Tuesday, May 12, 2009

Om in God se hande te wees.... Oor passiwiteit en onmiddelikheid in die mistieke ervaringi

Ek dink vanmiddag aan ons aktivisme as gelowiges. Ons hou van godsdiens wat “lewe” en ‘n verskil maak.Dit is ook iets wat ‘n mens in die mistiek ry: die mistiek is nooit wêreldvreemd nie. Daarom word daar gepraat van die “deurwerking” van die mistieke ervaring. Mense wat op’n mistieke manier deur God aangeraak het, sien die verandering prakties in hul persoonlike lewens en in hul verhouding tot die gemeenskap waarin hulle lewe. Hulle woel in diens van God. Hiervan hou ons, want ons is bietjie versigtig vir ‘n vreemde, mistieke, uitsinnige ervaring van God wat vir ons al te veel na vroom geesdrywery klink.

Maar Jesus het dikwels gewaarsku teen ‘n besige godsdiens. Al die vroom gedoen, die baie offers, die lang gebede was vir Hom weer ‘n probleem. Bly maar weg van die vertonerigheid. Hy is ook maar wantrouig teenoor almal wat in hul sendingywer kilometers aflê om bekeerlinge te maak.Daar sit agter al ons vroomhede dikwels pogings om ‘n houvas op God te kry, om die gang van ons geestelike lewe te dikteer, om God se plek in ons lewens stilletjies te usurpeer. Dink maar aan daardie Fariseër wat ywerig in die voorste stoel ingeskuif het om vir God te vertel hoe godsdienstig hy is. Die aktivisme slaan op baie plekke uit – ook waar ons ons so nederig hou voor God as slegte sondaars. As ek God tog maar kan oortuig van hoe vroom ek is.

Die egte mistieke ervaring is baie meer en anders as só ‘n aktivisme. Lank voordat die mens wat deur God aangeraak is, se lewe in diens van God staan, gebeur daar met hom of haar iets baie diepers.

Die egte mistieke ervaring probeer nie vir God imponeer nie. Die ek verdwyn heeltemal van die toneel. As God ‘n mens aanraak, het jy nie meer enige iets te sê, te doen of te bid nie. Jy wag maar net daar dat God met jou werk. Hier word alles wat jy wil doen of wat jy wil beplan agter jou gelaat. God is die een wat in aksie is. God werk. En ‘n mens ontvang net, passief en afwagtend.

Dit is ‘n merkwaardige wisselwerking tussen die wag op God en God se werk. Hoe meer God aan my werk, hoe meer word daar van my ware ek gevorm. Dit is asof God jou ou “ek” neem, dit smelt soos warm was sodat dit vormloos is, om net weer ‘n goddelike kunswerk uit die vormlose bol was te skep. Hoe meer God werk, hoe helderder kom die egte beeld van God in mens na vore. Wanneer God ‘n passiewe mens só vormend aanraak, word die nuwe mens gebore. God se vormende vingers neem my vormlose lewe en skep direk, dadelik, sonder enige hulp, sonder my inmenging, iets nuuts uit my. Ek moet afwag hoe God self direk en onmiddellik in my lewe ingryp. Iemand wat deur God aangeraak word, word omgesmelt. Hy lyk nie meer soos vroeër nie. Hy is nuut. Hy word gebore. Sy het iets anders geword. Hy het ontword aan wat hy altyd was. Hier is dit nie my gebede, my welsynswerk, my goedheid wat my lewe heilig en mooi maak nie. Hier word ek sonder enige deelname geskep.

Wat kan ons doen sodat God ons aanraak en omvorm? Niks. Wat moet ons doen as ons in ons die mistieke werking van God voel? Gee. Gereed. Bereid. Pottebakkersklei. Wag. Wag en wag. Niks doen. Passief oop wees vir God wat direk, onmiddellik aan my moet werk. Biddende verlange. Maar met afwagting wag. Want God is aan die werk en waar God werk kom nuwe lewe, word ‘n mens gebore.

Ons kan wêreld versit. Vroomhede uitryg. Lang gebede bid. Ons knieë bloedbelope kruip. Of soos Luther later uitgevind het: toelaat dat God se genade my lewe neem en vorm.

Dit klink maklik. Om so passief te wees. Môre, D.V., sal ons sien dat dit alles behalwe maklik is om jouself passief in God se hande oor te gee....

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive