Wednesday, May 13, 2009

Om op God te wag - passiwiteit as lyding

Dit klink maklik, het ons gister gesels, om op God te wag. Om so passief in God se hande te wees. Maar tog....

‘n Mens assosieer passiwiteit met niks-doen, terug-sit en wag op ‘n ander om iets te doen. In die mistieke ervaring is dit ook inderdaad die geval. Die een wat verlangend bid ervaar op ‘n stadium God se teenwoordigheid asof die gebed gehoor word. Die bidder voel God se nabyheid. Die ervaring bring ekstase: die mens word ingetrek in ‘n ervaring buite hom- of haarself heen. ‘n Mens verloor jouself in hierdie goddelike teenwoordigheid. In die proses verdwyn die mens in die niet en nou werk God direk op hom of haar in. Die mens is aan die ontvangkant, laat God toe om te bly werk, om in hom of haar te bly roer en in verrukking te bring. ‘n Onmeetlike en verslindende vuur brand in op die mens in die goddelike teenwoordigheid. Die mens kan nooit weer dieselfde wees wanneer God so inwerk nie. Die ou mens sterf.

En dit is nou waar passiwiteit anders word as onderwerpende berusting. Dit is nie dat die mens nou maar toekyk wat alles met hom of haar gebeur nie. “Passiwiteit” kan ‘n mens ook verbind met “passie” in die sin van “lyding.” Dit beteken dat die mens deur die goddelike inwerking gesloop word, gebrand word. Die mens word deur die goddelike aksie in ‘n tyd van passie/lyding ingedompel. Passiwiteit beteken dan om in die nag ingegooi te word, in die woestyn ingeneem te word, in eensaamheid ingetrek te word.

Dit is nie so maklik om op God te wag en oop te wees vir God se werking nie. Dit is soos die pyn van die inspuitingsnaald.

Maar uit hierdie lyding en passie word nuwe lewe gebore. Die kuur vloei deur die naald in die bloedstroom en bring heling en heiliging.

Paulus het na sy bekering drie dae lank blind gesit en wag op God, sonder om te eet of te drink (Hand.9:9). Hy het sy kragte verloor soos hy van sy eetlus ontneem is (Hand.9:18). Terwyl hy in die donker nag van blindheid leef, stuur God vir Ananias na die biddende Paulus (Hand.9:12). Dit was die tyd waarop hy vir die Heilige Gees gewag het (Hand.9:17).

Die donker tye in ons lewens, die tye wat ons verlangend bid, wat ons weet God is iewers naby ons aan die werk, is die tye waaroor ons later, na die tyd, kan sing as tye waarin ons God se helder lig in die donker gevoel het. In die donker nag was ons naby aan God, het ons God se aanraking gevoel brand in ons en het ons hart in oneindigheid ingesak. Here, U raak my aan met soveel krag, so oorweldigend dat dit my wegbrand. En oopbrand vir U in U oneindigheid.

Dit is nie maklik om passief in God se hande te wees nie. Maar dit is die weg tot heerlikheid. Dit is nie maar net om rustig terug te sit en God te laat werk nie. Want uiteindelik gaan dit om God wat op jou inwerk - direk, onmiddellik en daarom dodelik. Maar miskien moet 'n mens 'n derde betekenis van passiwiteit hier onthou: passie. Want waar God werk, brand iets in jou los.

Dit is die geboorte van nuwe lewe, van die liefde, van die passievolle avontuur met God. Dit is hier waar die eenheid met God hegter gesmee word, waar 'n mens nader aan God kom en die rus in jou hart dieper kom woon.

Dit is goed maar ook gevaarlik om op God te wag.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive