Thursday, May 07, 2009

Vier die lewe

Ek moes onlangs op Goeie Vrydag die diens lei in een van my gunsteling kuierplekke. Dis nie ‘n groot plekkie nie en die kerkie is simpel-klein en kaal. ‘n Rondskuif preekstoel (maar mooi). Geen luukses soos 'n pyporrel, sagte tapyte en verskuilde beligting nie.

Deel van die erediens is die preek oor Lukas se maaltye – ‘n merkwaardige goue draad wat deur die evangelie loop. Ek wil aan die een kant nadink oor hoedat Jesus die gewone maaltye van elke dag (lk.14 en 15) met die paasmaal verbind (Lk.22). Aan die een kant sakraliseer Hy ons gemeenskaplike eet met mekaar: as julle bymekaar is om te eet, maak dit ‘n viering van die lewe in my Naam. En die lewe is waar God seënend teenwoordig is. En as Ek nie meer daar is nie, moet julle doen wat ek doen as deel van julle lewe voor God.

Maar as Jesus vir ons daaraan herinner dat ons gemeenskaplikheid “heilig” is (die vroeë kerk het dit goed geweet en hulle brood met mekaar gedeel), wil Hy ons ook herinner hoe “gewoon” ons heiligheid moet wees. Jesus sê in Lukas 22 hy sal nie weer saam met sy dissipels eet totdat die koninkryk van God gekom het nie. En dan doen Hy dit sowaar na sy opstanding saam met die Emmausgangers en die dissipels by die See van Galilea. Sy laaste oomblikke op aarde is ‘n visbraai met sy dissipels. Waarom kan julle nie glo nie! sê Hy vir hulle en laat hulle dan saam met hom braaivis eet. Die koninkryk van God het gekom! En dit kom waar ons bymekaar, gelowig, saam met Jesus die lewe vier deur eenvoudig weg 'n braaivissie te eet. Hy het immers opgestaan en nou is God se koninkryk daar - en dit in die eenvoud van saam-eet.

Ek en my Nederlandse kollegas sit en pluis dit uit op ‘n Sondagmiddag in ‘n restaurant oorkant Brandfort se ou kerk (waar ek sowaar my kamera, pynlik, verloor). Wat beteken hierdie eenvoud? Totdat Jos sê: maar God se koninkryk is in die eenvoud van lewe. Dat ‘n mens kan asemhaal. Kan eet. Bymekaar kan wees. Kan leef. Kan sien. Kan voel. Dit is tog onvoorstelbaar dat ‘n mens dit kan ervaar.

Vir weke lank loop ek hieraan en kou. Om te kan lewe. Op die televisie rol beelde af van iemand wat verlam geraak het en met ‘n strooitjie in sy mond op die rekenaar tik waardeur hy kan kommunikeer. Sedert sy ongeluk span hy alles in om sy gevorderde rekenaarkennis te gebruik om ander wat soos hy getraumatiseer is, by te staan en aan hulle lewenskwaliteit te gee. Hy weet hoe kosbaar die lewe is. As hy die lewe vier, hoe moet ek dit dan doen....

Dit deel ek op Goeie Vrydag in die klein kerkie: die viering van die lewe wat uit God se hand kom en wat die dood nie van ons kan wegvat nie.

Hoe integer is ‘n nagmaalsbediening nie na so ‘n preek nie. Die eenvoud van die brood en die wyn. Maar terselfdertyd die diepe verborgenheid: in hierdie brood en wyn teken God die lewegewende krag van die Gees. Ons kan vashou aan die verborge betekenis van wyn en brood, van liggaam en bloed wat vir ons nuwe lewe skenk. Selfs die dood kan ons hoop nie van ons wegvat nie.

Maar nagmaal bly vir my altyd spesiaal oor die ander eenvoud: die hande van die liturg wat die tekens uitdeel. Ek onthou dikwels my gesprek met Herman Ridderbos tydens my tentamen oor sy boek (Paulus, Ontwerp van zijn theologie) waarin hy met my oor die nagmaal praat. Dit is die hande van die liturg wat die brood breek en die wyn skink wat ook die betekenis van die nagmaal uitbring. God deel lewe uit.

Daarom hou ek van die simboliek wat in die hande lê: die gemeente moet kan sien hoe die liturg se hande die brood breek, die wyn skink. Dit is ‘n teken van God se gawe, God wat uitdeel, wat gee, wat lewe skenk. Hande wat reg is om uit te deel – oorvloediglik, lewegewend. Sodat ons gedurig sal onthou hoe kosbaar die lewe is en hoe dit gevier moet word.

Daarom hou ek ook daarvan dat die diakens die wyn en brood uit die liturg se hande ontvang. Hulle gryp dit nie en loop aan na die gemeente nie. Dit kom van die liturg en word liturgies bedien aan die gemeente.

Een van die diakens kom vat ‘n bak brood van die tafel en loop aan daarmee, sien ek tydens die bediening.

Wat my laat dink aan wat ek vandag oor die mistiek lees. Iemand wat nog nie vir God in die erediens ontmoet het nie, sal nie in die paradys ingaan nie. So iemand sal in elk geval nie die paradys herken as hy of sy daar sou aankom nie.

Elke keer as ‘n diaken die brood en wyn uit die liturg se hand neem, is dit ‘n teken van God wat lewe gee aan die gemeente, herken ons die teenwoordigheid van God, ervaar ons paradys, word eenvoudig deur ‘n hand vir ons lewe gegee.

Hoe kan ons die paradys ervaar as ons nie God se hand by die uitdeel van brood raaksien nie? En, ‘n mens kan in die woestyn, in die kaalte, in die eenvoud in verrukking by God wees as jy maar oë het om te sien. In die klein kerkie op Goeie Vrydag iewers in ‘n hoekie gee God onverwelklike manna. God voed.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive