Saturday, May 16, 2009

Die mistieke ervaring: vereniging

Ek werk verder met Waaijman se gedagtes oor aspekte van die mistiek ervaring. Wat gebeur wanneer iemand bewus word van God se aanraking?

Die ervaring van eenheid met God kan vir ons bedreigend lyk omdat ons kan voel ons verloor nogal baie in die proses. Veral as ‘n mens praat van nietiging, dat jou eie belange op die agtergrond te staan kom. Al gebeur dit spontaan en vanself, is dit ongewoon in ons wêreld, veral waar ons geneig is en in ons nuwe samelewing geleer word om onsself te laat geld. As ons dan hoor, soos by die vorige aspek van die mistiek, dat ons passief is terwyl God direk op ons inwerk sodat ons gestroop word, wil-wil die rooi ligte aangaan.

Ja, dit is vir ons soms ‘n skok wanneer God in ons werk.

Maar wat ons vergeet is dat die mistieke ervaring om eenwording met God gaan. In die plek van die ruimte wat ek ingeneem het en in die plek van die ek wat tot niet gaan kom iets anders. Wanneer God op my inwerk en ek deur my eie passie, stroping oop is vir wat God aan my doen, kom ‘n ander aspek na vore: ek word met God verenig. God is nou aan die werk in my. Ek deel aan ‘n eenheid met God.

Die vereniging met God, egter, en dit is belangrik, kan nouliks in woorde uitgedruk word. Vereniging is soos liefde: ‘n mens loop saam met jou geliefde en jy dink nie aan hier loop ek en daar loop sy nie. ‘n Mens dink eerder daaraan: hier is ons saam. Ons is lewensmaats, verenig soos met geen ander mense nie. Ons is ‘n paar. Ons is een. Dis moeilik om hierdie liefdesband onder woorde te bring.

So is dit ook in die mistieke ervaring: ‘n mens is by God, maar dit is nie meer “ek” wat hier “is” en “God” wat aan die oorkant van my “bestaan’ nie. Soos ek elke oomblik een is met my lewensmaat, so word ek met God verenig. Die band is so nou dat God in alles is wat ek dink, doen, onthou.

Die mistikus, Dionusios die Areopagiet, praat oor Moses se bestyging van die berg. Moses doen alles wat menslik moontlik is deur die berg op te klim. Dan kom hy bo en hy staan voor die wolk wat die berg bedek en waarbinne God woon. Moses gaan daardie wolk binne. Hy word met God verenig. En hy laat daarmee alles agter wat hy kan sien en hoor. Hy gaan die duisternis binne. Hier is hy by Iemand, maar hy weet nie mooi by wie nie. Hy kan nie peil wat God se teenwoordigheid beteken nie. As hy wil vertel, kan hy niks sê nie. Hy ervaar ‘n God wat niemand kan sien nie.

Die Bybel is vol van hoe onpeilbaar God is en hoe hoog verhewe God bo ons menslike verstand is. Nie een van ons kan regtig werklik onder woorde bring wat dit is om met God verenig te wees nie.

Dit pas ons om maar met groter nederigheid oor ons godsdiens te praat as wat ons gewoond is. Ons kan minder hoogmoedig wees oor hoe ons God nou eintlik regtig moet “verstaan.” Die Emmausgangers in Lukas 24 was in die teenwoordigheid van God, met brandende harte, maar eintlik het hulle dit nie “besef” nie. Hulle was weer met Jesus na sy opstanding verenig, en tog het hulle dit nie verstaan nie! En selfs die woorde van die Here self kan nie hulle verstand verlig nie. Te klein. Daardie verstand. Om met God verenig te wees, beteken ook dat ons nie “sien” nie en nie “peil” nie. Ons kan God nie “bekyk” en “beluister” nie. Ons is by en een met God – verby alle woorde en beelde.

Om een met God te word is ‘n boeiende, brandende verborgenheid. Laat ons daarom eerbiedig buig. Dit pas ons om ons te verwonder dat ons naby God kan kom, dat ons verenig met God kan lewe. Hoe dit werk, gaan my verstand te bowe. Ek kan dit nie peil nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive