Saturday, May 23, 2009

Die groot dood



In Kampen waar ek studeer het, langs die Ijssel-rivier, is hierdie gedenkteken aan Shoa-slagoofers aangebring. "Die groot dood" in Hitler se konsentrasie-kampe gooi steeds sy lang skaduwee van verdriet en woede oor Europa. Nederland kan niemand verstaan sonder om stil te staan by so 'n gedenkteken nie. Vandaar ook die heftige kritiek op die pous se onlangse toenadering tot 'n afgeskeide kerkleier wat die shoa ontken. As jy dit ontken, verloor jy jou menslikheid. Die tweede wereldoorlog is die Kainsmerk op die gelaat van Europa en die hele aarde.

Die name op die gedenksteen van elkeen, maar ook hul ouderdomme (die kinders,die ouer mense!), vertel die verhaal vir die leser wat hom of haar kan inleef: die gevreesde laaste klop op jou huis se voordeur, die onverbiddelike wegvoer trap af, ruwe stamp in die trok, uiteindelik die dood-in-angs. Mense wat afgemaai word deur soldate in die naam van 'n fatsoenlike politieke sisteem toegejuig deur miljoene mense. Ek het ongelooflike foto's uit die pragtig herstelde sinagoge in Budapest van wegvoerings van Jode wat byna ondraaglik is om te bekyk, maar wat uitroep oor innerlike lyding en oor die sataniese vernietiging van kosbare lewe.

Ek lees nou (eers) "Flaubert's Parrot" postmodern-slim en boeiend interessant geskryf deur Julian Barnes. Op bladsy 154 skryf hy, "The greatest patriotism is to tell your country when it is behaving dishonourably, foolishly, viciously."

Ek onthou toe die inligtingskandaal in die regeringsparty ontplof het en dit uitgekom het dat die N.G.Kerk ook daarby betrokke was (gedink korrupsie is 'n nuwe ding en net in die politiek? Vra maar, daar is nog baie meer om te vertel uit daardie jare). Ek skryf, toe nog dosent by Bybelkunde op Stellenbosch, op versoek, vir die plaaslike studente C.S.V. blaadjie 'n artikel min of meer met die strekking dat die kerk nie 'n handlanger van partypolitieke ondergrondse gekonkel kan wees nie. Die blaadjie was skaars uit, toe kry ek 'n oggend vroeg 'n woedende oproep van die studente-predikant, oom Ockie. Hoe durf ek die kerk "skop" terwyl hy op die grond is?

Dit was die soort atmosfeer onder ons in daardie jare. Kan jy jou indink hoe sulke kritiek deur die status quo onder mekaar bespreek en verwerk is? Dit was jare waarin die Afrikaanse gemeenskap en veral die kerk kritiek as verraad uitgemaak het, soos toe ons die Ope Brief van destyds gepubliseer het en dit tot massa-histerie aanleiding gegee het. Dit was amper erger om binne jou gemeenskap iets krities te laat val as wat dit vir ons was om te luister na kritiek van ander gemeenskappe. Onthou vir Beyers Naude?

Des te meer begryp ek die massa-histerie wat Europa tot die Jode-slagting, die Shoa, gedryf het. Want ook in Nederland was daar baie, baie medewerkers van die Nazi's. Dit was eers na die oorlog dat die Verset-beweging wat baie Jode gered het, hulle helde status gekry het. Vandag, soos hier by ons ook maar, is daar skynbaar in Nederland nie juis veel mense oor wat ooit die shoa ondersteun het nie. Ons apartheidsondersteuners het ook skynbaar dramaties in getalle afgeneem soos die jare aanstap.

Die kwaad sit vlak in ons. Ons moet meer sulke gedenktekens soos hierdie een oprig. Om ons gedurig te herinner dat ons onsself "in die gate moet hou" soos die Hollanders dit skryf. Ons kan doen met baie sulke gedenktekens in ons eie land. Hoef nie groot te wees nie. Alleen maar sodat ons elke dag weer na binne kan kyk en kan vra hoeveel moorddadigheid in ons skuil. Jesus het immers al daaroor gepraat toe hy vertel het hoedat ons enkele blik, ons simpel woord al kan moord pleeg en doodmaak.

As ons maar net leer hoe kosbaar die lewe is - ook van ons teenstanders. As ons maar soos God kan kyk na alle mense en oor goed en kwaad God se reen uitgiet.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive