Friday, May 08, 2009

Die mistieke vuur: Verrukking en ekstase

'n Belangrike aspek van die mistieke ervaring is die belewing van 'n gevoel van verrukking en ekstase.

‘n Mens kan van die ekstase iets té gewoon maak – asof dit maar net ‘n moment is waarop jy geboeid raak en van jouself vergeet. (Die vorige blog hieroor moet dus nie misverstaan word nie.)

Die mistieke ekstase is soms ook ‘n verrukking. Die beroemde mistieke Franse filosoof, Blaise Pascal het (1623-62) op 23 November 1654 só ‘n besondere ervaring gehad. Hy was 31 jaar oud en tot op daardie stadium besig met sy studie van wetenskap en wiskunde.

Hy het nooit met iemand oor die ervaring gepraat nie, al het dit sy lewe drasties getransformeer. Hierdie mistieke ervaring het tot ‘n tweede bekering gelei. Dit het sy lewe oor 'n lang tyd verander en 'n lang geloofsreis by hom aan die gang gesit. Hy het byvoorbeeld na die ervaring sy beroemde Pensees geskryf wat as van die mooiste en diepsinnigste werk in die wêreldliteratuur beskryf word. (Maar hy was ook iemand wat aktief kerklik geword het, vir ander omgegee het en baie vir armes gedoen het).

Op ‘n stadium het hy hierdie mistieke ervaring heel kripties in ‘n teks geskryf wat later as ‘n frament in sy Mémorial opgeneem is:

Die genadejaar 1654, maandag 23 November... vanaf ongeveer half elf saans tot ongeveer half een in die nag.

Vuur.

God van Abraham, God van Isak, God van Jakob (Ex.3:6 vv; Mt 22:32 vv.). Nie die God van filosowe en geleerdes nie.

Sekerheid, sekerheid. Ervaring. Vreugde. Vrede. God van Jesus Christus. Deum meum et Deum vestrum (Joh.20:17). “Jou God sal my God wees” (Rut 1:16).

Vergeet die wêreld en alle ander dinge, behalwe God. God is te vind alleen in die weg wat die Evangelie uitwys. Die grootheid van die menslike siel.

“Regverdige Vader, die wêreld het U nie geken nie, maar ek het U geken.” Vreugde, vreugde, vreugde, trane van vreugde.

Ek het myself van hom afgeskei. “Hulle het my verlaat, die fontein van lewende water.” “My God, sal U my verlaat?” Laat my nie van God vir ewige geskei word nie. “Dit is die ewige lewe, dat julle U mag ken, die enigste ware God en Jesus Christue wat U gestuur het. Jesus Christus. Jesus Christus.”

Ek het my van Hom afgeskei. Ek het van hom gevlug, Hom verraai, Hom gekruisig. Ons hou aan hom vas alleen deur die weg van die Evangelie. Self-versaking, totaal en soet. Algehele onderwerping aan Jesus Christus en my begeleier. Vir ewig in vreugde vir ‘n dag se toewyding op aarde.

“Ek sal nie U woorde vergeet nie.” Amen.

Hierdie beskrywing is eers na sy dood in sy jas se soom gevind. Een van sy bediendes het opgelet dat daar ‘n dik kant aan sy jas was en die soom oopgemaak. Binne in was twee papiere waarop hy presies dieselfde teks twee keer in sy eie handskrif uitgeskryf het. Pascal wou elke dag naby aan daardie ervaring bly – op ‘n konkrete manier deur ‘n uitgeskrewe weergawe daarvan aan sy lyf te dra.

Hierdie ervaring staan bekend as die Nag van Vuur. Pascal het dit moeilik gevind om sy ervaring in woorde uit te druk, daarom het hy die woord “vuur” in hoofletters bo-aan geskryf. Daarmee gebruik hy ‘n beskrywing wat dikwels by mistieke skrywers vir hul ekstatiese belewenis voorkom.

Vir twee uur lank ervaar Pascal God as vuur. As hy die op papier vir homself beskryf, is dit asof hy nie die woorde kan vind daarvoor nie. Dit stroom uit sy pen uit. Hy druk hom uit in gloeiende taal oor ‘n ervaring wat hom in verrukking het – vreugde, vreugde vreugde, trane van vreugde! Hy moet vinnig skryf om by te bly by wat hy onthou van sy ervaring. Dit is asof hy dronk is van hierdie mistieke ervaring. Dit is ‘n beskrywing wat vertel van sy intense belewenis, van sy ontmoeting met God.

En hy kan soms nie net daaroor skryf nie – hy slaan summier oor na gebed. Die oratiwiteit: as ‘n mens deur God aangeraak word, brand die vuur so in jou dat dit in gebed uitbars en na buite stroom soos ‘n onkeerbare mag vanuit jou hart uit na God.

En Pascal was nie ‘n dweper nie. Die teendeel was eerder die geval. Hy was bekend as ‘n uitsonderlike wetenskaplike wat ook na sy bekering die menslike verstand se vermoë hoog geag het – ook in godsdiens. Sy Pensees is soms erg misverstaan as ‘n kritek op die Christendom, terwyl die in werklikheid diep nadink oor geloof wat nie net rasioneel is en kritiese vrae vra nie, maar wat ook uit die hart opkom en nooit met geweld of dwang afgeforseer kan word nie. Vir hom was geloof ‘n hartsaak wat ‘n verskil in ‘n mens se lewe gemaak het. En hy skryf indrukwekkend oor die liefde wat ‘n brandende passie in ‘n mens se lewe is. Dit is juis liefde wat die verskil tussen ‘n mens en ‘n masjien maak. Jy kan hoeveel verstand hê, maar sonder liefde is dit leeg.

Om te dink dat hy nooit met iemand oor sy mistieke ervaring gepraat het nie! Dit was vir hom kosbaar, uitsonderlik, privaat, uniek. Wat saak gemaak het, was nie wie almal daarvan weet nie. Maar dat hy elke dag met daardie stukkie papier in sy jas se soom kon rondloop in die wete dat God hom soos vuur skoongebrand het. Om by God te wees is genoeg. Dit is al wat tel.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive