Sunday, May 03, 2009

Gebed as verlange na God. Oor die mistieke ervaring.

Soms betrap ek my dat ek ‘n boek lees sonder om te registreer wat daar staan. Ek kan van elke woord rekenskap gee. Ek het die boek oopgemaak en die woorde begin lees, selfs sin gemaak van alles wat daar staan. En tog kan ek letterlik nie regtig oorvertel wat daar staan nie. As ek die bladsye weer oorlees, is ek verstom oor alles wat ek oorgeslaan het.

Dit gaan, in die ou idioom, by die een oor in en by die ander een uit. ‘n Mens lees en verstaan, maar registreer nie. Jou hart is nie regtig in wat jy lees nie.

Soms is dit so anders: dan drink jy elke woord in en lees sin vir sin soos iemand wat dors het en nie genoeg water kan inkry nie. Jou aandag is by elke woord. Jy verlang om die storie te beleef.

In hierdie geval is jou hart regtig in die verhaal wat jy aan die lees is.

Dikwels dink ons aan gebed as ‘n geestelike oefening en plig. Dis belangrik om te bid, dink ons. En pligsgetrou sal ons ‘n halfuur, selfs langer, selfs op ons knieë deurbring. Dan sê ek ‘n gebed vir God op. Ek bring woorde na God en verwag dan dat God dit sal hoor en daarna sal luister om dan in my lewe in te kom.

So ‘n gebed het inderdaad sin. Maar egte gebed is baie meer: Gebed is nie maar net die opsê van woorde nie. Dit is nie maar net nog ‘n goeie, vroom gebruik nie. Gebed is baie dieper as dit. Alles wat ons godsdienstig doen en dink, kom voort uit ‘n gebedshouding. Gebed is iets wat alles dra wat ek vir God doen.

Ons dink te veel aan gebed as iets wat ek met my mond en my brein doen. Wanneer ek bid, maak ek eerder my hart as my verstand vir God oop. Ek roep my verlange uit. My hart reik smagtend uit: God, ek verlang na u. Ek hoef nie ‘n enkele woord te sê nie – ek voel eenvoudig ek kan nie sonder U nie. Hier is my hartskreet. Ek probeer, maar ek kan dit nooit regtig mooi in woorde uitdruk nie, hierdie onrustige roep in my na U. Dit kreun in my om by God te wees. Soms verby alle woorde, selfs alles wat ek dink.

Gebed is wanneer ek my hart “rig” op God. Gebed vertel smagtend dat my hart verkleef is aan God. God, ek mis U. Waar is U? Wanneer sal ek U teenwoordigheid ervaar? Ek is eensaam God, sonder U. Ek kyk om my heen, U is nie daar nie. Alles in my roep uit om by U te wees, dat ek U ten volle kan ervaar, dat ek myself kan verloor in U.

Die wonder, die teerheid, is dat God wat ek in my verlange nie sien nie, juis dan daar is. God sit nie maar net en luister na ons gebede nie. Terwyl ons aan die bid is, my hart met aandag gevul is, ek smag na God, is God in my gebed stilweg teenwoordig. God sit nie en wag tot ons klaarpraat nie. Soms, terwyl ons nog stotterend en sukkelend bid, of selfs wil bid, is God al daar, bring God ons tot swye en raak ons harte stilweg aan. Soos die pa wat die verlore seun nie kans gee om sy praatjie te praat nie.

Is dit nie dalk die mees mistieke van gebed nie? Dat ek in my verlangende roep na God, eintlik antwoord op God se teenwoordigheid en werking in my lewe nie. "Ek wou van u vlug, Here, maar U het my nie laat gaan nie." "Ek het ver land toe gereis, Vader, maar in U huis wou ek skuil."

Hoe sal ‘n mens ooit God se teenwoordigheid kan binnegaan sonder ‘n verlangende hart? Hoe kan ‘n mens God ooit aanskou sonder gebed? Hoe kan ‘n mens dink om een te word met God sonder dat ‘n mens verlangend uitreik na God? Die nuwe krag kom na hulle wat op die Here wag.

Ek kan baie praat met God sonder dat my hart ‘n roerseltjie van verlange na God beleef. Ek kan bladsye van God se lewensboek vir my lees, sonder dat ek ‘n snars registreer van egte gebed wat nodig is om sinvol vir God te leef. En dan kan ek my soms bluf en dink God sien nie in my gebed met al sy baie woorde, die leegheid raak nie. Oppas vir die Fariseërs wat op die straathoeke staan met hul lang gebede. In my binnekamer, alleen voor U, wil ek my hartsverlange na U uitstort.

Soms moet ‘n mens selfs verder terugstaan en sê: God, ek wil nie bid nie. Ek kan nie bid nie. My hart is dor en dood. En tog, iets in my wil dat ek sou wou bid. Raak my aan, sodat ek opnuut weer kan smag na U. As my hart maar weer verlang na God.

Ps.63: Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water.

Lank voordat ek die geestelike reis met God loop, het ek die gretige hart nodig: “Ek kleef u getuienisse aan, Here, maak my nie beskaamd nie.” “Ek is gretig om u gebooie te gehoorsaam, want U verryk my lewe” (Ps.119:31-32). God, skep in my die rein hart vol verlange na U (Ps.51).

Hoe kan ek leef sonder hierdie hartsverlange, hierdie hartsgebed? Hoe kan ek God dien, sonder dat my hart uitroep tot God?

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive