Monday, May 18, 2009

Van Wyk Louw, Breyten en die mistiek

Eers twee gedigte:

N.P. van Wyk Louw: Ignatius bid vir sy orde
Dat pyn bestaan, is nodig, Heer,
sodat U aarde vol kan vloei
van rykheid, en die soet geduld
óók aan U vreemde boom kan bloei.
Maar gee vir óns die lot van smart
tot aan die einde van U dae;
laat daar aan ons gepynig word,
maar ons nooit pyn maak nie of klae.

Breyten Breytenbach: breyten bid vir homself
Dat Pyn bestaan is onnodig Heer
Ons kan goed genoeg Daarsonder leef
’n Blom het nie tande nie
Dood is wel die enigste vervulling
Maar laat ons vleis nuut soos vars kool bly
Maak ons vastig soos ’n vis se pienk lyf
Laat ons mekaar bekoor met oë diep skoelappers
Begenadig ons monde ons derms ons harsings
Laat ons gereeld die soet aandlug smaak
In lou seë swem, met die son mag slaap
Rustig op fietse ry die blink Sondae
En geleidelik sal ons wegvrot soos ou skepe of bome
Maar hou Pyn vér van My o Heer
Sodat ander dit mag dra
In hegtenis geneem sal word, Verbrysel
Gestenig
Gehang
Gegésel
Gebruik
Gefolter
Gekruisig
Ondervra
Onder huisarres geplaas
Die kromme note mag haal
Tot dowwe eilande verban tot die einde van hul dae
Wegkwyn in klam gate tot groen slymerige smekende bene
Hul koppe vol spykers, maaiers in die mae
Maar nie Ek nie
Maar ons nooit Pyn gee of klae


Louise Viljoen in haar N.Pvan Wyk Gedenklesing (2007; sien by http://www.uj.ac.za/NPvanWykLouwlesings/Vorigelesings/Archives/20002007/2007/tabid/13936/Default.aspx ) wys hoedat Breyten Breytenbach in gesprek tree met N.P. van Wyk Louw. Ek is geboei deur die diepte van die gesprek.

Die persoon in Van Wyk Louw se titel, die Spaanse mistikus, een van die grotes onder die grotes, Ignatius Lojola (1491-1556), is in ‘n oorlog met die Franse beseer (1521) en het tydens sy herstel boeke oor die lewe van die heiliges gelees en ‘n mistieke transformasie ondergaan. Hy begin daarna ‘n lewe van uiterste soberheid (leef bv. in 1522 vir ‘n jaar in ‘n grot). Hy is ‘n stigterslid van die invloedryke Jesuïete, ‘n orde wat veral in onderwys betrokke is.

Sy bekendste werk is die Geestelike Oefeninge (sien elders in die blog). Vir hom is pyn ‘n onvermydelike deel van ons bestaan (ons raak siek, mense sterf) waarvoor ons goddelike genade moet ontvang om dit met meelewing te verduur en te dra. Hierdie “omhelsing’ van pyn is iets wat ons dan inderdaad geskenk kry as ons in ‘n intieme verhouding met Christus leef. God gee aan ons genade om op pyn te reageer met meelewing (compassion as passie – lyding – saam met ander). Van Wyk Louw neem in sy gedig aan Ignatius wat vir sy orde bid, hierdie tema op. (In sy tyd met die Rooms gevaar....)!

Viljoen reken Breyten se gedig is ‘n politieke kritiek op Van Wyk Louw se onbetrokke “abstrakte, nie-spesifieke voorstelling van pyn”en dat Breyten met sy reaksie daarop vra dat Afrikaanse digters moet wys dat hulle hul daadwerklik verset teen die pyn wat in die politieke konteks van die sestigerjare aan ander aangedoen word. Daar is te veel mooi praatjies en te min betrokkenheid.

Terwyl ek haar lesing van breyten se gedig leersaam vind, dink ek dit is te min om te sê dat Van Wyk Louw bid dat sy orde gepynig moet word (sooos sy dit samevattend formuleer). Hy bid eerder vir “sy orde” dat hulle pyn as konstruktief kan ervaar – as nodig sodat “rykheid” die aarde “vol kan vloei” en “soet geduld” aan “U vreemde boom kan bloei.” Ignatius bid juis in die slotreël dat ander nooit pyn aangedoen sal word nie, sodat daar in die gedig ook afstand is van vernietigende pyn. Dit vra dus om ‘n geestelike volwassenheid om pyn om te keer sodat dit helend kan werk. En Van Wyk Louw gee aan Ignatius ‘n “aardse” instelling (dis nie ‘n vrome masochisme of geesdrywende ontvlugting nie) – anders as wat Breyten miskien raaklees.

Maar ek wou Van Wyk Louw hier aanhaal om te wys watter mistieke gedigte in Afrikaans beskikbaar is en hoe hulle impak dalk nie altyd helder bedink word nie. Pyn is ‘n deurlopende, sentrale tema in die mistiek. Dat Van Wyk Louw daaroor kon dig, sê veel. Breyten se aangrypende gedig (dit taal – “in lou seë swem... ! ) het vir my ook geraak – omdat dit die verskriklike pyn van ‘n politieke bedeling uitwys en wêreld uitlig wat verklaar waarom iemand ‘n gedig soos syne so fel kan skep. ‘n Mens mag nooit maklik oor pyn praat nie. Maar dit het die egte mistici ook nie gedoen nie.

Ek wonder nou: al is Breyten se gedig duidelik intertekstueel te lees met Van Wyk Louw s’n, is die afstande tussen die twee nie te groot om hulle saam te lees nie? Is die ooreenkomste nie net “formeel” (sien die eerste reël van elke gedig) nie? Kan Breyten se teks werklik resoneer met Van Wyk Louw s’n? Is dit ‘n billike greep op Van Wyk Louw se teks? En dan: hoe eties is dit dat ‘n mens by ‘n ander teks aansluit en by implikasie ‘n hoop dinges op daardie skrywer aflaai wat nie eintlik regtig billikheidshalwe kan nie? Die subteks (verset teen Afrikaners wat nie hulle kleure wys nie, wat mooi dingetjies sê, liberaal is, Broederbonders was teenoor... teenoor... teenoor) wat hier ter sprake is moet nie ons oë sluit vir die manier waarop die oorspronklike teks van Van Wyk Louw die mistiek verwoord nie en vir die gesprek van eeue wat daarin op so ‘n verbysterende eenvoudige manier gevoer word nie. Ons moet verby die resepsiegeskiedenis van Van Wyk Louw se teks deur Breyten deurbreek en terug beweeg om te ontdek hoedat die ouer garde in bronne gaan put het wat vir hul tyd en konfessionele konteks radikaal was. (Miskien was hierdie diepere soeke een van die redes, byvoorbeeld, waarom van Wyk Louw en Verwoerd nie langs dieselfde vuur gesit het nie).

Maar uiteindelik is die heel belangrikste (vir my) die onmiskenbare meesterskap van beide digters wat so oorrompelend mooi in die twee gedigte na vore kom.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive