Monday, May 18, 2009

Van Wyk Louw, mistiek en 'n God wat verlang

Daar is ‘n interessante N.P. van Wyk Louw gedenklesing (met die veelseggende titel, “Onmiddellik voor God”) wat Willie Jonker in 1991 gehou het en wat ek met aandag gelees het omdat ek weer wil uitkom by Van Wyk Louw se mistieke gedigte. Lees dit by http://www.intowebdesign.co.za/raunpold/1991.html. Die lesing is ‘n wonderlike inleiding in Van Wyk Louw se verhouding met godsdiens. Willie, wat self ‘n Meestersgraad in Afrikaans gedoen het (onder Van Wyk Louw) en ‘n fyn aanvoeling vir die digkuns het, se ireniese gees en gesofistikeerde oordeel blyk uit hierdie gedenklesing.

Dit eindig met die volgende paragrawe. Ek haal dit aan om veral Willie se laaste vraag in konteks te plaas (in vetskrif gedruk):


Verlossing uit genade

In die Feesgedig het ons beslis Louw se helderste gedig oor Christus en sy verlossingswerk. Daarin sê hy dat Christus uit soewereine wil in 'n staat van armoede op aarde gebore wou word. Die terme kan slaan op die inkarnasie van die ewige Logos. Ook vind ons in hierdie gedig méér as elders verwysings na die reddingswerk van Christus as die Visarendjie van God en die Visser van mense. Die hoofaksent val daarop dat Christus Hom met die armes en ellendiges vereenselwig het, en dat nie die godsdienstige wetsonderhouers nie, maar die melaatses, besetenes en kleines - ja: sondaars van elke kleur en geur om Christus versamel is. Dit is uitgesproke evangeliese klanke. Ons het hier ongetwyfeld Louw se Christelikste gedig, wat beslis daarmee saamhang dat dit op versoek vir 'n Christelike gemeente gemaak is.

Maar selfs hier val dit op dat hy die genade nie sonder meer in sy vrye karakter laat geld nie. Van die harde manne wat Christus om Hom versamel het, word uitdruklik verklaar dat hulle manne "met 'n oop gemoed" was. Dit suggereer dat 'n bepaalde kwalifikasie mense ontvankliker maak vir die heil. Ook by Dostojewski vind ons dat dit die eenvoudiges, die pretensieloses, selfs die bewus sondiges is wat die heil ontvang, en dit word dan verklaar op grond van hulle deemoed of liefde (33). Die neiging om 'n rede vir die ontvangs van die genade deur sommige te vind, lê diep in die Oosterse en Katolieke sektore van die Christenheid verwortel. Nie verniet laat Louw die H. Teresa dit "uitflap" dat ons almal moet probeer, streef en bid, ja 'n leeftyd lank moet strewe om maar net die skaduwee van Gods genade oor ons te laat passeer nie. In Dood van die Heilige Biblis beklemtoon hy dat God nie met 'n vinger aan die vrye wil van die mens raak nie. En die pragtige gedig Dwarslêers bring die boodskap dat 'n mens disponibel moet wees vir die genade.

Louw het homself klaarblyklik nie tot die Protestantse spiritualiteit aangetrokke gevoel nie. Daar klink selfs 'n bepaalde geïrriteerdheid met die Calvinisme deur as hy sê dat Elise Muller in een van haar verhale "die sonde van eie-geregtigheid, die gevaar van vertrou op `goeie werke', met 'n Calvinistiese klein grimmigheid nagaan" (34). Die bronne wat as intertekste by hom gefunksioneer het, bring aan die lig hoe belese hy in die literatuur en geskiedenis van die Vroeë Christenheid was. Ook blyk sy belangstelling vir die Vroeg-Katolisisme en die Grieks-spirituele tradisie. Kennelik het hierdie soort vroomheid met sy affiniteit vir die kosmiese dimensies van die heil, sy mistieke karakter en sy rykdom aan simboliek hom bekoor. Maar dit is 'n tradisie waarin die leer van die verlossing uit genade nooit helder na vore gekom het nie.


Bevrydende sekerheid

W E G Louw deel in Naggesprek mee dat sy broer oorweeg het om homself terug te trek in die beskutting van 'n Katolieke retraite om daar rus te soek. Van Wyk Louw het wel nooit katoliek geword nie, maar dit is jammer dat hy homself nie intensiewer besig gehou het met die werk van teoloë wat die sentraliteit van Christus en die betekenis van die evangelie van genade op die voorgrond stel, soos bv Luther of Karl Barth nie. Hy verwys wel êrens na "die groot teoloog Karl Barth", maar ek kon geen spore by hom vind van die triomf van Gods genade in Christus wat die hart van Barth se teologie vorm nie. Dit kan verklaar waarom hy nie kon deurstoot tot die bevrydende sekerheid van die heil en die blydskap van die wete dat Christus eenmaal volkome vir ons sonde geboet het nie.

So skryf hy: "Dit is, meen ek, Dostojewski of Leo Schestof wat êrens gesê het dat elke mens mede-verantwoordelik is vir alle kwaad wat in die wêreld bestaan; dat alle sonde die sonde van die hele mensdom is; dat elkeen aan alles medepligtig is - al is dit dan alleen omdat hy nie as boetgesant teen die kwaad opgetree het totdat dit vernietig is, of hy dan daardeur vernietig is nie, en die versoening só wat homself betref, bereik is" (35). Ons merk hier die idee dat vergiffenis saamhang met die uit-boet van die kwaad.

Dié idee kom ook nog voor in die laaste woorde wat hy die aand voor sy dood geskryf het. In dié wonder-mooi stuk bely hy dat hy 'n hele dag deurgebring het sonder om aan God te dink. Daarop volg 'n aangrypende gebed om vergiffenis. Hy betuig sy innige liefde vir God en sê dat as hy in die nag sou sterf, hy homself net in die hande van Gods genade neerlê. Maar dan laat hy daarop volg: "As my sondes nog nie genoeg uitgeboet is nie - of as hulle nie reeds in u genade vergeef is nie - dan is daar alleen u vergiffenis waarop ek kan vertrou. En ek vertrou daarop. Dit is my troos elke dag: dat U, my God, wat die allerheiligste Geregtigheid is, Liefde is. U, my God, is Liefde."

Dit verskaf my groot vreugde dat hy die liefde van God op hierdie wyse vasgegryp het. Op grond van 'n spesifieke gesprek tussen ons weet ek dat hy volkome rus in die genade van God gevind het. Maar dit is tog jammer dat die Naam van Christus wat vir ons sonde geboet het, selfs nog in hierdie laaste gebed ontbreek. WEG Louw vertel in Naggesprek dat hy 'n kruisie in die hande van sy broer laat glip het toe hy by sy kis van hom afskeid geneem het. Dit was 'n sinryke daad. Ook die vrede wat Van Wyk Louw by die God van liefde gevind het, is immers gegrond in die kruis van Christus.

Dit laat my met 'n vraag eindig: Hoe kom dit tog dat ons as Gereformeerdes blykbaar nie in staat is om die blye evangelie van genade so deur te gee, dat spesifiek ook ons kunstenaar-lidmate daarin rus kan vind nie? Volgens Lina Spies het ook Elisabeth Eybers jare lank onder die idee gely dat die God van haar gereformeerde vader 'n harde en willekeurige despoot is (36). Daar moet êrens iets met ons verkondiging en pastoraat, en miskien ook met ons tipe spiritualiteit verkeerd wees.

Want uiteindelik kan die soektog van alle intellektueles en digters alleen tot 'n vrolike einde kom, as ook hulle onrustige harte rus vind in die vrye genade van God - deur Jesus Christus onse Heer.



Terwyl ek hierdie slotwoorde van Willie se gedenklesing lees, besin ek weer oor die verlies wat ons gely het toe die mistiek uit ons gesigseinder verdwyn het. Die mistiek wat vra na die eenwording met God berus fundamenteel op die insig dat God een wil word met die mens en dat die Godsverlange nie net van die mens se kant kom nie. Godsverlange is 'n objektiewe genitief: die is verlange na God. Maar dit kan en is veral ook 'n subjektiewe genitief: God verlang - na die mens. En 'n God wat verlang is 'n God met 'n ontblote hart, verwondbaar, oop, uitreikend, selfs smagtend (ek soek jou in die tuin: waar is julle?). Wat het ons tog met ons godsdiens aangevang?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive