Friday, May 22, 2009

Die mistieke ervaring: wederkerigheid

Ons het dikwels 'n vroom onderdanigheid aan God. Ons godsdienstige taal wys ook hierdie onderdanigheid, by tye selfs 'n kruiperigheid.

Maar egte godsdiens bevry 'n mens van 'n afkraak-mentaliteit, van 'n oorvroom houding waarin ons onsself afbreek asof ons altyd slawe van 'n groot God is. Iewers, wanneer 'n mens in diepe verlange deur God aangeraak word en vrygemaak is van al die slegte wat 'n vervullende verhouding met God in die pad staan, kom daar 'n ander, liefdevolle, oop, selfs uitbundige instelling in jou godsdiens na vore. God wil mos immers vir ons laat weet ons is waardig! Die verlore seun het nie dienskneg geword, soos hy beplan het nie. Hy het vrolik in die klere en skoene van sy pa langs die vetgemaakte kalf gaan fees vier. Aanmekaar en in grenslose liefde in die helder lig van die vreugdevolle vereniging met sy pa gebaai. Hulle liefde was volmaak. En hy het keer op keer sy pa gaan omhels en vir hom bedank vir sy liefde, vir die baie soene waarmee sy pa hom huis toe verwelkom het en vir die fees wat sy pa hom aangebied het. Hy het teruggekeer huis toe. Daar was wederkerigheid. Hulle was nou weer bymekaar in 'n intieme liefdesverhouding.

Wanneer ‘n mens God lief het, word ‘n mens soos God. Jesus het al gevra: wees barmhartig en ontfermend soos julle Vader in die hemel. Ons leef daarmee God se beeld uit. Die mens lyk soos God en God is in die mens – in ‘n eenheid.

God kom tot die mens in die mistieke ervaring en gee God aan die mens as ‘n liefdesvennoot. Net so gee die mens hom of haar oor aan God. En in hulle wedersydse liefde word hulle omvorm in liefde.

Hierdie wederkerigheid is ‘n sleutelgedagte in die mistiek. In Bybelse tekste word die verhouding van wederkerigheid dikwels in terme van die beeld van huweliksmaats gegee. En selfs dan in die romantiese taal van die huwelik. God is die bruidegom, die mens is die bruid. Hulle leef in ‘n verhouding van wederkerigheid. Hierdie verhouding word dus op die mees intieme manier uitgebeeld. Net soos ‘n bruid en ‘n bruidegom in die liefdesnag bymekaar uitkom en by mekaar is in die volmaakte liefde van wederkerigheid, net so is God en die mens wedersyds aan mekaar gebind. Hulle word volledig een, intiem aan mekaar verbind.

Die wonder is dat die mens nog mens bly. God bly nog God. Die mens word nie God nie. In spiritualiteit is die verhouding tussen God en mens die hart van alle ervaring: dit is wat spiritualiteit is. En mistiek as ‘n fokus in spiritualiteit sĂȘ dat hierdie verhouding in ‘n wederkerige eenwording uitmond. Dit is ‘n besonder verhouding waarin die twee, God en mens, mekaar bewonder, geniet, besit, in volledige wederkerigheid.

Dit moet ‘n mens bedink: dat ‘n mens deel het aan God. Dat God in goddelike liefde in my kom woon, my deurstraal met die goddelike liefdesteenwoordigheid. Soveel so dat die een wat van buite kyk, God in my raaksien. En nog meer: my in God raaksien!

Die goddelike en die menslike wat in ‘n spel van ewigdurende meelewing mekaar verryk. Ek gee my vir God. En God aan my. Nie een sonder die ander nie. Albei is daar en is daar vir mekaar. Verbysterend. Feesvierend, 'n bruid, 'n seun wat tuis gekom het. Ons is nie slawe van God nie. Ons is God se bruid. Ons verhouding met God is nie onderdanigheid nie. Dit is 'n wederkerig verhouding, gelaai met wedersydse respek, agting en liefde.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive