Tuesday, May 05, 2009

Spiritualiteit as transformasie

Spiritualiteit gaan oor verandering. Wanneer God ‘n verhouding met iemand aanknoop is dinge nooit weer dieselfde nie. God se aanraking brand aanpaksels en verhardings weg. God reinig en suiwer.

Behalwe dat God mense stroop van onsuiwerhede gee God ook in die plek van die skoon, oop ruimte nuwe lewe.

God se Gees werk dus op twee maniere. Dit neem weg en dit gee in die plek van wat weggeneem is.

Soms kom die verandering skielik. Iemand vertel my dat hy in die middel van die nag wakker geword het en sy hand uitgestrek het om die bottel brandewyn langs hom te kry vir ‘n sluk. Dit is toe hy die bottel vat dat hy skielik vir homself vra wat hy besig is om te doen. Hy was al jare ‘n alkoholis. Dit was die laaste keer dat hy ‘n bottel drank opgetel het. Daardie een oomblik van herkenning het ‘n onmiddellike, durende uitwerking gehad. Die verandering was dramaties en finaal. En selfs al het hy hom baie dae geskaam vir sy eie lewe, geworstel oor sy vlakheid, het hy net op ‘n dag radikaal omgedraai.

Ander mense groei oor jare heen tot groter rypheid en menslikheid. Hulle besef dat die lewe kompleks is en dat ‘n mens nie net in een groot opsig verander nie. Daar is baie dinge wat anders gedoen kan word.

Wat my vandag besig gehou het toe ek hieroor nagedink het, was die feit dat ons so genadiglik vir onsself ruimte gee om te verbeter en soms dankbaar terugkyk na ‘n lewe wat ánders geword het. Maar terwyl ons met simpatie en begrip onsself pamperlang, sien ons so maklik ander mense raak in terme van wat hulle baie jare gelede gedoen het.

Ook dit moet verander: So sensitief as wat ons is oor ons eie vordering op die pad van volwassewording, so oop moet ons teenoor ander wees. Dit is dikwels die begrip vir ‘n ander se stryd, vir iemand anders se innerlike worsteling om vry te word, die goeie, bemoedigende woord, die nie-verwerpende uitreik dat God mense verander. Net so dikwels is dit ons skewe kyk, ons harde woord, ons ongeduldige frons wat die ander een mismoedig maak, self-vertroue afbreek, verneder laat voel.

Verandering is iets wat nie net in ons lewens gebeur nie. Dit gebeur ook by ander mense. Almal wil geestelik volwasser word, al is dit dikwels so moeilik. En ons moet nie net daarvoor oplet en daarvoor oop wees nie, ons moet elke oomblik weer begryp dat God se omvorming van mense dikwels deur ‘n enkele woord, blik, kyk of daad van ons beslissend kan plaasvind.

Spiritualiteit gaan dus oor mense wat deur God verander en getransformeer word. Hulle word uit ‘n doodsheid tot lewe verander. Dit weet ons goed en kan ons gereeld bespreek. Ons praat miskien te min oor hóé dit gebeur. En oor watter rol ons daarin speel. En oor hoe ons instrumente in die hand van die heiligende Gees van God is. As ons dit bedink, word spiritualiteit nie net iets wat oor my gaan nie. Dit word wyer oor my gewilligheid om deel te hê aan die Gees se vernuwende werking.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive