Monday, May 04, 2009

Gebed, verlange en spiritualiteit

As jy in die oggend uit die bed uitstrompel en die normale lewe aandurf, moet iemand nou nie met jou sukkel en vir jou vertel jou hart verlang na God nie.

Verlange klink dikwels, veral in die helder daglig, sentimenteel en so bietjie snot en trane asof dit ‘n minderwaardige emosie is en verwys na onstabiliteit.

Maar verlange het nie regtig met trane en rukkende skouers en selfbejammering te doen nie. Verlange beteken ek ervaar ‘n gemis. ‘n Mens kom agter dat daar iets in jou lewe ontbreek wat jou onrustig maak. Terselfdertyd is verlange ‘n soeke na dit wat ‘n mens tot rus sal bring. Is die teenoorgestelde van verlange “vervulling”?

Een van die dinge wat ‘n mens gou agterkom is hoe leeg ‘n mens se bestaan kan word. Hoeveel keer weer vertel mense hoedat hulle te midde van ‘n besige lewe, ‘n groot lawaai, ‘n geroesemoes van stemme, ‘n jagende verkeer pynlik eensaam voel.

Daarom gryp mense na allerhande antwoorde: party verdrink hulle verlange in alkohol of dwelms. ‘n Mens bedwelm letterlik jou sinne sodat jy nie bewus bly van dit wat in jou lewe ontbreek nie. Ander weer gryp angstig na mense om hulle en wil hulle “besit.” Die groot seksindustrie is ‘n teken van mense se verlange na intimiteit en terselfdertyd ‘n teken van hoe oppervlakkig mense probeer antwoorde vind op hul innerlike verlatenheid. Nog veel meer mense verdring hul eensaamheid deur sport, deur rondreis, deur ‘n Ipod in hulle ore, deur ure voor die televisie.

En telkens weer, as ‘n mens maar nog ‘n sessie agter die rug het, is jy weer op jou eie.

Egte geluk is wanneer ‘n mens se verlange gestil word. Wanneer jy op ‘n veilige plek naby en by iemand is. Wanneer jy jouself kan deel met iets groters of anders as jouself. In vele opsigte kan ‘n mens so ‘n vervulling kry in ‘n vriendskap of verhouding.

Maar ons wêreld met sy baie vertelling, stories en liedere oor gebroke liefde leer ons ook dat selfs die mees intieme verhouding of vriendskap iewers stuit op grense. Geen mens kan jou verlange totaal stil nie.

Die groot verlange word dus nooit geles in menslike verhoudinge of vriendskappe nie. In die mees intieme oomblikke van ‘n intieme verhouding kan ‘n mens nog skreinend eensaam en onvervuld wees. In ‘n gelukkige, stabiele en gesonde huis kan die pyn van ‘n gemis aan jou bly knaag.

Verlange het nie net met ‘n emosie te doen nie. Dit is nie ‘n teken dat ‘n mens onstabiel is nie. Verlange is ‘n diepe wete, ‘n besef, ‘n ervaring dat kortstondige antwoorde nie my vrae na sin sal dien nie. Alle besittings, maats, bure, vriende, kollegas, loopbane, medaljes is vlietig en ekstern. Verlange daag my uit om na God en die lewe te vra. Dit sal my alleen laat los wanneer ek buite myself en alle eksterne dinge gaan soek na wat saak maak.

En een van die eerste dinge wat verlange my leer is dat dit nie regtig “ek” is wat saak maak nie. Trouens, alles wat met die “ek” te doen het, laat my herhaaldelik en gedurig besef hoe arm “ek” is, hoe veel het ek buite myself nodig om vervuld te wees. Daarom is die eerste rede waarom ek in my ‘n verlange verduur, die verlange om verby myself, my beperkinge, my magsgrepe te kom. Verlange begin waar dit tot my deurdring dat ek so afhanklik van myself is – en daarom so onvervuld is – en dus na iets anders, groters smag.

Augustinus het gepraat van die onrustige hart wat net in God tot rus kom. Om in die oggend met ‘n skewe voet uit die bed te klim, wetende dat nog ‘n dag se gesleur vir ‘n mens lê en wag, sal dit dalk juis sin hê om maar vir ‘n oomblik terug te lê op jou kussing en na te dink oor juis wat dit is wat ‘n mens so kriewelrig en kort van draad maak. Wat mis ‘n mens dat jy nie kan wakker word met die wete jy lewe, jy haal asem, jy sien die son heldergeel skyn, jy ruik die lekker geur van vars oggendkoffie, jou kind kom haar armpies om jou slaan? Hoe kom die onrustige hart, deurspek met verlange na iets groters, iets anders, die Ander Iemand, tot rus? Wat kan ‘n mens te midde van heftige en hewige emosies en in die loop van ‘n wilde dagprogram laat besef dat ek deur dit alles gaan ter will van ‘n groter saak en ter wille van Iemand hoër as myself wat my honger na innerlike vervulling stil-weg stil maak? Om tog só naby aan God te wees, dat ek selfs in my verlange kan weet dit is eintlik na God wat ek so verlang, wat my so kriewelrig maak. Dit is waarom gebed gaan.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive