Wednesday, May 06, 2009

Oor die mistiek: God kom woon in my gebed

As verlange ‘n mens se hart instel op God se werking, begin iets van ‘n mistieke omslag in ‘n mens gebeur. Jy ervaar iets ongewoons. Dit is ‘n oomblik dat jy bewus is dat “God” in jou lewe “teenwoordig” is en dat jy deur ‘n nuwe, vreemde, ongewone, onpeilbare ervaring meegesleur word.

Terwyl ‘n mens een oomblik nog na God verlang en dit vir jou voel asof God na jou “luister.” gebeur dit dat ‘n mens iewers ophou bid en ophou verlang. Jy word tot stilstand geruk deur iets wat in jou lewe ‘n werklikheid word en iets wat in jou lewe inkom. Jou stem raak stil, jou gebeds-gedagtes word versteur, jou aandag word afgelei van wat jy bid en vra.

Dit is op hierdie punt dat ‘n mens iets vreemds en wonderbaarliks beleef: jou woorde en verlange bring jou by God – asof God in jou woord inkom en in jou lewe deurbreek. God stap in by wyse van spreke en kom woon in jou gebed. Terwyl jy een oomblik nog op God gewag het, is God eensklaps daar. Terwyl jy nog een oomblik na God gevra het, verstom jy voor die besef dat wat jy veralngend gevra het aan jou gegee word. Dat jou menslike bestaan oopgebreek word en dat iets verborge besig is om met jou te gebeur.

Dit is om te droom en te droom, om dan wakker te skrik met ‘n skok en besef jy is skielik in ‘n ander werklikheid as wat jy in jou droom beleef het. Jy word bewus van die kussing, die kamer, die geluide.

Vreemd genoeg, gebeur hierdie gevoel dat jy in die teenwoordigheid van God is, juis in jou gebed. Wat jy bid en wat jy verlang, is die plek waar God meteens kom woon en met teenwoordigheid vul. Dit is ‘n onbegryplike gebeurtenis, reeds eg mistieks. Wat jy doen en ervaar word nou die plek en die ruimte waar God teenwoordig is.

Jy raak bewus dat jou woorde nie meer woorde is nie, maar dat jy nou in jou woorde voor God self staan. Alles wat menslik is, verdwyn op die agtergrond. Jy ervaar ‘n groter werklikheid, dit wat bo-menslik is. In die menslike kom die goddelike naby aan jou, tot by jou.

‘n Mens kan nie eintlik in diepte peil wat met jou gebeur nie. Mense-taal en ervaringe word oorweldig deur ‘n onvoorstelbare Andersheid wat oor jou kom. ‘n Mens probeer dit sukkelend beskryf deur in mensetaal weer te praat van die Here, die Allerhoogste, die Vader, die Gees, die Onveranderlike, die Ewige. Jy wil vertel dat jy bewus geword het van dit wat verborge in jou lewe en gebed ingekom het en jy probeer dit in woorde vir God uitdruk.

‘n Mens weet dat jy in die Teenwoordigheid is van Iemand wat groter as jyself is. Jy dink nie meer aan wie jy is nie. Jy wonder nie meer oor wat alles met jou gebeur nie. Jy het ‘n ervaring dat jy daar is waar menslike taal te beperk is om te kan sê waaroor dit gaan.

Om te dink, te weet dat God in jou gebed inkom. Om te probeer vertel wat jy ervaar: hier is die Here self teenwoordig.

Weet ons regtig wat ons doen as ons bid? Hoe verborge, maar ook hoe oorweldigend is dit om in die teenwoordigheid van die lewende God te wees. Een oomblik nog verlang ons na God. Ons staan bakhand soos bedelaars om geseën te word. Die volgende oomblik val daar ‘n enkele munt in ons hande en ons ervaar, ons weet Iemand het begin om ons te seën. Dan dink ek nie maar aan my bak hande nie, of aan die een wat die muntjie gee nie. Ek bereken ook nie meer my behoefters nie. Ek is bewus dat by my is Iemand wat vir my sorg. Dan begin jy jou gereed maak om in diens geneem te word.

En so, al biddende, skuif die aandag weg van my verlange, my gebed en begin ek op die Here wag. In Psalm 118 skryf die digter roepende: In my nood het ek na die Here geroep. En dan in die volgende verse die ondenkbare dankbaarheid – die Here is by my (6 en 7), ek skuil by die Here.

Dit is nie altyd so duidelik nie – dit bly verborge en ons soek-soek om dit te verstaan. Wie kan God se teenwoordigheid helder peil? En dit is ook nie gewaarborgde oorweldiging nie. Dikwels, meestal, wanneer ‘n mens verlangend bid, is die besef dat ‘n mens met Iemand groter, met iets anders besig is, net ‘n roersel in jou gemoed. Iets wat jy skaars kan voel. Dit is soos ‘n plantjie wat met ‘n groen stingel deur die oppervlakte van die swart grond beur – ‘n enkele groen spikkel. Maar dit is daar, en dit is anders, en dit is vol belofte om jou lewe radikaal, van die wortel uit, om te keer. Dit is die kern van alles wat nog met jou moet gebeur.

As ‘n mens hierdie roering in jou ervaar, is God met jou onderweg. Dan is jy nie meer in beheer nie. Iemand anders begin oorneem. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie. Hier word die kern van die ervaring van God ‘n teenwoordigheid in jou lewe. Dit word die belofte dat God groot dinge kan doen.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive