Tuesday, May 19, 2009

Die mistieke ervaring: Aanskouing

Vooraf:

Ons is altyd so gereed om te vertel wie God is. Ons het allerhande netjiese teorieë en belydenisse waarin ons vir mense inlig oor hoe hulle “reg” oor God moet dink en waarin ons “bely” wat die inhoud van ons geloof is. En dit is sekerlik goed so. Iewers is ons geloof nie blind en leeg nie, maar gevul met inhoude en insigte.

Maar wie van ons het ooit op daardie oomblik dat God by ons onverwags, genadiglik, oorrompelend besoek kom aflê, ‘n geloofsbelydenis of stuk teologie nader getrek om te kyk of dit nou alles in lyn is met wat ons altyd oor God geleer het?

Wanneer Paulus op die Damaskus pad voor Jesus te staan kom, val al sy taal en wete weg. Hy, Fariseër, lid van die strengste groep (Hand.26:5), trotse kenner van die weg en regter oor die Christene wat met hul nuwe leer (Hand.9:2!) afgedwaal het, word met een geweldige ruk op die grond in blindheid neergegooi. Verstom roep hy uit: Wie is U, Here? (Handelinge 9:3). Hy weet hy is in ‘n goddelike teenwoordigheid, en tog weet hy dit nie. Hy praat met die “Here”, maar vra nietemin: “Wie is U?” Hy wat die Here so goed “geken” het, weet nou nie meer nie. Hy staan in die helder lig uit die hemel, maar is reeds blind. Dit is ‘n verblindende lig.

Paulus, een oomblik die rustige reisiger, seker van sy doelwit en begeesterd met sy sending om die afwykendes uit die weg te ruim. En al die tyd, terwyl hy op pad is, is hy ook op pad na die goddelike konfrontasie – al dink hy hy is netjies in beheer. En as God hom aanraak, is hy maar net nog verder aan die ontvangkant. Hy word beheer, ‘n nietige skepsel wat te gronde gaan. God oor wie hy so gewaak het, is die een wat hier handel om hom sy eintlike plek aan te wys. En hoe raak God nie aan nie! Paulus is passief, maar ook in die sin dat hy sy eerste passie ervaar – hy word pynlik met blindheid geslaan. God werk op Paulus in op ‘n direkte, ingrypende, skoonmaak-manier. Hy word geneem waar hy nie gedink het hy sal beland nie.

En hy beland in totale duisternis. Skille is oor sy oë. Sy geloofsreis begin in die woestyn van alleenheid. Hoe aangrypend word dit nie in die agtergrond van Handelinge 9 vertel nie. Ananias word geroep om vir Paulus te gaan vertel hy is uitgekies as werktuig na die nasies. Paulus moet maar wag totdat God genadiglik die reis verder met hom loop: Ananias hoor in Handeling 9:11 dat Paulus in Reguitstraat is en “besig is om te bid.” Ananias, beveel die Here hom dan, moet ook vir Paulus die hande oplê dat hy kan sien en dat hy met die Heilige Gees vervul kan word (Hand.9:12.17). Biddende verlange, vereniging met Christus, in die donkerte van jou blindheid na God uitreik, maar dan ook maar passief wag, lydende, op wat God nou met jou gaan doen.

Die aanskouing

Maar dit is nog ver nie die einde van die pad nie. Want die mistieke ervaring sluit ook die dimensie van aanskouing aan. Handelinge, die boek oor mense wat God se aanraking op Pinksterdag ervaar en die wêreld, soos Paulus, ingaan, is die boek van die Gees. Petrus haal op die Pinksterdag Psalm 16:8-11 aan. Dit is ‘n Psalm oor God wat lewe gee en mense uit die doderyk ruk. Petrus sluit die stuk af (Hand.2:25-28) met die woorde: “U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul” (!) God is in Jesus teenwoordig. En hierdie teenwoordigheid vul ‘n mens met blydskap, met ‘n vreugdeswete. God, die sterke (Hand.2:25) maak my onwankelbaar, bly sodat ek met hart en mond in vreugde uitroep.Wanneer die Pinkstergees oor ‘n mens kom, bring hierdie Gees jou in die “teenwoordigheid” van God wat jy dan as ‘n innerlike ervaring, as jou eie, beleef. ‘n Mens skou God se teenwoordigheid en die seker wete dat ‘n mens by God is, laat jou bly uitroep.

‘n Mens word dan as te ware deur die Gees, deur die verrukking in God ingetrek. En om in God ingetrek te word in ‘n intieme eenheid (die Gees wat “in jou kom woon”), neem jou verby alle woorde en verby alle kennis. Iets verrukliks gebeur met jou wat jy op geen manier kan peil nie, maar wat jy eenvoudig helder weet is daar – jy aanskou God. Jy is in die teenwoordigheid van die Onverwoordbare. Jy is verenig met God, totaal in God opgeneem. Jy word met die Heilige Gees vervul (Hand.9:18). Die donker tye van verlange, van nietiging, van passie word uiteindelik omvorm in ‘n tyd van bewussyn, van weet, van aanskouing.

En om so naby, so intiem verbonde en een met God te wees dat dit anderkant alle netjiese insigte en beskrywing om gebeur, beteken nie dat dit by ons verbygaan, dat ons “meganies” nou niks is en God soos in ‘n “trance” die menslike bewussyn uitskakel nie. God manipuleer my nie sodat ek soos ‘n marionet in God se hande ronddans volgens God se instruksies nie. Mistiek verskil van om in ‘n trance te wees en van niks bewus te wees nie.

‘n Mens bly bewus dus – maar veral dat wat jy hier aanskou die werk van die Gees is. Al die tyd as ‘n mens deur God ingetrek word in ‘n eenheid van liefde, wéét jy: hier werk die Gees met my en gee my die seker wete dat God my aktief lief het. Ek aanskou goddelike liefde. Dis geen serebrale “ken” van God nie, want wie kan God ken? Ek ervaar die liefde wat my oorweldig en vir my laat besef ek is hier in die teenwoordigheid van iets onbeskryfliks – ek “aanskou” die Onsienlike. Ek “sien” die Onsigbare.

God neem my in as liefdesmaat en ek kan God as liefdesmaat “ontmoet.” Ek lys nie allerhande feite oor wie God is nie as ‘n ywerige student wat moet presteer nie. Ek weet helder en duidelik ek is deur God opgesoek en deur God nadergetrek in ‘n liefdesomhelsing. Ek is nou by die Vader wat my omhels. En ek kyk op in die Vader se gesig: Ek sien, ervaar sy liefdesgelaat. Ek weet, ek weet, helder en klaar, ek is by die Een wat my liefhet.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive