Sunday, May 24, 2009

Mistiek en geluk: oor die lewe as energie




‘n Mens kan grensloos gelukkig wees. Mens kyk byvoorbeeld al bloot net foto’s en verwonder jou aan ‘n blom of ‘n berg of ‘n tuin of ‘n vloeiende rivier, ‘n mak apie, ‘n vet gorilla, ‘n springende bok, ‘n kleutergesiggie, ‘n geliefde, ‘n vakansie. En jy word ingetrek in daardie prentjie, weggevoer in wêrelde van heerlike gedagtes, gevoelens en ervaring – sonder dat jy dit sit en bedink of bewerk. Dit gebeur. Dit is mooi. En dit maak ‘n mens gelukkig.

Moenie gaan staan en vra waarom dit ‘n mens gelukkig maak nie. Dit gebeur sommer maar net.

En tog, as ‘n mens daaroor gaan nadink, kan ‘n mens sê jy is gelukkig omdat jy iets moois sien. En in die mooiheid van selfs die vet ou oerang-oetang, vind jy vreugde. Want iewers roer iets in jou. Jy kan dit lewe noem. Dit is nie “ek” wat ‘n iets staan en bekyk en ontleed nie. Ek sien en ek voel iets diepers in my roer, iets wat my vertel van lewe, lewe en lewe. Ek word aangeraak en op sleeptou geneem en ek voel vreugde.

Ek sien ‘n bok wat sierlik en pootjie opgetrek deur die lug klief – maklik, asof dit vir my wil sê die lewe kan lig wees. Jy kan ook so hoog reik. Jy kan ook hoogtes bereik. Of: kyk hoe onmoontlik: ‘n diertjie, ‘n fragiele bokkie, deur God gemaak om te sweef. Hoe ondenkbaar dat die lewe so vol krag kan wees. Of die kleutergesiggie, haas-tand, een handjie om die roomys geklem, stralend van vreugde oor wat lekker is. Of slapend, moeg na die oggend se gespeel in die see, om uit te rus, op te vang vir die volgende uitbundige rondhardloop in die son. ‘n Mensie wat grensloos, uitbundig haarself aan die lewe oorgee en argeloos en liefdevol vertrouend lewe. Die ewige siklus van die lewe. Dieper, agter alles wat ons sien, hierdie wonderlike, boeiende energie wat so skeppend, kreatief, nuut, helder, warm, liefdevol kan wees.

Mooi kan ‘n mens, ook, dit is waar, op die sterfbed sien. Trane van berustende afskeid. Of by ‘n hospitaal, wanneer ‘n dienswerker liefdevol ‘n kussing regtrek, ‘n bietjie water gee, ‘n nag-groet voor die ligte afgeskakel word. Of in die klaskamer. ‘n Aanmoediging, ‘n verdraagsaamheid. Of by die sportveld: applous vir die teenstanders.

Die mistiek wil ‘n mens bevry van alles wat jou van energieke geluk ontneem, wat jou geluk afsny en vir jou mistroostig maak. Dit wil ‘n mens uiteindelik boeiend laat staan voor God wat in totale skoonheid elke dag maar weer oor jou pad kom en jou wil aanraak, suiwer, vul, vorm, bewoon en in liefde wil laat bly. In die mistieke ervaring, waarvoor jy oop is, wat jy afwag, waarna jy verlang, kom die Gees van Krag, heilig, oorweldigend, verwonderend en laat iets in jou gebeur wat jou hart oopsluit vir die lewe, skoonheid en vervulling

Sonder die mistieke, goddelike aanraking is ons lewe misrabel. In die mistieke ervaring vind ons volmaakte vreugde.


No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive