Sunday, May 10, 2009

Die mistieke ervaring: nietiging en ontwording

‘n Mens hoor dikwels dat mense vertel hoedat trauma hulle dramaties verander. Op 9/11 toe die vliegtuie in die Wêreldhandel-sentrum in Manhattan vasgevlieg het, het die wêreld tot stilstand gekom. Vir dae lank het die tragedie mense se lewens oorheers en hulle van hul gewone werksaamhede weggehou.

Iets het met die wêreld gebeur wat mense spontaan daartoe gebring het om hulle prioriteite te herrangskik. Op die pale van Manhattan het plakkate verskyn waarop mense herinner is aan omgee as die belangrikste van alles. Wie troos jou, wie omhels jou, wie sit by jou as jy knak onder jou verliese? Watter herinneringe bly by jou as jy saans in ‘n leë huis instap en die ander een, die geliefde, is weg?

Dit is wat ook gebeur wanneer God ‘n mens aanraak. ‘n Mens raak los van alles wat jou altyd so besig hou. Maar wat iewers vir jou so verskriklik in die steek laat as dit saak maak.

Trouens, as God ‘n mens aanraak sal hierdie aanraking alleen werk wanneer jy jou vir God beskikbaar stel en jouself prysgee. Om deur God omvorm te word, vra dat die mens van hom- of haarself ontledig word. Die rykheid van die mistieke ervaring kan slegs ontplooi word waar ‘n mens van jouself vergeet. ‘n Mens kan dit duidelik raaksien in Jesus se lewe (hier is nou ‘n mistieke lees van die doop en versoeking van Jesus).

Jesus het die mistieke aanraking van God beleef toe die duif op Hom neergedaal het met sy doop. Die mistieke aanhoor van God se stem: “jy is my geliefde Seun” het tot hom gekom in die bloeityd van sy lewe en duidelik so intens by hom gewerk dat al die evangeliste geweet het daarvan en dit in hulle tekste opskryf. Hy het dit met hulle gedeel hoe God in die doop iets oneindigs groots met hom laat gebeur het.

En hoe sou hy nie die daaropvolgende dae hieroor nagedink het nie. Sy ervaring het intens gebly soos hy moes reageer daarop. Om deur God aangeraak te word, kan ‘n mens ook vernietig deurdat jy die aanraking misreken.

In ‘n worsteling vir die veertig dae lank in die woestyn het hy allerhande verleidelike visoene gehad oor ‘n glorieryke toekoms: om oorstelpende wonders te doen deur selfs brood uit klippe te maak, om die natuur uit te daag, om die koninkryke van die wêreld in besit te neem.

En kyk maar hoe kom Jesus elke keer weer terug op dit wat werklik saak maak: as hy biddend worstel met die verleidinge besef hy uiteindelik wat tel is om uit die woord van God te leef, om God nie te versoek nie, om die Here God alleen te aanbid. (Om God nie te versoek nie! – is ons ooit bekommerd hieroor!) Die versoekinge in die woestyn eindig op ‘n klimaks. Die hoogtepunt van alles is nie om oor die wêreld te regeer nie, maar suiwer en alleen aanbidding van God! (Mt.4:10). Om God te aanbid, om in verwondering te wees by die een wat jou as geliefde kind omhels, om jouself te vergeet en te verdrink in die hemelse omgee. Om by ‘n Vader te wees. Om geborge te bly voel – al tuimel geboue inmekaar en kom die hele wêreld tot stilstand. Dit bly die wonder van die mistieke ervaring.

Om God te aanbid en te dien beteken om al die versoekinge wat op jouself gerig is, te weerstaan. Dit moet in die niet verdwyn. Hoe nietig is dit nie – al die dinge wat ons tog so ywerig as belangrik voorhou! En hoe moeilik om jouself en jou eie belang so te moet vernietig.

En tog, as jy jou losmaak van jouself, jou gehegtheid aan al die gewone prysgee, word die pad oopgemaak vir die gehegtheid aan God. Op die manier ontdek ons wat werklik saak maak. Dan leer ken ‘n mens die hoogste prioriteit.

Om te kom tot aanbidding van God moet ‘n mens alles wat jy altyd so stilweg verafgood, opoffer. Nie as ‘n swaar opoffering nie. Maar omdat ‘n mens in God se liefde tot rus kom. Wat is, utieindelik, ook meer vervullend as om by God te skuil? In die skadu van die Allerhoogste? Om tot rus gebring te word. Waarom dan nie ywerig, graag, die eie dinge prysgee nie?

Om van jouself ontdaan gemaak te word. Om in God voldaning te vind. Hy moet meer word, ek minder. Ek moet ontword. My krag is nie van hierdie wêreld nie. Die wat op die Here wag, kry nuwe krag. Om in die niet te verdwyn is om in die goddelike liefde opgeneem te word.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive