Tuesday, May 26, 2009

Die vreugde van wederkerigheid: oor mistiek en die liefde



(Die kerk van Guido Gezelle in Brugge)

Ons kan baie keer dink liefde is wanneer ek iemand in my lewe het, asof ek so iemand besit. Dan word dit ‘n angstige ervaring want ons hou ‘n harde greep op die ander persoon. Ons is op die oog af verlief, maar eintlik in ons hart jaloers en besitlik. Ons reik uit na die ander een, gesels, praat, maar daar is nie vertroue nie. Dit is ‘n verhouding waarin ek die ander een manipuleer, verstik deur my teenwoordigheid en wil dwing om soos ek te word. En hoe meer ek die ander een krampagtig vashou, hoe meer verwoes ek die verhouding en maak ek die ander een benoud. Breek ek egte liefde af.

Dit geld lank nie meer net ‘n huwelik nie. Dit gaan hier om verhouding tussen pa en kind, dogter en ma, bure en bure, christen en christen, christen en jood, werknemer en werkgewer (ja!).

Egte liefde lyk anders: egte liefde is wanneer die ander persoon voor my staan en van my vra om steeds weer onvoorwaardelike aanvaar te word vir wie sy of hy is. En egte liefde kan nooit die ander een werklik peil nie. Hoe meer ek dink ek verstaan die ander een, hoe meer ontdek ek hoe anders sy of hy is. Daar is regtig geen einde aan die diepe nuwighede in die ander een nie. Eers wanneer ek dit respekteer, maar meer nog soek, ontdek ek egte liefde. Dan hou ek die ander een nie aan as my eiendom nie. Ek probeer ook nie die ander een dwing om te wees wat ek wil hê hy of sy moet wees nie. Laat my dink aan Paulus se: die liefde soek nie sy eie belang nie. Dit is nie liggeraak nie. As die ander een nie is wat ek wil hê nie, moet ek dit nie bitterbek verduur nie. Egte liefde sal sê: ek is bly as jy bly wie jy is! Vertel my nou meer?

En hoe meer ek die boeiende diepte in die ander mens raaksien, hoe meer ontdek ek hoe vol vreugde die liefde is. Nou word liefde ‘n avontuur – ek begin agterkom die rykheid van die ander een se “anders wees”. Ek word verras deur wat ek nooit raakgesien of selfs ervaar het nie.

Dit is nie maklik nie – om lief te hê met ‘n vreemde, toegewyde, selfs mistieke liefde. Ek moet bereid wees om te waag, om te verander en om aan te pas. Maar deur dit te doen, kom daar nuwe lewe, nuwe dinge, nuwe ervaringe. En deurdat ek my maat toelaat om my maat te wees en nie my besitting nie, word ek meer volwasse, ryper en liefdevoller. Hoe meer geduld ek aanleer om ander te aanvaar vir wat hulle is en nie vir wat ek wil hê hulle moet wees nie, hoe meer word ek beloon met nuwe avonture – liefdevol, goed, lekker, maar ook stropend, genesend en vormend. Dis nie ‘n soetsappigheid hierdie nie. Dit vra liefde en liefde wat toewyding insluit, wat nie eie belang soek nie....

In ‘n sekere sin werk dit ook so in ons verhouding met God. ‘n Probleem met die mistieke ervaring is dat dit soms misverstaan word asof die mens in God opgaan en in God verdwyn. Egte mistiek mis hierdie arrogante aanspraak op enige vergoddeliking van die mens, so asof ons God kan besit en vir onsself kan toeëien.

Hoe waar dit ook al is dat daar ‘n innige verbintenis tussen God en mens bestaan, dat God in die mens inwoon, diep in die diepste van sy of haar binneste, bly dit ‘n wederkerige verhouding waarin ek nooit aanspraak kan maak daarop dat ek so spesiaal is en in beheer van dinge is nie. Die mens bly mens en God bly God. Die een word nie die ander een nie. Maar die mens word soos God. Wanneer die mens in ‘n liefdesverhouding met God verenig word, gee die mens hom- of haarself aan God net soos wat God in die verhouding God aan die mens gee en oorgee.

Jy besit my!, roep God uit. Ek is joune, sê die Here. Ek is in jou hart en nog dieper as dit, belowe die Ewige skepper. Maar ek besit jou nie! Jy moet bly wat jy is, jy moet altyd weer roep na my. Jy moet steeds weer ‘n appel maak op my, roep na my, verlang na my, smag na my. Ek wil jou nie ‘n ding maak wat ek beheer of wat van die toneel verdwyn nie. Wees wat jy is, maar wees dit vir my. Jy is die kroon van alles wat ek gemaak het. Jy is my trots. As ek na jou kom, moenie skuil nie, want ek wil by jou wees en in die tuin van vrede met jou wandel.

En die mens reageer – om te antwoord op God deur vir God te sê hy of sy wil soos God wees: “Hier is ek, ek is uwe.” En die mens smeek die Geliefde, “bly by my, ook as die skadu’s daal.” Sy of hy sê: Ek wil aan U behoort, met alles wat in my is wil ek dat U in my woon.” “Ek kan nie een dag van my lewe voorstel dat ek nie by U bly nie, dat ek nie by U skuil nie.” En nog meer: U besit my, U moet volledig in my lewe bly. Alles wat ek is, wil ek vir U wees.” Maar ek weet ook ek besit U nie! Ek kan nie vir U rondskuif soos ‘n meubelstuk in my huis nie. Ek vra U, bly soek na my, bly verlang na my, smag na my. U wat God is, vir wie ek in liefde opsoek, wees asseblief God vir my. En gee dat ek altyd sal kan onderskei wat U van my vra, hoe U na my verlang, wat U wil vir my is. Laat my in u paradys woon.

Dit is wederkerigheid. Om weer en weer na mekaar gekeer te wees. Om steeds en altyd op mekaar gerig te wees. Albei smagtend na mekaar, maar steeds weer in liefde bewus daarvan dat die ander een die unieke een is, die totaal Andere, voor wie ek in verwondering moet bly staan – dat ek ‘n verhouding kan beleef! Dit is 'n lewenshouding wat 'n mens moet aanleer - totale eerbied vir lewe, vir ander.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive