy “mooi dinge” sien en daarna smag

Sy is die vroulike weergawe van haar manlike ewknie: die brommer, die dobbelaar, die sekspes en drinkebroer van die horende dowes en die siende blindes.

Hier, in die massa-kultuur leef mense in ‘n doodloopstraat. Hulle het geen lewenshorison nie. Hulle bestaan is geslote. Hulle kyk vas teen ‘n kassie. Dit is, in haar woorde, “die Groot Doodloop.” Die kru taal van die gedeelte reflekteer die hardheid van hierdie lewe. In so ‘n geslote bestaan is ‘n mistieke Jesus ondenkbaar. Die beste wat ‘n mens van Jesus kan sê is dat hy ‘n regte kêrel is, ‘n werkerleier, sonder ‘n burgerdas. Maar moet tog nie met ‘n gely kom sukkel nie.

2. Die onherkende verlange wat hom op jou wreek
Deur die vroulike karakter van die huiswerkster ontwikkel die digteres die gedig verder. Sy wys op die innerlike behoefte wat daar onherkend skuil in die reisigers op die doodloopstraat. Die werkster, dig sy, gaan ook die aand voor die kassie sit en smag “en nie weet nie want hóé kan sy weet wat dit is wat haar hart met ‘n punt laat trek”. Iets in mense vra na die diepere dinge, hulle “sien en smag” na “mooi dinge”. Hulle verlang na die vervulling. Maar tog nie weet wat werklik mooi is nie.

Hoe vernietigend, ontdek ‘n mens hier, wanneer die verlange nie biddend is nie! ‘n Mens se diep verlange na die transendente wreek hom op jou as jy nie eers bewus is dat dit God is waarna jy smag nie. Waar die instelling op die diepere ontbreek, waar daar nie ‘n openheid is nie, word die mistieke ervaring by voorbaat afgesluit en word mense se lewens afgetakel. Hulle word woedend vir die goeie. (Petrus by sy verraad!).

3. Die ekstase
Ons hart word getrek, gee die digter die antwoord, deur die besige Christus. Maar hy is eintlik nie ‘n “antwoord” nie. Hy is die Een met wie ‘n mens in gesprek tree, vir wie ‘n mens oop is. Hy is die “besige Christus, jý!” Dit is nie ek wat oor Jesus praat nie (die subjek – objek verhouding nie). Dit is ‘n mistieke relasie, gevind in die liefdesverhouding waarin ek opgeneem word deur Iemand wat “besig” na my uitreik. Dit is ‘n verhouding van “deernis”. Ek ontvang ontferming. Ek staan buite myself, my Mercedes, my duur parfuum is vergete. Ek staan voor jou, bewus van wat jy nou aan my gaan doen.

4. Die oratiewe
Die laaste, derde paneel van die gedig is ook ‘n dialoog – die digteres bid uiteindelik (die oratiewe) tot hierdie besige Christus. Haar beskrywing van die onbevoorregtes se oppervlakkigheid en geslotenheid slaan oor in ‘n gebed vir Jesus wat hier is, wat leef, wat ly in ons (strofe vyf). Gesprek “oor” word gesprek “met.” Die versmorende geslotenheid van die afwysendes bring haar tot dialoog met die een wat werk, wat aan die gang bly, wat Hom nie laat stuit deur afwysing, verwerping en sinisme nie, maar wat tog vra vir ‘n oop-wees vir die diepere. Die “sien en smag” bring haar tot die versoek: “Ruk dan”, maak skoon, al is dit deur vuur heen.

Die kontras is skel: Teenoor hierdie gebed aan die“Jý” wat besig is om my huis toe te kom haal (twee laaste strofes) staan die Groot Doodloop en die druk-dit-op-in-mentaliteit wat dit oproep. Die pondok en varkhok wat in die titel van die gedig ontbreek maar wat eintlik daar oorheers (die oop ruimte...): want dit is die modderpoel waarin ons eintlik regtig leef daar waar ons voor ons kassies sit en in ons Mercedesse ry, waar ons gaan eindig by die bokveld as ons lot. Die een bid om in deernis gereinig te word (Maak deur ‘n laaste ruk ‘n einde aan al ons pyn....), die ander een wil vir Jesus sê wat om met sy lyding te doen. Druk dit op in / Stuff dit, Jesus.

5. Die nietiging
Ek, die vroom, meelewende leser, die bevoorregte een, wat goed kan spel en gedigte kan maak, wil op die punt al my kop knik, instemmend, oor wat ek lees. Die openingswoorde van die gedig het by my ingesak as die lewenswyse van hulle wat nie die mistiek ervaar en begryp nie (Jesus, jy’s te laat, of te vroeg vir die media, jy’s nie op die kassie nie): voor my doem bekende gesigte op wat ek soms as pastor op besoek raakgeloop het – die skaars bedekte grynslag oor wie jy is en wat jy verteenwoordig (“my oom kan....”). Ek het hulle ook raakgeloop onder die wat so vir die nuwe Here is (Cussons skryf gedigte oor die ywerige nuwe teoloë wat nie hou van “leviteer” nie en patertjies wat in T-hemp en jeans op hul fiets verby straal). En orals, orals, voel ‘n mens, afkeurend, is daar nie “diepte” nie, is ons weggesyg in die modderige massa-kultuur.

Maar Cussons verstaan die mistiek. En die slot van die gedig is skokkend self-onterend, self-dekontruerend, self-impliserend (die instelling...). Selfs die vrome insig in die doodloopstraat van ander wil die digter nie te hoog aanslaan nie. Voor Christus moet ‘n mens nie te gou vinger wys na die voor-die-kassie-plakkers (!) nie. Christus is “onpartydig” – Hy kies nie kant teen die een groep alleen nie. Die digter self kom onder die deernisvolle oordeel staan. Haar vroomheid is vir haarself iewers ‘n “pap piëteit,” ‘n “lekkergelowigheid.” (In die mistiek tref die nietiging veral jou eie godsdienstigheid). Wanneer Jesus skoon maak, sal hy dié vroomheid ook nie ontsien nie. Dit “sal g’n niks sagter hanteer word wanneer jy met ‘n laaste ruk ‘n vinnige einde maak aan al ons pyn” nie. Selfs my vroomste vroomheid moet in die mistieke ervaring tot niet gemaak word. Geen vingers om te wys nie, né.

Die besige Christus se deernis verskil van die “aalmoes-liefdadigheid” en “enigiets-net-vir-die-vrede.” Dit is nie vryblywend nie en ook nie patroniserend nie. Hier word ontfermend uitgeroei. Goddelike deernis is die deeglike, deur vuur heen skoonmaak: Christus – “Jy” wat jou vuur laat “dreun om jou aarde” – wat met ontferming al ons leë drome uit ons uitruk (“met ‘n laaste ruk ‘n vinnige einde maak aan al ons pyn”). Hy gaan “elke doodloop” van ons tot as verbrand totdat die as met ‘n sug gaan lê en tot by die einders strek. Die skoonmaak is totaal, die vuur brand alles weg. Die Groot Doodloop (hoofletters) is nou “as.’ “Elke doodloop” is as tot die einders toe, net waar jy kyk. Dit lê vernietig, uitgebrand tot by die verste horisonne van ons bestaan.

Hier word die minder vromes en die wat opreg vroom wil wees albei gesuiwer. Ons vind die suiwering in passiwiteit – ons “passie” soos die passie van die Heer. Deur ons lyding word ons gereining en verenig met God.


(Waar is die profete wat God se verwerping van die uiterlike vroomheid aanvat en wat die kwaad uitdaag? Hier, in die gedig!).

6. Kontemplasie

Ruk dan, al skyt ek by die gedagte, want
nadat die as met ‘n sug gaan lê het en elke doodloop
as tot die einders is, sal jy kom in ‘n storm musiek –
o barshart hóór jy? – sal ons huis toe huil
in jóú Hart in, o voltooide Christus, en jý sal huil.

Die harde taal wys die gewelddadige reiniging aan. Net die gedagte aan wat moet gebeur is al skrikwekkend.
Die suiwering is pynlik. Terwyl ons pyn het, huilend omdat ons gesuiwer word van alles wat ons andersins so kosbaar ag, is ons op pad huis toe. Al huilende, want die brand is kwaai, word die pad “huis toe” afgelê:

Ons is passief in hierdie prosess van skoonmaak. Christus werk onmiddellik en direk met ons (die mistieke ervaring!). Terwyl in die massa-kultuur alles anders doodloop en in bokveld eindig, kom hier voltooiing (o “Voltooide” Christus; hier is closure). Die besige Christus hou op met suiwer, met brand. Hy is nou die voltooide Christus. In die plek van die doodloop is ons tuis by die Een – by die “Jý!” Daar word ‘n “einde” gemaak aan ons pyn. Ons vind deernis. Die closure kom wanneer die wat gesuiwer word in die goddelike hart ingeneem word. Dit is die oorweldigende eenwording: – ons word afgesluit in die mees intieme sfeer van die goddelike.

Ons weet dit tog (o barshart hóór, onthou jy?”).

En hierdie Christus het deernis, soveel so dat dit hom tot trane bring wanneer ons uiteindelik tuis is. “Jý sal huil” is die slot-woorde van die gedig. Ons is in sy hart in (“in jóú Hart in” – die hoofletter hart, die geaksentueerde jou). Kontemplatief, in die teenwoordigheid van die Passievolle, die Deernisvolle.

Nawoord: ek is gepuzzle oor een boeiende sin: Duidelik wil Cussons die oppervlakkigheid van die onbevoorregtes uitwys as sy skryf: “Die slagspreuke op die mure struikel oor stukkende spelling,... Maar waarom die spasie en waarom die komma?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive