Saturday, May 30, 2009

Ervaring op ervaring: daar is iets mistieks in ons praat van God

Ek het vanaand die Blou Bulls wedstryd in die Super 14 finaal teen die Chiefs gekyk. Die spel en die atmosfeer in die stadion het veroorsaak dat enige iets wat iemand daarna gesê het, flou en onwerklik gelyk het. Hoe praat jy nadat Victor Matfield bo-oor ‘n skrum sy lang lyf ruk en die drie netjies agter sy opponente se rug plant? En as Habana onderskep, oop en toe afsit om te gaan druk, wat sê jy eerste en hoe sê jy dit?

Die ouens is, soos goeie sportmanne, erkentlik. Hulle wil graag iets van hul dankbaarheid te kenne gee deur oor hul godsdiens te praat. Hulle prys die teenstanders, wat bedremmeld een kant staan, oorweldig deur die tsunami wat hulle onstuitbaar uit die pad gespoel het. Hulle prys hulle afrigter, die man wat seker een van die warmste sitplekke in Pretoria het. Hulle gaan haal hul vrouens, hul kinders en loop om die veld in ‘n triomf-rondte. Hulle vertel hulle is ‘n span wat vir mekaar speel. Hulle bedank die toeskouers en die toeskouers se tone krul almal van lekkerkry want hulle het uitgehaal en gewys, groot gewys. Die uitwerking en deurwerking van so ‘n 80 minute wedstryd het byna nie grense nie. Daar sal baie, baie keer nog teruggedink word aan baie verskillende oomblikke van hierdie wedstryd. En daaroor gepraat word. En hierdie kollektiewe geheue en kollektiewe nadenke is wat sport so uniek maak. Visueel brand die indrukke beelde vas op retina’s, vir ‘n flitsende oomblikke. Maar daarna kom die onthou, die praat en die oor en oor beleef. So ‘n 80 minute ervaring gaan oor 80 jaar iewers nog in ‘n kleinkind se lewe ervaar word: op 31 Mei 2009 het Oupa self gesien hoe Pierre Spies dwarsoor die veld met sy lang lyf soos ‘n vlakhaas oopgelê het om die bal te gaan druk.

Dit is boeiend om te sien hoe ons nie ons ervaring regtig volledig in woorde kan uitdruk nie. Ons kan maar net in brokkies en stukkies probeer uitspel wat hier met ons gebeur het. “Het jy gesien...” “Dink jy....” “Moes hy nie....” Maar juis wanneer ons saam daaroor praat, deel ons iets van die opwinding van die ervaring en kom die volheid daarvan na vore. Ons herskep die gevoel van behaaglikheid wat ons ervaar het. Die spelers wil by hulle families en ondersteuners wees – saam wees om die genot van die oomblik te deel. In ons sitkamers sit ons saam en nabetragting hou. Ons beleef weer iets van die opwinding van ons ervaring. In ons kollektiewe saam-wees rondom ‘n unieke gebeurtenis kan ons die vlam van inspirasie nog laat brand.

Iewers is spiritualiteit ook so: God deel met ons die onvoorstelbaar goeie oomblikke. Ons ervaar die beste en mooiste wat God ons kan gee. Ons kan dit nie regtig goed genoeg in woorde uitdruk oor hoe bevoorreg ons is nie. Oor eeue heen praat mense oor die verborgenheid dat God na ons uitreik. In ons deel van hierdie liefde van God deur daaroor te praat en dit met mekaar te deurdink, oor en oor, inspireer ons mekaar. Ons liefde vir God groei deur dit met mekaar te deel.

En, uiteindelik, word ons meegevoer om uit ons hart uit, as mense wat die goddelike verborgenheid ontvang en met mekaar deel, vir God weer opnuut ons liefde te wys. Daar is iets meeslepends in ons saam-praat oor God: deur oor God te praat, hoe sukkelend ons dit ook al doen, beland ons keer op keer by 'n punt dat ons in gebed tot God roep. Om oor God te praat, bring 'n mens onvermydelik weer op die punt dat 'n mens met God praat.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive