Sunday, May 31, 2009

Aanbidding in gebed.

Romeine 9-11 is diep hoofstukke: Paulus dink na oor die plek van Israel in die nuwe bedeling sedert Jesus se dood en opstanding. Paulus, die toegewyde Jood, worstel met die vraag hoe dit gebeur dat sy volksgenote, die volk van God, hul rug op God se genadesaanbod draai. Hy troos hom aan die gedagte dat daar darem ‘n deel is wat dit nie gedoen het nie. Hulle is die “oorblyfsel”. En hy troos hom daaraan dat hulle “val” daartoe gelei het dat baie heidene God se woord kon hoor en aanneem (Rom.11:12).

En dan praat hy oor die toekoms: as die volle getal van die Jode tog maar die Here sal vind – hoeveel seën sal dit nie inbring nie! (Rom.11:12). Dit is ‘n “geheimenis”, ‘n verborgenheid dat die “hele Israel” aan die einde gered sal word. God, die getroue, laat mense wat God uitgekies het, nooit vaar nie (Rom.11:29). Sy lesers in Rome mag nie vergeet dat God trou bly aan God se beloftes.

En dan, op die punt, wanneer hy die rykheid en volheid en seën van die toekoms bedink en God se verborgenheid bespreek, kom hy by ‘n punt dat hy ‘n lied neerskryf: “O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is God se oordele, hoe onnaspeurlik God se weë!....”

Dit is een van die mooiste aanbiddingstekste in die Bybel: ‘n mens kan baie oor God praat, maar daar kom ‘n punt dat die ervaring van God alleen maar uitgebid kan word. Dat Paulus dit in Romeine 11:33-36 doen, wys hoe diep dit hom geraak het as hy oor God se ewige trou gepraat het en oor die verborge dinge van God nagedink het.

Biddend, oratief, gee hy uitdrukking aan sy belewing van God.

Saturday, May 30, 2009

My. Oor spiritualiteit as my geleefde geloof

Ons sit in ‘n kring van die wyses en praat oor die diep dinge in die lewe. Die voorganger is ‘n bekwame, ingeligte mens, maar ook iemand wat die geestelike reis oor baie jare met empatie loop. Die kring van die wyses bestaan uit geroepenes, mense wat die pad graag vir ander wil aanwys.(Ons het in die kerk hierdie sendingbewussyn, waardeur ons gedurig op die uitkyk is om groot getalle mense in te samel, kerke te stig, bekeerlinge te maak. Ons dra swaar aan die las om leraars van mense te wees).

Krt-kort neig die gesprek in ons groep na die "probleem" “hoe” ons Bybelse "antwoorde" aan “die mense” gaan oorvertel en oordra. Ons is leeraars met 'n verantwoordelikheisgevoel.

Die voorganger, wys, vra ons om eers net te vra: wat maak vir “my” saak? Hoe onderskei ek die Here se wil vir my lewe?

Dit is merkwaardig dat Paulus, die grootste sendingwerker van alle tye, se geestelike reis by homself begin het. Op pad na Damaskus was dit ‘n saak tussen die Here en hom. Hy is innerlik deur God aan geraak em moes dae lank in gebed worstel om die Here se roeping vir sy lewe te hoor. En hy beklemtoon in 1 Kor.15 dat die Here aan hom, die geringste, verskyn het.

Selfde met Jesus: sy doop was God se roepeing aan Hom en toe het hy in die woestyn gaan vra wat beteken dit vir homself.

Wanneer ons oor God nadink, is die heel eerste vraag wat ons stel: wat sê God vir my, vir my lewe, vir my geestelike vorming.

En op die ou end gaan ek dan skugter na die “mense” – nie met ‘n boodskap oor wie God was of is of sal wees "vir hulle" nie. Maar met my lewe praat ek oor wat God aan my gedoen het. Nie dat ek persoonlike ontboesemings kwytraak nie. Maar wel dat ek verstaan dat die waarheid in my lewe beslag moet kry. Die waarheid is wat my omvorm, verander, transformeer. Soos vir Paulus. En aan hierdie dinamiese waarheid, die waarheid van die ervaring, hou ek in my meelewing met ander vas.

Spiritualiteit het ook hiermee te doen: God wat as die Heilige, die Verborgene, in my lewe inkom en onverwags, stilweg, brutaal al my idees oor die goddelike en die heilige uit my uitsny (Paulus die heilige Fariseër!) en my, vir my, neem waar ek nie wil wees nie. Dit was Peterus wat met sy eie idees oor wie God is, onder die oordeel gekom het en moes uitvind wie God nou werklik is. Hy wou nie luister na God wat vir hom aangesê het hom reg te ruk nie. Hy het ‘n hele ou sisteem gehad van God en die besnydenis. God moes hard met hom praat voordat hy besef het hoe verwerplik sy eie idees oor ander mense is.

Eers wanneer ek hoor wat God vir my sê en ek gaan vertel wat God vir my sê, sal “mense” in my iets ontdek van wie God werklik (!) (in my werklikheid) is.

In die mees persoonlike ontmoeting met God, lê die mees universele boodskap oor God opgesluit.


Julle het net een Leermeester, hoor ons van Jesus. Hy het verstaan hoe verleidelik dit is om ander te leer en self nie die koninkryk in te gaan nie. Dit is lewensgevaarlik. En dit is 'n daaglikse stryd om die gevaar van jou lyf af te hou. Daarvoor het jy die Heilige Gees, die heiligende, stropende werking van die waarheid in jou lewe nodig.

Ervaring op ervaring: daar is iets mistieks in ons praat van God

Ek het vanaand die Blou Bulls wedstryd in die Super 14 finaal teen die Chiefs gekyk. Die spel en die atmosfeer in die stadion het veroorsaak dat enige iets wat iemand daarna gesê het, flou en onwerklik gelyk het. Hoe praat jy nadat Victor Matfield bo-oor ‘n skrum sy lang lyf ruk en die drie netjies agter sy opponente se rug plant? En as Habana onderskep, oop en toe afsit om te gaan druk, wat sê jy eerste en hoe sê jy dit?

Die ouens is, soos goeie sportmanne, erkentlik. Hulle wil graag iets van hul dankbaarheid te kenne gee deur oor hul godsdiens te praat. Hulle prys die teenstanders, wat bedremmeld een kant staan, oorweldig deur die tsunami wat hulle onstuitbaar uit die pad gespoel het. Hulle prys hulle afrigter, die man wat seker een van die warmste sitplekke in Pretoria het. Hulle gaan haal hul vrouens, hul kinders en loop om die veld in ‘n triomf-rondte. Hulle vertel hulle is ‘n span wat vir mekaar speel. Hulle bedank die toeskouers en die toeskouers se tone krul almal van lekkerkry want hulle het uitgehaal en gewys, groot gewys. Die uitwerking en deurwerking van so ‘n 80 minute wedstryd het byna nie grense nie. Daar sal baie, baie keer nog teruggedink word aan baie verskillende oomblikke van hierdie wedstryd. En daaroor gepraat word. En hierdie kollektiewe geheue en kollektiewe nadenke is wat sport so uniek maak. Visueel brand die indrukke beelde vas op retina’s, vir ‘n flitsende oomblikke. Maar daarna kom die onthou, die praat en die oor en oor beleef. So ‘n 80 minute ervaring gaan oor 80 jaar iewers nog in ‘n kleinkind se lewe ervaar word: op 31 Mei 2009 het Oupa self gesien hoe Pierre Spies dwarsoor die veld met sy lang lyf soos ‘n vlakhaas oopgelê het om die bal te gaan druk.

Dit is boeiend om te sien hoe ons nie ons ervaring regtig volledig in woorde kan uitdruk nie. Ons kan maar net in brokkies en stukkies probeer uitspel wat hier met ons gebeur het. “Het jy gesien...” “Dink jy....” “Moes hy nie....” Maar juis wanneer ons saam daaroor praat, deel ons iets van die opwinding van die ervaring en kom die volheid daarvan na vore. Ons herskep die gevoel van behaaglikheid wat ons ervaar het. Die spelers wil by hulle families en ondersteuners wees – saam wees om die genot van die oomblik te deel. In ons sitkamers sit ons saam en nabetragting hou. Ons beleef weer iets van die opwinding van ons ervaring. In ons kollektiewe saam-wees rondom ‘n unieke gebeurtenis kan ons die vlam van inspirasie nog laat brand.

Iewers is spiritualiteit ook so: God deel met ons die onvoorstelbaar goeie oomblikke. Ons ervaar die beste en mooiste wat God ons kan gee. Ons kan dit nie regtig goed genoeg in woorde uitdruk oor hoe bevoorreg ons is nie. Oor eeue heen praat mense oor die verborgenheid dat God na ons uitreik. In ons deel van hierdie liefde van God deur daaroor te praat en dit met mekaar te deurdink, oor en oor, inspireer ons mekaar. Ons liefde vir God groei deur dit met mekaar te deel.

En, uiteindelik, word ons meegevoer om uit ons hart uit, as mense wat die goddelike verborgenheid ontvang en met mekaar deel, vir God weer opnuut ons liefde te wys. Daar is iets meeslepends in ons saam-praat oor God: deur oor God te praat, hoe sukkelend ons dit ook al doen, beland ons keer op keer by 'n punt dat ons in gebed tot God roep. Om oor God te praat, bring 'n mens onvermydelik weer op die punt dat 'n mens met God praat.

Friday, May 29, 2009

Die geestelike lees van die Bybel: oor medittatio en oratio

Ons lê dikwels die inhoud van wat ons glo in belydenisskrifte vas. En dit is goed so, want dit gee vir ons insig in wie God is en waarheen God met ons op pad is. Geloof in God, die Seun en die Heilige Gees vorm byvoorbeeld drie afdelings van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat op allerhande maniere ingevul word. God word naamlik bely as God die Vader en God die Skepper van hemel en aarde. En albei hierdie sake is belangrik, want dit vertel iets van God se versorgende verhouding met ons en met die skepping.

Dit is so belangrik dat die kerk deur eeue heen die gebruik het om die geloofsbelydenis elke Sondag deur die hele gemeente hardop te laat opsê.

‘n Bekende belydenis in die Ou Testament is die pragtige Exodus 34:6. “Die Here is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte.”

Maar nou ken ons die ellende dat iets wat ons by herhaling doen, die neiging het om afgestomp te raak en naderhand leë woorde word.

Of ons ken ook die verskynsel dat ons met ons verstand sulke woorde netjies kan verduidelik, maar dat hulle nie regtig iets aan ons doen nie. Ons hart word nie geraak daardeur nie.

Maar soms, wanneer ‘n mens se hart oorloop oor die grootheid van die Here, kan sulke geloofsbelydenisse nuwe lewe kry wanneer ons dit bid.

Kyk maar wat gebeur in Psalm 1003.

Hier word Exodus 34 se geloofsbelydenis in ‘n groot liefdesgebed oorgeneem. Maar wat ‘n geloofsbelydenis in Exodus 34 is, word hier ‘n vurige lofgebed. In oorstelpte emosies loof die bidder die Here met “alles wat in my is.” Twee keer aan die begin van die psalm loof die bidder die Here en dan weer vier keer aan die einde. Hy wil nie vergeet wat die Here alles so weldadiglik vir hom gedoen het nie.

Hier word die inhoud van wat ‘n mens oor die Here weet en as geloof bely, gebruik om die Here biddend te prys. ‘n Mens kan jou indink in wat hier gebeur: iemand wat na woorde soek om sy innerlike, vol, ryk gemoedstemming uit te druk. Van sy kinderdae ken hy Eksodus 34:6. En nou, by die Here, voor sy aangesig, neem hy daardie woorde, liefdeswoorde, en bid hulle liefdevol: so vol liefde soos God is, so vol liefde is die gretigheid waarmee hy sy geloof in gebed en in liefde vir die Here gee. Wat ‘n mens netjies in mooi woorde saamvat, kry in ‘n gebed merkwaardige nuwe krag. Wat ek as woorde oor God bedink in ‘n geloofsbelydenis, word in ‘n gebed ‘n liefdesverklaring. Meditatio slaan om in oratio. Verstaan, insig word passie, liefde, lof, oorgawe aan God.

Thursday, May 28, 2009

Die mistieke ervaring: deurwerking as lakmoestoets



Die boeiende skildery van die onthoofding van Johannes die Doper is van Pierre Puvis de Chavannes (1824-1898) en hang in die Barber Institute of Fine Arts, Birmingham, England.




Die ervaring van God se mistieke aanraking, bring ‘n mens tot die innerlike besef van ‘n intieme eenheid met God. In baie gevalle kan met mens dan gebeur dat jy wil skuil in daardie besonder en unieke oomblikke en dit vir jouself wil hou of opeis. Of dit kan ‘n hele lewensstyl by jou wakker roep soos toe die woestynvaders in die begin van die Christelike tydvak hulle van die wêreld onttrek het om God te gaan opsoek in stilte en afsondering. Vir hulle het God hulle aangeraak as hulle hul eie wêreld ontvlug het.

Johannes die Doper het ook daardie mistieke oomblikke in die woestyn gehad. Mense het na hom gestroom om God se aanraking in die doop te ervaar. Sommiges, soos die Fariseërs en Sadduseërs het ook die woestyn-ervaring opgesoek en saam met duisendes gegaan om gedoop te word. Maar Johannes was onverbiddellik kwaai en het kwaai vir hulle (Mt.4:10) gesê: wie nie vrugte dra wat by die bekering pas nie, sal ‘n verskriklike oordeel ondergaan.

Die mistieke ervaring word getoets aan die vrug wat dit voortbring. Deur die geskiedenis heen was die lakmoes-toets vir baie mistici vir die mistieke ervaring of dit transformatief is: as dit ‘n ervaring is wat op jouself gerig is, is dit nie van God nie. Dit moet jou innerlik en na buite omvorm. Dit moet jou die woestyn inneem en dit moet jou die wêreld invat.

Nie dat ‘n mens maklik kan oordeel of iemand se mistieke ervaring eg was of nie. ‘n Mens moet maar baie versigtig wees daaroor. Die mistieke ervaring is iets baie, baie kosbaars en moenie ligtelik beoordeel word nie.

Waar twee dinge gebeur altyd waar God se Gees werk: ‘n mens word innerlik skoongebrand en nuut gemaak. God kom woon in jou met God se heerlike teenwoordigheid. Waar God is, kom woon goedheid ook in jou. Die mens word ‘n plek waar skoon waters van God vloei en alle uitskot en onreinheid afwas. Van binne uit word jy nuut gemaak.

Maar die waters kan jy nie in jou opdam nie. Die waters in jou dam uit na ander. Wat jy doen as iemand wat innerlik skoon is, maak ‘n verskil waar jy ook al werk, praat, die lewe geniet, stil is of saam met ander is.

‘n Mens het nie éérs ‘n mistieke ervaring waarin God jou aanraak en dán leef jy hierdie ervaring na buite uit nie. Die ervaring van God word eg wanneer dit in jou en in jou lewe ook gebeur en voortgesit word en ‘n werklikheid word. Die mistieke ervaring begin met God se aanraking van die mens in sy innerlike en duur voort in God se aanraking van die mens in sy eie, unieke ervaring van die lewe rondom hom.

God se aanraking gebeur nie net in die woestyn nie. Johannes die Doper het dit besef: die doop, die mistieke ervaring vind sy vrug in die mens se lewe in die wêreld. Wat in die woestyn begin, in stilte, in afsondering, word voltooi in die woeligheid van die gewone, alledaagse lewe. Die een kan nie sonder die ander. “Wat moet ons doen” vra die gedooptes vir Johannes in die woestyn (Lukas 3:10-14). Hulle doen reeds, hulle kom vra al, maar hulle weet hulle moet meer doen. Johannes help hulle: deel julle kos (ontferm julle), moeni skelm en korrup wees nie (loop ‘n reguit pad), moenie gewelddadig gierig wees nie (tevredenheid en dankbaarheid). As God ‘n mens aanraak, raak God ook aan hoe jy jou mond, jou beursie, jou hart in hierdie wêreld uitleef.

Hiermee sluit ek die bespreking van die verskillende dimensies van die mistieke ervaring af. Die eerste keer het ek 'n heel letterlike lees van Waaijman se weergawe gegee (sien hier onder) en toe het ek elk van die tien dimensies meer vrylik en toegepas bekyk.

Wednesday, May 27, 2009

Heerlikheid en glorie: die mistieke en heerlike ervaring van God

In 1 en 2 Thessalonisense (waaroor ek tans twee artikels skryf) word daar ‘n paar keer oor “heerlikheid” (glorie) gepraat. In 1 Thessalonisense maak Paulus ‘n merkwaardige stelling: God roep gelowiges tot die koninkryk en heerlikheid (1 Thess.2:14).

In 2 Tessalonisense 1:9 praat Paulus van ongelowiges wat met die terugkeer van Jesus geen deel sal hê aan God se teenwoordigheid en die “heerlikheid van sy sterkte” wanneer Jesus kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo.

Maar seker die opvallendste vers is 2 Thessalonisense 2:14: “God het ons geroep deur ons evangelie om die heerlikheid van ons Here Jesus Christus te verkry.”

In die Ou Testament is God se heerlikheid ‘n baie belangrike motief. Dit is altyd ‘n teken van oordeel wanneer die volk nie meer God se heerlikheid kan beleef nie. En dan skenk God weer heerlikheid aan die volk om hulle nuut te maak. God se woonplek in die hemele is ook as die plek van heerlikheid beskryf. Eendag sal God aan die volk weer sy volle heerlikheid skenk en onder hulle woon.

In die Nuwe Testament en hier in Tessalonisense word hierdie goddelike heerlikheid met Jesus vereenselwig. Mense is deur God bestem vir heerlikheid.

Praat van wederkerigheid! God maak van ons wat God is. Heerlikheid. Soos wat God Jesus met eer en heerlikheid beklee, so doen God ook met ons.

Wat kan heerliker as dit wees?

Om te weet dat ons ‘n verhouding het waarin God alles vir ons gun wat God self is en het!. Ons kan maar net hiervoor in verwondering staan – soos 1 Tessalonisense 1:10 sê. Dit is ‘n geheimenis. Dit is iets wat ons nie kan begryp nie, maar wat ons dankbaar kan beleef.

Tuesday, May 26, 2009

Die vreugde van wederkerigheid: oor mistiek en die liefde



(Die kerk van Guido Gezelle in Brugge)

Ons kan baie keer dink liefde is wanneer ek iemand in my lewe het, asof ek so iemand besit. Dan word dit ‘n angstige ervaring want ons hou ‘n harde greep op die ander persoon. Ons is op die oog af verlief, maar eintlik in ons hart jaloers en besitlik. Ons reik uit na die ander een, gesels, praat, maar daar is nie vertroue nie. Dit is ‘n verhouding waarin ek die ander een manipuleer, verstik deur my teenwoordigheid en wil dwing om soos ek te word. En hoe meer ek die ander een krampagtig vashou, hoe meer verwoes ek die verhouding en maak ek die ander een benoud. Breek ek egte liefde af.

Dit geld lank nie meer net ‘n huwelik nie. Dit gaan hier om verhouding tussen pa en kind, dogter en ma, bure en bure, christen en christen, christen en jood, werknemer en werkgewer (ja!).

Egte liefde lyk anders: egte liefde is wanneer die ander persoon voor my staan en van my vra om steeds weer onvoorwaardelike aanvaar te word vir wie sy of hy is. En egte liefde kan nooit die ander een werklik peil nie. Hoe meer ek dink ek verstaan die ander een, hoe meer ontdek ek hoe anders sy of hy is. Daar is regtig geen einde aan die diepe nuwighede in die ander een nie. Eers wanneer ek dit respekteer, maar meer nog soek, ontdek ek egte liefde. Dan hou ek die ander een nie aan as my eiendom nie. Ek probeer ook nie die ander een dwing om te wees wat ek wil hê hy of sy moet wees nie. Laat my dink aan Paulus se: die liefde soek nie sy eie belang nie. Dit is nie liggeraak nie. As die ander een nie is wat ek wil hê nie, moet ek dit nie bitterbek verduur nie. Egte liefde sal sê: ek is bly as jy bly wie jy is! Vertel my nou meer?

En hoe meer ek die boeiende diepte in die ander mens raaksien, hoe meer ontdek ek hoe vol vreugde die liefde is. Nou word liefde ‘n avontuur – ek begin agterkom die rykheid van die ander een se “anders wees”. Ek word verras deur wat ek nooit raakgesien of selfs ervaar het nie.

Dit is nie maklik nie – om lief te hê met ‘n vreemde, toegewyde, selfs mistieke liefde. Ek moet bereid wees om te waag, om te verander en om aan te pas. Maar deur dit te doen, kom daar nuwe lewe, nuwe dinge, nuwe ervaringe. En deurdat ek my maat toelaat om my maat te wees en nie my besitting nie, word ek meer volwasse, ryper en liefdevoller. Hoe meer geduld ek aanleer om ander te aanvaar vir wat hulle is en nie vir wat ek wil hê hulle moet wees nie, hoe meer word ek beloon met nuwe avonture – liefdevol, goed, lekker, maar ook stropend, genesend en vormend. Dis nie ‘n soetsappigheid hierdie nie. Dit vra liefde en liefde wat toewyding insluit, wat nie eie belang soek nie....

In ‘n sekere sin werk dit ook so in ons verhouding met God. ‘n Probleem met die mistieke ervaring is dat dit soms misverstaan word asof die mens in God opgaan en in God verdwyn. Egte mistiek mis hierdie arrogante aanspraak op enige vergoddeliking van die mens, so asof ons God kan besit en vir onsself kan toeëien.

Hoe waar dit ook al is dat daar ‘n innige verbintenis tussen God en mens bestaan, dat God in die mens inwoon, diep in die diepste van sy of haar binneste, bly dit ‘n wederkerige verhouding waarin ek nooit aanspraak kan maak daarop dat ek so spesiaal is en in beheer van dinge is nie. Die mens bly mens en God bly God. Die een word nie die ander een nie. Maar die mens word soos God. Wanneer die mens in ‘n liefdesverhouding met God verenig word, gee die mens hom- of haarself aan God net soos wat God in die verhouding God aan die mens gee en oorgee.

Jy besit my!, roep God uit. Ek is joune, sê die Here. Ek is in jou hart en nog dieper as dit, belowe die Ewige skepper. Maar ek besit jou nie! Jy moet bly wat jy is, jy moet altyd weer roep na my. Jy moet steeds weer ‘n appel maak op my, roep na my, verlang na my, smag na my. Ek wil jou nie ‘n ding maak wat ek beheer of wat van die toneel verdwyn nie. Wees wat jy is, maar wees dit vir my. Jy is die kroon van alles wat ek gemaak het. Jy is my trots. As ek na jou kom, moenie skuil nie, want ek wil by jou wees en in die tuin van vrede met jou wandel.

En die mens reageer – om te antwoord op God deur vir God te sê hy of sy wil soos God wees: “Hier is ek, ek is uwe.” En die mens smeek die Geliefde, “bly by my, ook as die skadu’s daal.” Sy of hy sê: Ek wil aan U behoort, met alles wat in my is wil ek dat U in my woon.” “Ek kan nie een dag van my lewe voorstel dat ek nie by U bly nie, dat ek nie by U skuil nie.” En nog meer: U besit my, U moet volledig in my lewe bly. Alles wat ek is, wil ek vir U wees.” Maar ek weet ook ek besit U nie! Ek kan nie vir U rondskuif soos ‘n meubelstuk in my huis nie. Ek vra U, bly soek na my, bly verlang na my, smag na my. U wat God is, vir wie ek in liefde opsoek, wees asseblief God vir my. En gee dat ek altyd sal kan onderskei wat U van my vra, hoe U na my verlang, wat U wil vir my is. Laat my in u paradys woon.

Dit is wederkerigheid. Om weer en weer na mekaar gekeer te wees. Om steeds en altyd op mekaar gerig te wees. Albei smagtend na mekaar, maar steeds weer in liefde bewus daarvan dat die ander een die unieke een is, die totaal Andere, voor wie ek in verwondering moet bly staan – dat ek ‘n verhouding kan beleef! Dit is 'n lewenshouding wat 'n mens moet aanleer - totale eerbied vir lewe, vir ander.

Monday, May 25, 2009

Eko-mistiek




n Brugge staan daar ‘n pragtige stel standbeelde, waarvan een ‘n onderskrif deur die beroemde Vlaamse digter Guido Gezelle het (hy is in die stad gebore en was pastor daar. 1830-1899; Lees sy beroemde gedig: "Dien avond en die rooze".)


Ek het hierdie foto in 2006 geneem en dink dikwels terug aan die boeiende, ryk stel beelde op die plein in hierdie wonderskone stad. (Wys my ‘n land se kunswerke...)


Die onderskrif lui:

Het Akkerland
O aarde, gij moeder van al dat er leeft



Onderaan is nog ‘n onderskrif:
De aarde omgelegd aan stuk gereden
En opgereten – op het scherp der snede
(Anton van Wilderode.)


(Die Beeldhouers is Stefaan en Livia Depuydt-Canestraro)

Die mistiek van ons tyd het ‘n sterk estetiese karakter, maar is veral eko-bewus. Ons leef immers in die ruimte wat God vir ons as tuiste gee en wat ons so tot niet maak. Dit is iets wat die laaste tyd in my gedagtes is en waaroor ek meer wil dink.

Die liefdeswaarheid leef

Ek lees vanoggend http://goedgelovig.wordpress.com/2009/05/03/live-vanuit-zwolle-durf-te-dopen/ maar ook www.zoekendgeloven.nl en http://boelepytsma.blogspot.com/. Die eerste bevat skerp satiriese kommentaar op ‘n reuse saamtrek van 6000 mense in Nederland wat lewend uitgesend is en waarin ‘n kenmerkende pinkster-diens uitgebeeld is. Die tweede is ‘n interessante webwerf van ‘n Nederlandse predikant, Boele P Ytsma wat pas ‘n nuwe boek oor geloofstwyfel uitbring (http://www.trouw.nl/religie-filosofie/nieuws/article2767866.ece/Plots_viel_Ytsma_rsquo_s_geloof_in_duigen_.html?all=true). Ek lees die artikel met nuuskierigheid, want hy kom uit ‘n ortodokse, konserwatiewe agtergrond waar geloofsekerheid hoog aangeslaan is – dit is, m.i., ‘n skans teen enige houvas wat kritiese vrae op jou kan kry. Dit is hoogs interessant om sy unieke geloofsreis van sekerheid na die liefde en omgee mee te maak.

Ek volg sy webwerf wat in die berig genoem word op. Hy skryf o.a. in ‘n weblog van die trane wat sy jong seun stort omdat hy nie sy pa se gesprek met sy twee ouer susters kan verstaan nie: die gesprek gaan oor verskille tussen kerke. Die pa sukkel om alles uit te lê wat al die jare as geloofsbagasie op die Nederlandse kerklike instellings afgelaai is.

Een kommentaar op hierdie inskrywing van die dominee oor sy gesprek met sy kinders en sy seun se frustrasie lui: “Is die trane van jou seun nie die trane van Jesus nie?” Wat my nogal meer laat dink.

Die berigte val my op oor die verkettering van Christene onderling wat Ytma veral in konserwatiewe kringe binne die Nederlandse kerklike opset ervaar. As iemand durf waag om te sê dat hy of sy twyfel, is die duiwel by wyse van spreke behoorlik los. Jy moet seker weet wat jy glo.

Wat my laat dink het aan beide Paulus en Petrus wat so seker was van hulle geloof dat hulle die Christene doodgemaak het en heidene uitgesluit het van God se genade. En wat my laat dink aan Luther wat op en af van die trappe geklouter het omdat hy so seker was dit was hoe ‘n mens jou saligheid vind. Totdat God sag, rakelings, maar in helder lig die nuwe wete (l.w.) in jou hart kom lê. Nie deur geweld nie, maar deur genade, Paulus. Nie deur die swaard nie, maar deur ‘n bevrydende woord. Nie deur uitsluiting nie, Petrus (onthou jy dan nie dat die Jesus wat ons so verromantiseer met die korrupte tollenaars en die slegte hoere by ‘n tafel aangesit het nie? – Lukas 15:1), maar deur uitreiking en omhelsing, veral van die een wat jy so maklik opsyskuif. Nie deur God se hand te probeer speel nie, Maarten.

Jesus het nie vir Paulus ‘n nuwe geloofsdokument in die hand gestop nie, maar vir hom uitgestuur om gebrokenheid te heel. En Petrus, toe hy weer allerhande ou waarhede van die besnydenis op mense wou afdwing, moes leer dat God mense sonder besnydenis ook lief het.

Wat my uitbring by die ander saak wat my uit my leeswerk vanoggend opval uit die kaaskoppe se geworstel (met dieselfde dinge wat ook oor ons pad kom hier in Afrika – globalisering!). Die Bybel vertel ons eintlik min oor God. Daar is nie regtig lysies van wat ‘n mens alles nou moet glo nie. Daarom lees die Anglikane dit so anders as die Katolieke en die Doppers. Maar dit is ‘n boek wat gelaai is met ervaring van mense wat radikaal anders geword het toe hulle deur God aangeraak is. Dis ‘n boek wat vonk met goddelike krag en ‘n brand van ‘n nuwe lewensstyl aansteek.

En telkens weer begin God nuut met mense as hulle hul geloofslewe verruil vir geloofsdispute: In Jesus verdwyn die tempel wat so belangrik was vir gelowiges uit die vroeëre bedeling. Die besnydenis loop dieselfde pad. Die offers. En die liefde kom helderder na vore: wat saak maak is nie of God in ‘n gebou is nie, maar of God in jou bestaan vir jou transformeer tot iemand wat ‘n verskil ervaar in jou eie lewe en ‘n verskil maak in ander se lewens. En nog meer en nog meer.

Ons het soveel “waarhede” – dis net nie waar nie. Maar het ons ‘n ware lewe? En dryf ons waarhede nie Iemand tot trane nie? Leef ons in gehoorsaamheid aan die Gees – ‘n spirituele lewe, ‘n lewe na die Gees, of stel ons inventarisse op oor wat ons dink van God terwyl die wêreld rondom ons ‘n puinhoop is? Uiteindelik is die grootste waarheid nie al ons feite nie, maar die liefde. Egte, transformatiewe liefde wat ‘n verskil maak en nie sentimentele gekweel of serebrale skynheiligheid is nie.

Sunday, May 24, 2009

Mistiek en geluk: oor die lewe as energie




‘n Mens kan grensloos gelukkig wees. Mens kyk byvoorbeeld al bloot net foto’s en verwonder jou aan ‘n blom of ‘n berg of ‘n tuin of ‘n vloeiende rivier, ‘n mak apie, ‘n vet gorilla, ‘n springende bok, ‘n kleutergesiggie, ‘n geliefde, ‘n vakansie. En jy word ingetrek in daardie prentjie, weggevoer in wêrelde van heerlike gedagtes, gevoelens en ervaring – sonder dat jy dit sit en bedink of bewerk. Dit gebeur. Dit is mooi. En dit maak ‘n mens gelukkig.

Moenie gaan staan en vra waarom dit ‘n mens gelukkig maak nie. Dit gebeur sommer maar net.

En tog, as ‘n mens daaroor gaan nadink, kan ‘n mens sê jy is gelukkig omdat jy iets moois sien. En in die mooiheid van selfs die vet ou oerang-oetang, vind jy vreugde. Want iewers roer iets in jou. Jy kan dit lewe noem. Dit is nie “ek” wat ‘n iets staan en bekyk en ontleed nie. Ek sien en ek voel iets diepers in my roer, iets wat my vertel van lewe, lewe en lewe. Ek word aangeraak en op sleeptou geneem en ek voel vreugde.

Ek sien ‘n bok wat sierlik en pootjie opgetrek deur die lug klief – maklik, asof dit vir my wil sê die lewe kan lig wees. Jy kan ook so hoog reik. Jy kan ook hoogtes bereik. Of: kyk hoe onmoontlik: ‘n diertjie, ‘n fragiele bokkie, deur God gemaak om te sweef. Hoe ondenkbaar dat die lewe so vol krag kan wees. Of die kleutergesiggie, haas-tand, een handjie om die roomys geklem, stralend van vreugde oor wat lekker is. Of slapend, moeg na die oggend se gespeel in die see, om uit te rus, op te vang vir die volgende uitbundige rondhardloop in die son. ‘n Mensie wat grensloos, uitbundig haarself aan die lewe oorgee en argeloos en liefdevol vertrouend lewe. Die ewige siklus van die lewe. Dieper, agter alles wat ons sien, hierdie wonderlike, boeiende energie wat so skeppend, kreatief, nuut, helder, warm, liefdevol kan wees.

Mooi kan ‘n mens, ook, dit is waar, op die sterfbed sien. Trane van berustende afskeid. Of by ‘n hospitaal, wanneer ‘n dienswerker liefdevol ‘n kussing regtrek, ‘n bietjie water gee, ‘n nag-groet voor die ligte afgeskakel word. Of in die klaskamer. ‘n Aanmoediging, ‘n verdraagsaamheid. Of by die sportveld: applous vir die teenstanders.

Die mistiek wil ‘n mens bevry van alles wat jou van energieke geluk ontneem, wat jou geluk afsny en vir jou mistroostig maak. Dit wil ‘n mens uiteindelik boeiend laat staan voor God wat in totale skoonheid elke dag maar weer oor jou pad kom en jou wil aanraak, suiwer, vul, vorm, bewoon en in liefde wil laat bly. In die mistieke ervaring, waarvoor jy oop is, wat jy afwag, waarna jy verlang, kom die Gees van Krag, heilig, oorweldigend, verwonderend en laat iets in jou gebeur wat jou hart oopsluit vir die lewe, skoonheid en vervulling

Sonder die mistieke, goddelike aanraking is ons lewe misrabel. In die mistieke ervaring vind ons volmaakte vreugde.


Saturday, May 23, 2009

Die groot dood



In Kampen waar ek studeer het, langs die Ijssel-rivier, is hierdie gedenkteken aan Shoa-slagoofers aangebring. "Die groot dood" in Hitler se konsentrasie-kampe gooi steeds sy lang skaduwee van verdriet en woede oor Europa. Nederland kan niemand verstaan sonder om stil te staan by so 'n gedenkteken nie. Vandaar ook die heftige kritiek op die pous se onlangse toenadering tot 'n afgeskeide kerkleier wat die shoa ontken. As jy dit ontken, verloor jy jou menslikheid. Die tweede wereldoorlog is die Kainsmerk op die gelaat van Europa en die hele aarde.

Die name op die gedenksteen van elkeen, maar ook hul ouderdomme (die kinders,die ouer mense!), vertel die verhaal vir die leser wat hom of haar kan inleef: die gevreesde laaste klop op jou huis se voordeur, die onverbiddelike wegvoer trap af, ruwe stamp in die trok, uiteindelik die dood-in-angs. Mense wat afgemaai word deur soldate in die naam van 'n fatsoenlike politieke sisteem toegejuig deur miljoene mense. Ek het ongelooflike foto's uit die pragtig herstelde sinagoge in Budapest van wegvoerings van Jode wat byna ondraaglik is om te bekyk, maar wat uitroep oor innerlike lyding en oor die sataniese vernietiging van kosbare lewe.

Ek lees nou (eers) "Flaubert's Parrot" postmodern-slim en boeiend interessant geskryf deur Julian Barnes. Op bladsy 154 skryf hy, "The greatest patriotism is to tell your country when it is behaving dishonourably, foolishly, viciously."

Ek onthou toe die inligtingskandaal in die regeringsparty ontplof het en dit uitgekom het dat die N.G.Kerk ook daarby betrokke was (gedink korrupsie is 'n nuwe ding en net in die politiek? Vra maar, daar is nog baie meer om te vertel uit daardie jare). Ek skryf, toe nog dosent by Bybelkunde op Stellenbosch, op versoek, vir die plaaslike studente C.S.V. blaadjie 'n artikel min of meer met die strekking dat die kerk nie 'n handlanger van partypolitieke ondergrondse gekonkel kan wees nie. Die blaadjie was skaars uit, toe kry ek 'n oggend vroeg 'n woedende oproep van die studente-predikant, oom Ockie. Hoe durf ek die kerk "skop" terwyl hy op die grond is?

Dit was die soort atmosfeer onder ons in daardie jare. Kan jy jou indink hoe sulke kritiek deur die status quo onder mekaar bespreek en verwerk is? Dit was jare waarin die Afrikaanse gemeenskap en veral die kerk kritiek as verraad uitgemaak het, soos toe ons die Ope Brief van destyds gepubliseer het en dit tot massa-histerie aanleiding gegee het. Dit was amper erger om binne jou gemeenskap iets krities te laat val as wat dit vir ons was om te luister na kritiek van ander gemeenskappe. Onthou vir Beyers Naude?

Des te meer begryp ek die massa-histerie wat Europa tot die Jode-slagting, die Shoa, gedryf het. Want ook in Nederland was daar baie, baie medewerkers van die Nazi's. Dit was eers na die oorlog dat die Verset-beweging wat baie Jode gered het, hulle helde status gekry het. Vandag, soos hier by ons ook maar, is daar skynbaar in Nederland nie juis veel mense oor wat ooit die shoa ondersteun het nie. Ons apartheidsondersteuners het ook skynbaar dramaties in getalle afgeneem soos die jare aanstap.

Die kwaad sit vlak in ons. Ons moet meer sulke gedenktekens soos hierdie een oprig. Om ons gedurig te herinner dat ons onsself "in die gate moet hou" soos die Hollanders dit skryf. Ons kan doen met baie sulke gedenktekens in ons eie land. Hoef nie groot te wees nie. Alleen maar sodat ons elke dag weer na binne kan kyk en kan vra hoeveel moorddadigheid in ons skuil. Jesus het immers al daaroor gepraat toe hy vertel het hoedat ons enkele blik, ons simpel woord al kan moord pleeg en doodmaak.

As ons maar net leer hoe kosbaar die lewe is - ook van ons teenstanders. As ons maar soos God kan kyk na alle mense en oor goed en kwaad God se reen uitgiet.

Friday, May 22, 2009

Skilpad op sy kop: pure genade


Ons het stilgehou om hierdie skilpad te help. Hy het op sy rug beland - die ergste moontlike posisie vir 'n skilpad. Met sulke kort voete. En so 'n punt rug. En aasvoels wat nie kan wag nie. Boonop het die motors teen hoge spoed roekeloos verby skilpad gejaag.

Ons harte het 'n punt getrek.

Wat my laat dink het aan God se genade. Ons is ook maar dikwels so totaal hopeloos op ons rug, uitgelewer aan die elemente.

En dan kom God....

Die mistieke ervaring: wederkerigheid

Ons het dikwels 'n vroom onderdanigheid aan God. Ons godsdienstige taal wys ook hierdie onderdanigheid, by tye selfs 'n kruiperigheid.

Maar egte godsdiens bevry 'n mens van 'n afkraak-mentaliteit, van 'n oorvroom houding waarin ons onsself afbreek asof ons altyd slawe van 'n groot God is. Iewers, wanneer 'n mens in diepe verlange deur God aangeraak word en vrygemaak is van al die slegte wat 'n vervullende verhouding met God in die pad staan, kom daar 'n ander, liefdevolle, oop, selfs uitbundige instelling in jou godsdiens na vore. God wil mos immers vir ons laat weet ons is waardig! Die verlore seun het nie dienskneg geword, soos hy beplan het nie. Hy het vrolik in die klere en skoene van sy pa langs die vetgemaakte kalf gaan fees vier. Aanmekaar en in grenslose liefde in die helder lig van die vreugdevolle vereniging met sy pa gebaai. Hulle liefde was volmaak. En hy het keer op keer sy pa gaan omhels en vir hom bedank vir sy liefde, vir die baie soene waarmee sy pa hom huis toe verwelkom het en vir die fees wat sy pa hom aangebied het. Hy het teruggekeer huis toe. Daar was wederkerigheid. Hulle was nou weer bymekaar in 'n intieme liefdesverhouding.

Wanneer ‘n mens God lief het, word ‘n mens soos God. Jesus het al gevra: wees barmhartig en ontfermend soos julle Vader in die hemel. Ons leef daarmee God se beeld uit. Die mens lyk soos God en God is in die mens – in ‘n eenheid.

God kom tot die mens in die mistieke ervaring en gee God aan die mens as ‘n liefdesvennoot. Net so gee die mens hom of haar oor aan God. En in hulle wedersydse liefde word hulle omvorm in liefde.

Hierdie wederkerigheid is ‘n sleutelgedagte in die mistiek. In Bybelse tekste word die verhouding van wederkerigheid dikwels in terme van die beeld van huweliksmaats gegee. En selfs dan in die romantiese taal van die huwelik. God is die bruidegom, die mens is die bruid. Hulle leef in ‘n verhouding van wederkerigheid. Hierdie verhouding word dus op die mees intieme manier uitgebeeld. Net soos ‘n bruid en ‘n bruidegom in die liefdesnag bymekaar uitkom en by mekaar is in die volmaakte liefde van wederkerigheid, net so is God en die mens wedersyds aan mekaar gebind. Hulle word volledig een, intiem aan mekaar verbind.

Die wonder is dat die mens nog mens bly. God bly nog God. Die mens word nie God nie. In spiritualiteit is die verhouding tussen God en mens die hart van alle ervaring: dit is wat spiritualiteit is. En mistiek as ‘n fokus in spiritualiteit sê dat hierdie verhouding in ‘n wederkerige eenwording uitmond. Dit is ‘n besonder verhouding waarin die twee, God en mens, mekaar bewonder, geniet, besit, in volledige wederkerigheid.

Dit moet ‘n mens bedink: dat ‘n mens deel het aan God. Dat God in goddelike liefde in my kom woon, my deurstraal met die goddelike liefdesteenwoordigheid. Soveel so dat die een wat van buite kyk, God in my raaksien. En nog meer: my in God raaksien!

Die goddelike en die menslike wat in ‘n spel van ewigdurende meelewing mekaar verryk. Ek gee my vir God. En God aan my. Nie een sonder die ander nie. Albei is daar en is daar vir mekaar. Verbysterend. Feesvierend, 'n bruid, 'n seun wat tuis gekom het. Ons is nie slawe van God nie. Ons is God se bruid. Ons verhouding met God is nie onderdanigheid nie. Dit is 'n wederkerig verhouding, gelaai met wedersydse respek, agting en liefde.

Thursday, May 21, 2009

Niks!


Elizabeth en die kinders stuur vir my die kaartjie vir my verjaardag.

Dit is baie diepsinnig. Dit lees: THE DALAI LAMA'S BIRTHDAY PARTY.

En die blye Dalai Lama roep uit: Wow, Nothing! Just what I always wanted.



Maar natuurlik 'n diepe toets vir die kultuur van verjaardag vier waaraan ons gewoond is: presente!

Maar baie na my sin.

God woon in my

Die dinge wat ‘n mens oor die mistieke ervaring sê klink alles eenvoudig: ‘n mens ervaar die vereniging met God. Jy weet jy kan met al jou kennis hierdie vereniging nie peil nie. God is die totaal Onkenbare in wie se teenwoordigheid ‘n mens nie moet maak of dink dat jy God kan vasgryp deur jou kennis nie. Waar God jou aanraak werk allerhande slim grepe nie vir jou om houvas te kry op wat besig is om met jou te gebeur nie. ‘n Mens word deur God aangeraak en is verenig met God in ‘n ruimte verby alle woorde, lig, verstaan.

Dit is hier waar ‘n mens dan vir God aanskou, geroer deur die liefde wat so duidelik naby aan jou gekom het. Jy is naby aan ‘n warm gloed van liefde wat jou van oral omstraal. Jy weet dit, al verstaan jy dit nie volledig nie. Jy aanskou God.

Op die manier kom vereniging en aanskouing bymekaar uit.

Maar ‘n mens kan nog iets verders byvoeg. God word nie net met die mens in ‘n eenheid verbind en werk nie net liefdevol met die mens nie. God dring deur tot in die diepste kern van ‘n mens se bestaan. God dring in waar niemand ooit bykom nie. God kom woon in die diepste moontlike skuilhoeke van die menslike bestaan. Die beroemde beeld is van vuur wat aan ‘n stuk hout begin brand.

God woon nou in my soos ‘n vuur in ‘n hout indring dat die hout naderhand volledig in elke greintjie vuur word. God woon in my diepste innerlike as die grond van my bestaan. Alles wat ek is, word nou ‘n uitvloeisel van God wat in my bly. Waar God woon, straal ‘n enorme krag uit in die lewe van die mens. God woon in die mense se diepste ruimtes en dit werk uit in al die ruimtes wat ek binnegaan en beleef.

God woon in my, in plekke waar ek nie gedink het dit is moontlik nie. My hart is nog ontstuimig in my, dan bring God my tot bedaring omdat God dieper in my is as my onstuimige hart. My tong wil in kwaad praat losbrand, dan stuit die liefde in my innerlikste hart my en bring my tot swye. Want God woon dieper in my as die kwaad wat my wil vasvang. My oë wil brand in woede, dan blus die koel waters van die goddelike stilte in my die vuur.

Elke dag weer voel ek hoedat God wat in my woon, dieper as wat ek ooit kan droom, telkens weer vir my tekens gee van daardie innerlike liefde. Om gehoorsaam te wees aan die liefdesroeringe van die inwonende God in my!

Ons kan baie praat oor hoe God ons aanraak in die mistieke ervaring. Om te dink dat God hierdie aanraking opvolg deur met ons een te word. En, meer nog, deur by ons te kom inwoon.

God se inwoning. Ons het 'n Huismaat wat ons intiemste lewe met ons deel. Van dag tot dag.

Wednesday, May 20, 2009

Cussons en die mistiek

Sheila Cussons: Die sagte sprong

Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: ‘n aanraking van die verstand
lig soos ‘n veer, vlugtig maar presies
en jy dink as sy ligtheid so is, so potent
dat die aandag nog lank daarna
die indruk behou, hoe moet sy vasvat wees?
: Dit kom wanneer dit nie verwag
word nie: iets wat die bewussyn tot
in die lewe tref, iets soos ‘n sagte sprong –
vreugde, verbasing, vreugde, herkenning:
hoe moet u vasvat wees?


Die aanraking is onverwags – dit word ontvang, skielik. En dit is daar vir ‘n oomblik, dis lig.

Maar jy word bewus daarvan – dit tref jou bewussyn to in die lewe.

En dit transformeer: vreugde, verbasing, maar ook herkenning! Jy weet wie het jou aangeraak. Dit werk nog lank daarna voort. Die indruk van die ligte raak, bly behoue – dit draal in jou.

En dan die dieper begeerte soos die geestelike reis voorduur: as iets so lig, so potent, so lewensvernuwend is, soveel ekstatiese ervaring losmaak, so naby aan God bring, hoe gaan die uiteindelik omhelsing nie wees nie! Die verlange na meer is daar. En tog ook die verwondering - die ontsaglikheid van hierdie aanraking.

En tog. Jy kan dit maar net afwag. Ontvang. Jy is passief. En jy kan maar net uitsien daarna dat God weer onmiddellik, direk die senuwee saggies laat spring.

Tuesday, May 19, 2009

Die mistieke ervaring: Aanskouing

Vooraf:

Ons is altyd so gereed om te vertel wie God is. Ons het allerhande netjiese teorieë en belydenisse waarin ons vir mense inlig oor hoe hulle “reg” oor God moet dink en waarin ons “bely” wat die inhoud van ons geloof is. En dit is sekerlik goed so. Iewers is ons geloof nie blind en leeg nie, maar gevul met inhoude en insigte.

Maar wie van ons het ooit op daardie oomblik dat God by ons onverwags, genadiglik, oorrompelend besoek kom aflê, ‘n geloofsbelydenis of stuk teologie nader getrek om te kyk of dit nou alles in lyn is met wat ons altyd oor God geleer het?

Wanneer Paulus op die Damaskus pad voor Jesus te staan kom, val al sy taal en wete weg. Hy, Fariseër, lid van die strengste groep (Hand.26:5), trotse kenner van die weg en regter oor die Christene wat met hul nuwe leer (Hand.9:2!) afgedwaal het, word met een geweldige ruk op die grond in blindheid neergegooi. Verstom roep hy uit: Wie is U, Here? (Handelinge 9:3). Hy weet hy is in ‘n goddelike teenwoordigheid, en tog weet hy dit nie. Hy praat met die “Here”, maar vra nietemin: “Wie is U?” Hy wat die Here so goed “geken” het, weet nou nie meer nie. Hy staan in die helder lig uit die hemel, maar is reeds blind. Dit is ‘n verblindende lig.

Paulus, een oomblik die rustige reisiger, seker van sy doelwit en begeesterd met sy sending om die afwykendes uit die weg te ruim. En al die tyd, terwyl hy op pad is, is hy ook op pad na die goddelike konfrontasie – al dink hy hy is netjies in beheer. En as God hom aanraak, is hy maar net nog verder aan die ontvangkant. Hy word beheer, ‘n nietige skepsel wat te gronde gaan. God oor wie hy so gewaak het, is die een wat hier handel om hom sy eintlike plek aan te wys. En hoe raak God nie aan nie! Paulus is passief, maar ook in die sin dat hy sy eerste passie ervaar – hy word pynlik met blindheid geslaan. God werk op Paulus in op ‘n direkte, ingrypende, skoonmaak-manier. Hy word geneem waar hy nie gedink het hy sal beland nie.

En hy beland in totale duisternis. Skille is oor sy oë. Sy geloofsreis begin in die woestyn van alleenheid. Hoe aangrypend word dit nie in die agtergrond van Handelinge 9 vertel nie. Ananias word geroep om vir Paulus te gaan vertel hy is uitgekies as werktuig na die nasies. Paulus moet maar wag totdat God genadiglik die reis verder met hom loop: Ananias hoor in Handeling 9:11 dat Paulus in Reguitstraat is en “besig is om te bid.” Ananias, beveel die Here hom dan, moet ook vir Paulus die hande oplê dat hy kan sien en dat hy met die Heilige Gees vervul kan word (Hand.9:12.17). Biddende verlange, vereniging met Christus, in die donkerte van jou blindheid na God uitreik, maar dan ook maar passief wag, lydende, op wat God nou met jou gaan doen.

Die aanskouing

Maar dit is nog ver nie die einde van die pad nie. Want die mistieke ervaring sluit ook die dimensie van aanskouing aan. Handelinge, die boek oor mense wat God se aanraking op Pinksterdag ervaar en die wêreld, soos Paulus, ingaan, is die boek van die Gees. Petrus haal op die Pinksterdag Psalm 16:8-11 aan. Dit is ‘n Psalm oor God wat lewe gee en mense uit die doderyk ruk. Petrus sluit die stuk af (Hand.2:25-28) met die woorde: “U het my die paaie van die lewe geleer; u teenwoordigheid sal my met vreugde vul” (!) God is in Jesus teenwoordig. En hierdie teenwoordigheid vul ‘n mens met blydskap, met ‘n vreugdeswete. God, die sterke (Hand.2:25) maak my onwankelbaar, bly sodat ek met hart en mond in vreugde uitroep.Wanneer die Pinkstergees oor ‘n mens kom, bring hierdie Gees jou in die “teenwoordigheid” van God wat jy dan as ‘n innerlike ervaring, as jou eie, beleef. ‘n Mens skou God se teenwoordigheid en die seker wete dat ‘n mens by God is, laat jou bly uitroep.

‘n Mens word dan as te ware deur die Gees, deur die verrukking in God ingetrek. En om in God ingetrek te word in ‘n intieme eenheid (die Gees wat “in jou kom woon”), neem jou verby alle woorde en verby alle kennis. Iets verrukliks gebeur met jou wat jy op geen manier kan peil nie, maar wat jy eenvoudig helder weet is daar – jy aanskou God. Jy is in die teenwoordigheid van die Onverwoordbare. Jy is verenig met God, totaal in God opgeneem. Jy word met die Heilige Gees vervul (Hand.9:18). Die donker tye van verlange, van nietiging, van passie word uiteindelik omvorm in ‘n tyd van bewussyn, van weet, van aanskouing.

En om so naby, so intiem verbonde en een met God te wees dat dit anderkant alle netjiese insigte en beskrywing om gebeur, beteken nie dat dit by ons verbygaan, dat ons “meganies” nou niks is en God soos in ‘n “trance” die menslike bewussyn uitskakel nie. God manipuleer my nie sodat ek soos ‘n marionet in God se hande ronddans volgens God se instruksies nie. Mistiek verskil van om in ‘n trance te wees en van niks bewus te wees nie.

‘n Mens bly bewus dus – maar veral dat wat jy hier aanskou die werk van die Gees is. Al die tyd as ‘n mens deur God ingetrek word in ‘n eenheid van liefde, wéét jy: hier werk die Gees met my en gee my die seker wete dat God my aktief lief het. Ek aanskou goddelike liefde. Dis geen serebrale “ken” van God nie, want wie kan God ken? Ek ervaar die liefde wat my oorweldig en vir my laat besef ek is hier in die teenwoordigheid van iets onbeskryfliks – ek “aanskou” die Onsienlike. Ek “sien” die Onsigbare.

God neem my in as liefdesmaat en ek kan God as liefdesmaat “ontmoet.” Ek lys nie allerhande feite oor wie God is nie as ‘n ywerige student wat moet presteer nie. Ek weet helder en duidelik ek is deur God opgesoek en deur God nadergetrek in ‘n liefdesomhelsing. Ek is nou by die Vader wat my omhels. En ek kyk op in die Vader se gesig: Ek sien, ervaar sy liefdesgelaat. Ek weet, ek weet, helder en klaar, ek is by die Een wat my liefhet.

Ek-stase: "Ek raak los in my"....

Sheila Cussons

“Corpus Christi”

1
Eensaam vol poësie hoor ek die wind
in die hoë wilde populiere wat donker tuimel
teen ’n helder naglug, en druppels
skuins reën sketter teen die ruite
en ek raak los in my soos die geurende grond los
en vol wit wuiwende lelies
en als is blink en donker en rusteloos en soet.

11
Wat ruis in die donker flikkerende bome
in die wind, en glans in die driftige vlae
van die reën, roer in die wortel, stoot
in die sap? — besige Christus, Jy.
Hoe kon ek jou ooit misgekyk het
die sin van dié stuwing gemis het
en so afwesig gestaar het na my?


In die bewuswording van die aanraking (van buite/bo) ontdek 'n mens jou eie teenwoordigheid. En "eensaam" word vereniging. Blink en donker. Rusteloos en soet - die mistieke antifrase. Beautiful.

Monday, May 18, 2009

Van Wyk Louw, Breyten en die mistiek

Eers twee gedigte:

N.P. van Wyk Louw: Ignatius bid vir sy orde
Dat pyn bestaan, is nodig, Heer,
sodat U aarde vol kan vloei
van rykheid, en die soet geduld
óók aan U vreemde boom kan bloei.
Maar gee vir óns die lot van smart
tot aan die einde van U dae;
laat daar aan ons gepynig word,
maar ons nooit pyn maak nie of klae.

Breyten Breytenbach: breyten bid vir homself
Dat Pyn bestaan is onnodig Heer
Ons kan goed genoeg Daarsonder leef
’n Blom het nie tande nie
Dood is wel die enigste vervulling
Maar laat ons vleis nuut soos vars kool bly
Maak ons vastig soos ’n vis se pienk lyf
Laat ons mekaar bekoor met oë diep skoelappers
Begenadig ons monde ons derms ons harsings
Laat ons gereeld die soet aandlug smaak
In lou seë swem, met die son mag slaap
Rustig op fietse ry die blink Sondae
En geleidelik sal ons wegvrot soos ou skepe of bome
Maar hou Pyn vér van My o Heer
Sodat ander dit mag dra
In hegtenis geneem sal word, Verbrysel
Gestenig
Gehang
Gegésel
Gebruik
Gefolter
Gekruisig
Ondervra
Onder huisarres geplaas
Die kromme note mag haal
Tot dowwe eilande verban tot die einde van hul dae
Wegkwyn in klam gate tot groen slymerige smekende bene
Hul koppe vol spykers, maaiers in die mae
Maar nie Ek nie
Maar ons nooit Pyn gee of klae


Louise Viljoen in haar N.Pvan Wyk Gedenklesing (2007; sien by http://www.uj.ac.za/NPvanWykLouwlesings/Vorigelesings/Archives/20002007/2007/tabid/13936/Default.aspx ) wys hoedat Breyten Breytenbach in gesprek tree met N.P. van Wyk Louw. Ek is geboei deur die diepte van die gesprek.

Die persoon in Van Wyk Louw se titel, die Spaanse mistikus, een van die grotes onder die grotes, Ignatius Lojola (1491-1556), is in ‘n oorlog met die Franse beseer (1521) en het tydens sy herstel boeke oor die lewe van die heiliges gelees en ‘n mistieke transformasie ondergaan. Hy begin daarna ‘n lewe van uiterste soberheid (leef bv. in 1522 vir ‘n jaar in ‘n grot). Hy is ‘n stigterslid van die invloedryke Jesuïete, ‘n orde wat veral in onderwys betrokke is.

Sy bekendste werk is die Geestelike Oefeninge (sien elders in die blog). Vir hom is pyn ‘n onvermydelike deel van ons bestaan (ons raak siek, mense sterf) waarvoor ons goddelike genade moet ontvang om dit met meelewing te verduur en te dra. Hierdie “omhelsing’ van pyn is iets wat ons dan inderdaad geskenk kry as ons in ‘n intieme verhouding met Christus leef. God gee aan ons genade om op pyn te reageer met meelewing (compassion as passie – lyding – saam met ander). Van Wyk Louw neem in sy gedig aan Ignatius wat vir sy orde bid, hierdie tema op. (In sy tyd met die Rooms gevaar....)!

Viljoen reken Breyten se gedig is ‘n politieke kritiek op Van Wyk Louw se onbetrokke “abstrakte, nie-spesifieke voorstelling van pyn”en dat Breyten met sy reaksie daarop vra dat Afrikaanse digters moet wys dat hulle hul daadwerklik verset teen die pyn wat in die politieke konteks van die sestigerjare aan ander aangedoen word. Daar is te veel mooi praatjies en te min betrokkenheid.

Terwyl ek haar lesing van breyten se gedig leersaam vind, dink ek dit is te min om te sê dat Van Wyk Louw bid dat sy orde gepynig moet word (sooos sy dit samevattend formuleer). Hy bid eerder vir “sy orde” dat hulle pyn as konstruktief kan ervaar – as nodig sodat “rykheid” die aarde “vol kan vloei” en “soet geduld” aan “U vreemde boom kan bloei.” Ignatius bid juis in die slotreël dat ander nooit pyn aangedoen sal word nie, sodat daar in die gedig ook afstand is van vernietigende pyn. Dit vra dus om ‘n geestelike volwassenheid om pyn om te keer sodat dit helend kan werk. En Van Wyk Louw gee aan Ignatius ‘n “aardse” instelling (dis nie ‘n vrome masochisme of geesdrywende ontvlugting nie) – anders as wat Breyten miskien raaklees.

Maar ek wou Van Wyk Louw hier aanhaal om te wys watter mistieke gedigte in Afrikaans beskikbaar is en hoe hulle impak dalk nie altyd helder bedink word nie. Pyn is ‘n deurlopende, sentrale tema in die mistiek. Dat Van Wyk Louw daaroor kon dig, sê veel. Breyten se aangrypende gedig (dit taal – “in lou seë swem... ! ) het vir my ook geraak – omdat dit die verskriklike pyn van ‘n politieke bedeling uitwys en wêreld uitlig wat verklaar waarom iemand ‘n gedig soos syne so fel kan skep. ‘n Mens mag nooit maklik oor pyn praat nie. Maar dit het die egte mistici ook nie gedoen nie.

Ek wonder nou: al is Breyten se gedig duidelik intertekstueel te lees met Van Wyk Louw s’n, is die afstande tussen die twee nie te groot om hulle saam te lees nie? Is die ooreenkomste nie net “formeel” (sien die eerste reël van elke gedig) nie? Kan Breyten se teks werklik resoneer met Van Wyk Louw s’n? Is dit ‘n billike greep op Van Wyk Louw se teks? En dan: hoe eties is dit dat ‘n mens by ‘n ander teks aansluit en by implikasie ‘n hoop dinges op daardie skrywer aflaai wat nie eintlik regtig billikheidshalwe kan nie? Die subteks (verset teen Afrikaners wat nie hulle kleure wys nie, wat mooi dingetjies sê, liberaal is, Broederbonders was teenoor... teenoor... teenoor) wat hier ter sprake is moet nie ons oë sluit vir die manier waarop die oorspronklike teks van Van Wyk Louw die mistiek verwoord nie en vir die gesprek van eeue wat daarin op so ‘n verbysterende eenvoudige manier gevoer word nie. Ons moet verby die resepsiegeskiedenis van Van Wyk Louw se teks deur Breyten deurbreek en terug beweeg om te ontdek hoedat die ouer garde in bronne gaan put het wat vir hul tyd en konfessionele konteks radikaal was. (Miskien was hierdie diepere soeke een van die redes, byvoorbeeld, waarom van Wyk Louw en Verwoerd nie langs dieselfde vuur gesit het nie).

Maar uiteindelik is die heel belangrikste (vir my) die onmiskenbare meesterskap van beide digters wat so oorrompelend mooi in die twee gedigte na vore kom.

Van Wyk Louw, mistiek en 'n God wat verlang

Daar is ‘n interessante N.P. van Wyk Louw gedenklesing (met die veelseggende titel, “Onmiddellik voor God”) wat Willie Jonker in 1991 gehou het en wat ek met aandag gelees het omdat ek weer wil uitkom by Van Wyk Louw se mistieke gedigte. Lees dit by http://www.intowebdesign.co.za/raunpold/1991.html. Die lesing is ‘n wonderlike inleiding in Van Wyk Louw se verhouding met godsdiens. Willie, wat self ‘n Meestersgraad in Afrikaans gedoen het (onder Van Wyk Louw) en ‘n fyn aanvoeling vir die digkuns het, se ireniese gees en gesofistikeerde oordeel blyk uit hierdie gedenklesing.

Dit eindig met die volgende paragrawe. Ek haal dit aan om veral Willie se laaste vraag in konteks te plaas (in vetskrif gedruk):


Verlossing uit genade

In die Feesgedig het ons beslis Louw se helderste gedig oor Christus en sy verlossingswerk. Daarin sê hy dat Christus uit soewereine wil in 'n staat van armoede op aarde gebore wou word. Die terme kan slaan op die inkarnasie van die ewige Logos. Ook vind ons in hierdie gedig méér as elders verwysings na die reddingswerk van Christus as die Visarendjie van God en die Visser van mense. Die hoofaksent val daarop dat Christus Hom met die armes en ellendiges vereenselwig het, en dat nie die godsdienstige wetsonderhouers nie, maar die melaatses, besetenes en kleines - ja: sondaars van elke kleur en geur om Christus versamel is. Dit is uitgesproke evangeliese klanke. Ons het hier ongetwyfeld Louw se Christelikste gedig, wat beslis daarmee saamhang dat dit op versoek vir 'n Christelike gemeente gemaak is.

Maar selfs hier val dit op dat hy die genade nie sonder meer in sy vrye karakter laat geld nie. Van die harde manne wat Christus om Hom versamel het, word uitdruklik verklaar dat hulle manne "met 'n oop gemoed" was. Dit suggereer dat 'n bepaalde kwalifikasie mense ontvankliker maak vir die heil. Ook by Dostojewski vind ons dat dit die eenvoudiges, die pretensieloses, selfs die bewus sondiges is wat die heil ontvang, en dit word dan verklaar op grond van hulle deemoed of liefde (33). Die neiging om 'n rede vir die ontvangs van die genade deur sommige te vind, lê diep in die Oosterse en Katolieke sektore van die Christenheid verwortel. Nie verniet laat Louw die H. Teresa dit "uitflap" dat ons almal moet probeer, streef en bid, ja 'n leeftyd lank moet strewe om maar net die skaduwee van Gods genade oor ons te laat passeer nie. In Dood van die Heilige Biblis beklemtoon hy dat God nie met 'n vinger aan die vrye wil van die mens raak nie. En die pragtige gedig Dwarslêers bring die boodskap dat 'n mens disponibel moet wees vir die genade.

Louw het homself klaarblyklik nie tot die Protestantse spiritualiteit aangetrokke gevoel nie. Daar klink selfs 'n bepaalde geïrriteerdheid met die Calvinisme deur as hy sê dat Elise Muller in een van haar verhale "die sonde van eie-geregtigheid, die gevaar van vertrou op `goeie werke', met 'n Calvinistiese klein grimmigheid nagaan" (34). Die bronne wat as intertekste by hom gefunksioneer het, bring aan die lig hoe belese hy in die literatuur en geskiedenis van die Vroeë Christenheid was. Ook blyk sy belangstelling vir die Vroeg-Katolisisme en die Grieks-spirituele tradisie. Kennelik het hierdie soort vroomheid met sy affiniteit vir die kosmiese dimensies van die heil, sy mistieke karakter en sy rykdom aan simboliek hom bekoor. Maar dit is 'n tradisie waarin die leer van die verlossing uit genade nooit helder na vore gekom het nie.


Bevrydende sekerheid

W E G Louw deel in Naggesprek mee dat sy broer oorweeg het om homself terug te trek in die beskutting van 'n Katolieke retraite om daar rus te soek. Van Wyk Louw het wel nooit katoliek geword nie, maar dit is jammer dat hy homself nie intensiewer besig gehou het met die werk van teoloë wat die sentraliteit van Christus en die betekenis van die evangelie van genade op die voorgrond stel, soos bv Luther of Karl Barth nie. Hy verwys wel êrens na "die groot teoloog Karl Barth", maar ek kon geen spore by hom vind van die triomf van Gods genade in Christus wat die hart van Barth se teologie vorm nie. Dit kan verklaar waarom hy nie kon deurstoot tot die bevrydende sekerheid van die heil en die blydskap van die wete dat Christus eenmaal volkome vir ons sonde geboet het nie.

So skryf hy: "Dit is, meen ek, Dostojewski of Leo Schestof wat êrens gesê het dat elke mens mede-verantwoordelik is vir alle kwaad wat in die wêreld bestaan; dat alle sonde die sonde van die hele mensdom is; dat elkeen aan alles medepligtig is - al is dit dan alleen omdat hy nie as boetgesant teen die kwaad opgetree het totdat dit vernietig is, of hy dan daardeur vernietig is nie, en die versoening só wat homself betref, bereik is" (35). Ons merk hier die idee dat vergiffenis saamhang met die uit-boet van die kwaad.

Dié idee kom ook nog voor in die laaste woorde wat hy die aand voor sy dood geskryf het. In dié wonder-mooi stuk bely hy dat hy 'n hele dag deurgebring het sonder om aan God te dink. Daarop volg 'n aangrypende gebed om vergiffenis. Hy betuig sy innige liefde vir God en sê dat as hy in die nag sou sterf, hy homself net in die hande van Gods genade neerlê. Maar dan laat hy daarop volg: "As my sondes nog nie genoeg uitgeboet is nie - of as hulle nie reeds in u genade vergeef is nie - dan is daar alleen u vergiffenis waarop ek kan vertrou. En ek vertrou daarop. Dit is my troos elke dag: dat U, my God, wat die allerheiligste Geregtigheid is, Liefde is. U, my God, is Liefde."

Dit verskaf my groot vreugde dat hy die liefde van God op hierdie wyse vasgegryp het. Op grond van 'n spesifieke gesprek tussen ons weet ek dat hy volkome rus in die genade van God gevind het. Maar dit is tog jammer dat die Naam van Christus wat vir ons sonde geboet het, selfs nog in hierdie laaste gebed ontbreek. WEG Louw vertel in Naggesprek dat hy 'n kruisie in die hande van sy broer laat glip het toe hy by sy kis van hom afskeid geneem het. Dit was 'n sinryke daad. Ook die vrede wat Van Wyk Louw by die God van liefde gevind het, is immers gegrond in die kruis van Christus.

Dit laat my met 'n vraag eindig: Hoe kom dit tog dat ons as Gereformeerdes blykbaar nie in staat is om die blye evangelie van genade so deur te gee, dat spesifiek ook ons kunstenaar-lidmate daarin rus kan vind nie? Volgens Lina Spies het ook Elisabeth Eybers jare lank onder die idee gely dat die God van haar gereformeerde vader 'n harde en willekeurige despoot is (36). Daar moet êrens iets met ons verkondiging en pastoraat, en miskien ook met ons tipe spiritualiteit verkeerd wees.

Want uiteindelik kan die soektog van alle intellektueles en digters alleen tot 'n vrolike einde kom, as ook hulle onrustige harte rus vind in die vrye genade van God - deur Jesus Christus onse Heer.



Terwyl ek hierdie slotwoorde van Willie se gedenklesing lees, besin ek weer oor die verlies wat ons gely het toe die mistiek uit ons gesigseinder verdwyn het. Die mistiek wat vra na die eenwording met God berus fundamenteel op die insig dat God een wil word met die mens en dat die Godsverlange nie net van die mens se kant kom nie. Godsverlange is 'n objektiewe genitief: die is verlange na God. Maar dit kan en is veral ook 'n subjektiewe genitief: God verlang - na die mens. En 'n God wat verlang is 'n God met 'n ontblote hart, verwondbaar, oop, uitreikend, selfs smagtend (ek soek jou in die tuin: waar is julle?). Wat het ons tog met ons godsdiens aangevang?

Sunday, May 17, 2009

Opperman en die mistiek

Ek loop hierdie Opperman gedig uit 1947 raak! (Uit: Heilige Beeste)

Verruklik.


Vincent van Gogh

Jy het as ’n miskende
heilige vergeefs geveg teen die ellende
en die onreg in die krotte van die myn,
in agterbuurte en op landerye; slegs die pyn
en skriklike stryd van God
leer ken, wat mens en boom verknot
in Sy kramptrekke; maar eers toe jy die koringgerwe
in aanbidding van die son kon verwe,
boere, wasvrouens en gepynigde gesigte,
die kantelende landskap in die snelle ligte
geel en groen en blou – alles met koorsige gevlek
tot branding van die skone kon verwek,
toe is Sy hartstog eers in jou volbring
soos groen sipresse tot ’n vlam verwring.

Sheila Cussons en die mistiek.

Hier volg die gedig


Huis paleis …

Jesus, jy’s te laat, of te vroeg vir die media,

Jy’s nie op die kassie nie – waar ‘n ruigte antennes

die lug inreik uit elke onbevoorregte dak –

‘n regte kêrel, ‘n werkerleier, sonder ‘n burgerdas.

Jy’s hier? Jy Leef? Jy ly in ons? Sal jou sê wa’jy kan

doen met jou lyding. Óns verkies ‘n Mercedes.

Heil is dít: elke dik kapitalis in sy moer,

die wedrenne, steentjies en kreef, en aborsie gratis

en drinks all round tussen nou en bokveld toe.


Die slagspreuke op die mure

struikel oor stukkende spelling, en wanneer my huishulp,

opgeknap, om twintig oor vyf verkas in ‘n wolkie

duur parfuum, is dit ék wat haar wrokkige woede

voel – “my oom kan kak op die Kerk” – teen alles wat

haar belet om haar droom te vind in die Groot Doodloop.

Vanaand sal sy weer voor die skerm sit, mooi dinge sien

en smag, en nie weet nie want hóé kan sy weet

wat dit is wat haar hart met ‘n punt laat trek –

en weer kom die woorde: besige Christus, jý!

Onpartydige daarby, ek weet: my pap piëteit,

my lekkergelowigheid sal g’n niks sagter hanteer word

wanneer jy met ‘n laaste ruk ‘n vinnige einde maak

aan al ons pyn, en jou skoon vure, ontketen,

dreun om jou aarde … deernis is dít. Anders as

aalmoes-liefdadigheid en enigiets-net-vir-die-vrede-

Ruk dan, al skyt ek by die gedagte, want

nadat die as met ‘n sug gaan lê het en alke doodloop

as tot die einders is, sal jy kom in ‘n storm musiek –

o barshart hóór, onthou jy? – sal ons huis toe huil

in jóú Hart in, o voltooide Christus, en jý sal huil.


Hier is my vinnige lesing van die gedig (kyk die volle gedig heel onder):



Hier is my vinnige lesing van die gedig:

1. Druk dit op in...
Cussons skryf die gedig oor mense wat aan die massa-kultuur en –vermaak van ons tyd verslaaf is. Vir so iemand tel Jesus nie. Daar is ‘n kru reaksie oor enige iets diepers aan Jesus: “Jy’s hier? Jy leef? Jy ly in ons. Sal jou sê wa’ jy kan doen met jou lyding. Óns verkies ‘n Mercedes”.

Enige iets in die dampkring van hierdie mistieke Jesus is vir hulle goor. (Daarom sê die digteres se huiswerker ‘n entjie verder: “my oom kan kak op die Kerk”). Die werker onder die “onbevoorregte dak” assossieer die dieper dinge met bevoorregting. In die lig van sy eie, geslote bestaan tel blote uiterlike vermaak die meeste. Saligheid / “heil” is die volgende: “dik kapitalis in sy moer, die wedrenne, steentjies en kreef, en aborsie gratis en drinks all around tussen nou en bokveld toe.” Die Epikureïese, laat ons leef, môre sterf ons.

Hierdie ruwe eerste paneel oor die siniese afwysing van enige vorm van ‘n lewende Jesus wat leef en ly in ons (strofe vyf) word deur ‘n tweede paneel verder uitgewerk. Die paneel word met ‘n duidelike breuk, ‘n oop spasie in die teks ingelei. Die digter waarsku: hier kom ‘n wending. Die tweede paneel word ingelei met ‘n verwysing na slagspreuke wat struikel oor stukkende spelling (lekker s’e). Graffiti teen die mure wat die werkersopstand uitdruk? En verraai dat hulle nie eers behoorlik kan spel nie? En daarmee hul klein, ongeletterde wêreld met sy toe bestaan uitspel?

Die digter dig in die tweede paneel oor haar huishulp wat opgedos en besprinkel met duur parfuum na werk “verkas” terwyl sy die digter ‘n “wrokkige woede” laat voel “teen alles wat haar belet om haar droom te vind in die “Groot Doodloop”. Moenie my, jou huiswerker, belas met jou idees van kerk/Jesus/lyding nie. My drome lê elders. Sy is ook voor die kassie vasgenael waar sy “mooi dinge” sien en daarna smag

Sy is die vroulike weergawe van haar manlike ewknie: die brommer, die dobbelaar, die sekspes en drinkebroer van die horende dowes en die siende blindes.

Hier, in die massa-kultuur leef mense in ‘n doodloopstraat. Hulle het geen lewenshorison nie. Hulle bestaan is geslote. Hulle kyk vas teen ‘n kassie. Dit is, in haar woorde, “die Groot Doodloop.” Die kru taal van die gedeelte reflekteer die hardheid van hierdie lewe. In so ‘n geslote bestaan is ‘n mistieke Jesus ondenkbaar. Die beste wat ‘n mens van Jesus kan sê is dat hy ‘n regte kêrel is, ‘n werkerleier, sonder ‘n burgerdas. Maar moet tog nie met ‘n gely kom sukkel nie.

2. Die onherkende verlange wat hom op jou wreek
Deur die vroulike karakter van die huiswerkster ontwikkel die digteres die gedig verder. Sy wys op die innerlike behoefte wat daar onherkend skuil in die reisigers op die doodloopstraat. Die werkster, dig sy, gaan ook die aand voor die kassie sit en smag “en nie weet nie want hóé kan sy weet wat dit is wat haar hart met ‘n punt laat trek”. Iets in mense vra na die diepere dinge, hulle “sien en smag” na “mooi dinge”. Hulle verlang na die vervulling. Maar tog nie weet wat werklik mooi is nie.

Hoe vernietigend, ontdek ‘n mens hier, wanneer die verlange nie biddend is nie! ‘n Mens se diep verlange na die transendente wreek hom op jou as jy nie eers bewus is dat dit God is waarna jy smag nie. Waar die instelling op die diepere ontbreek, waar daar nie ‘n openheid is nie, word die mistieke ervaring by voorbaat afgesluit en word mense se lewens afgetakel. Hulle word woedend vir die goeie. (Petrus by sy verraad!).

3. Die ekstase
Ons hart word getrek, gee die digter die antwoord, deur die besige Christus. Maar hy is eintlik nie ‘n “antwoord” nie. Hy is die Een met wie ‘n mens in gesprek tree, vir wie ‘n mens oop is. Hy is die “besige Christus, jý!” Dit is nie ek wat oor Jesus praat nie (die subjek – objek verhouding nie). Dit is ‘n mistieke relasie, gevind in die liefdesverhouding waarin ek opgeneem word deur Iemand wat “besig” na my uitreik. Dit is ‘n verhouding van “deernis”. Ek ontvang ontferming. Ek staan buite myself, my Mercedes, my duur parfuum is vergete. Ek staan voor jou, bewus van wat jy nou aan my gaan doen.

4. Die oratiewe
Die laaste, derde paneel van die gedig is ook ‘n dialoog – die digteres bid uiteindelik (die oratiewe) tot hierdie besige Christus. Haar beskrywing van die onbevoorregtes se oppervlakkigheid en geslotenheid slaan oor in ‘n gebed vir Jesus wat hier is, wat leef, wat ly in ons (strofe vyf). Gesprek “oor” word gesprek “met.” Die versmorende geslotenheid van die afwysendes bring haar tot dialoog met die een wat werk, wat aan die gang bly, wat Hom nie laat stuit deur afwysing, verwerping en sinisme nie, maar wat tog vra vir ‘n oop-wees vir die diepere. Die “sien en smag” bring haar tot die versoek: “Ruk dan”, maak skoon, al is dit deur vuur heen.

Die kontras is skel: Teenoor hierdie gebed aan die“Jý” wat besig is om my huis toe te kom haal (twee laaste strofes) staan die Groot Doodloop en die druk-dit-op-in-mentaliteit wat dit oproep. Die pondok en varkhok wat in die titel van die gedig ontbreek maar wat eintlik daar oorheers (die oop ruimte...): want dit is die modderpoel waarin ons eintlik regtig leef daar waar ons voor ons kassies sit en in ons Mercedesse ry, waar ons gaan eindig by die bokveld as ons lot. Die een bid om in deernis gereinig te word (Maak deur ‘n laaste ruk ‘n einde aan al ons pyn....), die ander een wil vir Jesus sê wat om met sy lyding te doen. Druk dit op in / Stuff dit, Jesus.

5. Die nietiging
Ek, die vroom, meelewende leser, die bevoorregte een, wat goed kan spel en gedigte kan maak, wil op die punt al my kop knik, instemmend, oor wat ek lees. Die openingswoorde van die gedig het by my ingesak as die lewenswyse van hulle wat nie die mistiek ervaar en begryp nie (Jesus, jy’s te laat, of te vroeg vir die media, jy’s nie op die kassie nie): voor my doem bekende gesigte op wat ek soms as pastor op besoek raakgeloop het – die skaars bedekte grynslag oor wie jy is en wat jy verteenwoordig (“my oom kan....”). Ek het hulle ook raakgeloop onder die wat so vir die nuwe Here is (Cussons skryf gedigte oor die ywerige nuwe teoloë wat nie hou van “leviteer” nie en patertjies wat in T-hemp en jeans op hul fiets verby straal). En orals, orals, voel ‘n mens, afkeurend, is daar nie “diepte” nie, is ons weggesyg in die modderige massa-kultuur.

Maar Cussons verstaan die mistiek. En die slot van die gedig is skokkend self-onterend, self-dekontruerend, self-impliserend (die instelling...). Selfs die vrome insig in die doodloopstraat van ander wil die digter nie te hoog aanslaan nie. Voor Christus moet ‘n mens nie te gou vinger wys na die voor-die-kassie-plakkers (!) nie. Christus is “onpartydig” – Hy kies nie kant teen die een groep alleen nie. Die digter self kom onder die deernisvolle oordeel staan. Haar vroomheid is vir haarself iewers ‘n “pap piëteit,” ‘n “lekkergelowigheid.” (In die mistiek tref die nietiging veral jou eie godsdienstigheid). Wanneer Jesus skoon maak, sal hy dié vroomheid ook nie ontsien nie. Dit “sal g’n niks sagter hanteer word wanneer jy met ‘n laaste ruk ‘n vinnige einde maak aan al ons pyn” nie. Selfs my vroomste vroomheid moet in die mistieke ervaring tot niet gemaak word. Geen vingers om te wys nie, né.

Die besige Christus se deernis verskil van die “aalmoes-liefdadigheid” en “enigiets-net-vir-die-vrede.” Dit is nie vryblywend nie en ook nie patroniserend nie. Hier word ontfermend uitgeroei. Goddelike deernis is die deeglike, deur vuur heen skoonmaak: Christus – “Jy” wat jou vuur laat “dreun om jou aarde” – wat met ontferming al ons leë drome uit ons uitruk (“met ‘n laaste ruk ‘n vinnige einde maak aan al ons pyn”). Hy gaan “elke doodloop” van ons tot as verbrand totdat die as met ‘n sug gaan lê en tot by die einders strek. Die skoonmaak is totaal, die vuur brand alles weg. Die Groot Doodloop (hoofletters) is nou “as.’ “Elke doodloop” is as tot die einders toe, net waar jy kyk. Dit lê vernietig, uitgebrand tot by die verste horisonne van ons bestaan.

Hier word die minder vromes en die wat opreg vroom wil wees albei gesuiwer. Ons vind die suiwering in passiwiteit – ons “passie” soos die passie van die Heer. Deur ons lyding word ons gereining en verenig met God.


(Waar is die profete wat God se verwerping van die uiterlike vroomheid aanvat en wat die kwaad uitdaag? Hier, in die gedig!).

6. Kontemplasie

Ruk dan, al skyt ek by die gedagte, want
nadat die as met ‘n sug gaan lê het en elke doodloop
as tot die einders is, sal jy kom in ‘n storm musiek –
o barshart hóór jy? – sal ons huis toe huil
in jóú Hart in, o voltooide Christus, en jý sal huil.

Die harde taal wys die gewelddadige reiniging aan. Net die gedagte aan wat moet gebeur is al skrikwekkend.
Die suiwering is pynlik. Terwyl ons pyn het, huilend omdat ons gesuiwer word van alles wat ons andersins so kosbaar ag, is ons op pad huis toe. Al huilende, want die brand is kwaai, word die pad “huis toe” afgelê:

Ons is passief in hierdie prosess van skoonmaak. Christus werk onmiddellik en direk met ons (die mistieke ervaring!). Terwyl in die massa-kultuur alles anders doodloop en in bokveld eindig, kom hier voltooiing (o “Voltooide” Christus; hier is closure). Die besige Christus hou op met suiwer, met brand. Hy is nou die voltooide Christus. In die plek van die doodloop is ons tuis by die Een – by die “Jý!” Daar word ‘n “einde” gemaak aan ons pyn. Ons vind deernis. Die closure kom wanneer die wat gesuiwer word in die goddelike hart ingeneem word. Dit is die oorweldigende eenwording: – ons word afgesluit in die mees intieme sfeer van die goddelike.

Ons weet dit tog (o barshart hóór, onthou jy?”).

En hierdie Christus het deernis, soveel so dat dit hom tot trane bring wanneer ons uiteindelik tuis is. “Jý sal huil” is die slot-woorde van die gedig. Ons is in sy hart in (“in jóú Hart in” – die hoofletter hart, die geaksentueerde jou). Kontemplatief, in die teenwoordigheid van die Passievolle, die Deernisvolle.

Nawoord: ek is gepuzzle oor een boeiende sin: Duidelik wil Cussons die oppervlakkigheid van die onbevoorregtes uitwys as sy skryf: “Die slagspreuke op die mure struikel oor stukkende spelling,... Maar waarom die spasie en waarom die komma?

Saturday, May 16, 2009

Die mistieke ervaring: vereniging

Ek werk verder met Waaijman se gedagtes oor aspekte van die mistiek ervaring. Wat gebeur wanneer iemand bewus word van God se aanraking?

Die ervaring van eenheid met God kan vir ons bedreigend lyk omdat ons kan voel ons verloor nogal baie in die proses. Veral as ‘n mens praat van nietiging, dat jou eie belange op die agtergrond te staan kom. Al gebeur dit spontaan en vanself, is dit ongewoon in ons wêreld, veral waar ons geneig is en in ons nuwe samelewing geleer word om onsself te laat geld. As ons dan hoor, soos by die vorige aspek van die mistiek, dat ons passief is terwyl God direk op ons inwerk sodat ons gestroop word, wil-wil die rooi ligte aangaan.

Ja, dit is vir ons soms ‘n skok wanneer God in ons werk.

Maar wat ons vergeet is dat die mistieke ervaring om eenwording met God gaan. In die plek van die ruimte wat ek ingeneem het en in die plek van die ek wat tot niet gaan kom iets anders. Wanneer God op my inwerk en ek deur my eie passie, stroping oop is vir wat God aan my doen, kom ‘n ander aspek na vore: ek word met God verenig. God is nou aan die werk in my. Ek deel aan ‘n eenheid met God.

Die vereniging met God, egter, en dit is belangrik, kan nouliks in woorde uitgedruk word. Vereniging is soos liefde: ‘n mens loop saam met jou geliefde en jy dink nie aan hier loop ek en daar loop sy nie. ‘n Mens dink eerder daaraan: hier is ons saam. Ons is lewensmaats, verenig soos met geen ander mense nie. Ons is ‘n paar. Ons is een. Dis moeilik om hierdie liefdesband onder woorde te bring.

So is dit ook in die mistieke ervaring: ‘n mens is by God, maar dit is nie meer “ek” wat hier “is” en “God” wat aan die oorkant van my “bestaan’ nie. Soos ek elke oomblik een is met my lewensmaat, so word ek met God verenig. Die band is so nou dat God in alles is wat ek dink, doen, onthou.

Die mistikus, Dionusios die Areopagiet, praat oor Moses se bestyging van die berg. Moses doen alles wat menslik moontlik is deur die berg op te klim. Dan kom hy bo en hy staan voor die wolk wat die berg bedek en waarbinne God woon. Moses gaan daardie wolk binne. Hy word met God verenig. En hy laat daarmee alles agter wat hy kan sien en hoor. Hy gaan die duisternis binne. Hier is hy by Iemand, maar hy weet nie mooi by wie nie. Hy kan nie peil wat God se teenwoordigheid beteken nie. As hy wil vertel, kan hy niks sê nie. Hy ervaar ‘n God wat niemand kan sien nie.

Die Bybel is vol van hoe onpeilbaar God is en hoe hoog verhewe God bo ons menslike verstand is. Nie een van ons kan regtig werklik onder woorde bring wat dit is om met God verenig te wees nie.

Dit pas ons om maar met groter nederigheid oor ons godsdiens te praat as wat ons gewoond is. Ons kan minder hoogmoedig wees oor hoe ons God nou eintlik regtig moet “verstaan.” Die Emmausgangers in Lukas 24 was in die teenwoordigheid van God, met brandende harte, maar eintlik het hulle dit nie “besef” nie. Hulle was weer met Jesus na sy opstanding verenig, en tog het hulle dit nie verstaan nie! En selfs die woorde van die Here self kan nie hulle verstand verlig nie. Te klein. Daardie verstand. Om met God verenig te wees, beteken ook dat ons nie “sien” nie en nie “peil” nie. Ons kan God nie “bekyk” en “beluister” nie. Ons is by en een met God – verby alle woorde en beelde.

Om een met God te word is ‘n boeiende, brandende verborgenheid. Laat ons daarom eerbiedig buig. Dit pas ons om ons te verwonder dat ons naby God kan kom, dat ons verenig met God kan lewe. Hoe dit werk, gaan my verstand te bowe. Ek kan dit nie peil nie.

Mistiek en vreugde

Ek wonder dikwels oor die feit dat die mistiek blykbaar vir min mense aantreklik is. Sekerlik is dit omdat die mistiek nie so bekend is nie, hoewel godsdiens ingestel is op ‘n intieme verhouding met God – en dus inherent mistiek moet wees.

Of omdat daar soveel onoortuigende mistiek in omloop is. Om oor eenwording en eenheid met God te leef is makliker gesê as beleef .

Dalk is dit, dink ek, omdat mense mistiek met swaarmoedigheid en selfs met masogisme vereenselwig.

Wat dit inderdaad dikwels kan wees. Mistiek (paalbyters!) kan soms heavy gemaak word. En dit terwyl mistiek eintlik bedoel om juis vir die mens innerlike vrede te bring en volledige vreugde.

Daarom soek ek vandag so bietjie rond na vreugdevolle, vervullende mistiek. En kom toe op die Franciskane en die geskiedenis van Franciskus van Assissi af. Hy was as mistikus wat God se aanraking dikwels ervaar het – ook op uitsinnige vlak – by uitstek die mistikus wat deur God se aanraking die wêreld ingedryf is.

Ek was hoeka ‘n maand gelede tuis in die Franciskaanse orde se gastehuis in Pretoria by Santa Sophia waar ons Spirasa konferensie gehou is. Hulle het die allermooiste en betowerendste kapel met wonderlike kunswerke (die laaste nagmaal van ) daar. En toe hoor ek so tussendeur dat hulle vanjaar 800 jaar oud is.

Meer as een rede, dus, om na te dink oor Franciskus.

Hy was bekend vir sy armoede ideaal. Maar, skryf iemand, hy het nie armoede help verlig nie. Hy het dit geskep – meer nog, hy het dit geheilig. En arm geleef. Sy armoede ideaal het oor jare heen gegroei soos hy keer op keer, meer en meer, hom met armes vereenselwig het en arm wou lewe. Elke keer weer het hy besef hoe onvervullend besittings is. En daarom het hy letterlik afstand daarvan gedoen.

En met vreugde geleef. Ek wonder of die lewensvreugde nie vir hom makliker was omdat hy so lief was vir die natuur met diere en so na aan God kon wees in God se skepping nie. By Santa Sophia staan juis ‘n standbeeld van hom saam met ‘n wolf (wat na ‘n hond lyk).

Lees die boeiende artikel by http://www.allsaintsbrookline.org/celtic_saints/francis.html. Ek kon nie help om die volgende paragraaf te geniet nie:

Following the Gospel literally, Francis and his companions went out to preach two by two. At first, listeners were understandably hostile to these men in rags trying to talk about God's love. People even ran from them for fear they'd catch this strange madness! But soon these same people noticed that these barefoot beggars wearing sacks seemed filled with constant joy. They celebrated life. And people had to ask themselves: Could one own nothing and be happy? Soon those who had met them with mud and rocks, greeted them with bells and smiles.

Kyk die blydskap wat uit hierdie lied, sy beroemde Sonlied (Canticle of the Sun) straal:

Die Lied van die Son

Allerhoogste, almagtige, al-goeie Here! Alle lof kom U toe, alle heerlikheid, eer en seëngroete. Aan U alleen, allerhoogste, behoort dit. Geen sterflike mond is waardig om U naam uit te spreek nie.
U is volprese, Here, deur al u skepsels, veral deur Broer Son wat die dag aanbring en U skenk lig deur hom. En hy is pragtig en stralend in al sy glorie! Hy dra U gelaat, o Allerhoogste.
U is volprese, my Here, deur suster Maan en die sterre; in die hemele het U hulle geplaas, kosbaar en beeldskoon.
U is volprese, my Here, deur broeders Wind en Lug, en wolke en storms en die weer waardeur u u skepsele onderhou.
U is volprese, my Here, deur suster Water; sy is baie nuttig, en nederig, en kosbaar, en suiwer.
U is volprese, my Here, deur broeder Vuur, waardeur u die nag ophelder. Hy is pragtig en vrolik, en sterk en magtig.
U is volprese, my Here, deur ons suster, Moeder aarde, wat ons voed en ons regeer en baie vrugte gee met kleurryke blomme en spyse.
U is volprese, Here, deur hulle wat kan vergewe omdat hulle u liefhet, deur hulle wat siekte en swaarkry verduur. Gelukkig is hulle wat in vrede verdra, want deur u, allerhoogste, sal hulle gekroon word.
U is volprese, my Here, deur ons suster, Die Liggaamlike Sterwe, wie se omhelsing niemand kan ontkom nie. Weë hulle wat sterf terwyl hulle skuldig is aan die sonde wat die dood bring. Geseënd is hulle wat die dood aantref terwyl hulle U heilige wil doen. Die tweede dood kan hulle nie skaad nie.
Prys en seën my Here, en bewys dank en dien die Here met groot nederigheid.

Friday, May 15, 2009

Afskeid

Daar het loodswaar wolke, vol belofte van emmersvol (broodnodige) reënwaters, oor Stellenbosch vanoggend gehang. Dit was ‘n pragtige gesig, die laaghangende wolkmassas wat oor die berge van ons dorpie as ‘n waardige begrafniskleed uitgehang is.

Ek het Prof Jan de Villiers se begrafnisdiens in die moederkerk bygewoon. Hy was my promotor en ek was destyds in die eerste derdejaarklas wat hy op Stellenbosch as nuutaangestelde dosent na die aftrede van prof. Jac Muller gehad het. Lekker dosent wat eindelose draaie by allerhande interessanthede gaan maak het. En na die bedompige jare selfs gewaag het om vir ons te vertel wie Rudolf Bultmann is en wat hy geskryf het.

Hoe sal ek hom onthou? As die een, wanneer ek by sy huis kom met ‘n hoofstuk van my proefskrif, eers vir my die stukke op die klavier gespeel het wat hy as dirigent vir die sangfees-koor vir die groot jaarlikse sangfeeste wou laat sing. Hy het hom verlustig in die kans wat hy gehad het om die massakoor af te rig. En hy het steeds onthou hoe baie het ek gehou van sy Morning has broken wat hy hulle een jaar laat sing het. Of ander kere het hy sommer net vlytig ‘n klassieke stuk gespeel. Ek sal hom onthou as iemand wat my opbel en saamnooi Nuweland toe vir ‘n krieket-toets. As iemand wat die groot teologiese pretensies om hom stilweg, sonder veel gepraat, met ‘n half-mas oog bekyk het. Een van die gesigte wat my bly bybly is hoe hy uit die dorpsbiblioteek met ‘n arm vol nie-teologiese boeke uitgestap kom. Hy het ‘n wye horison gehad – daarom sy vertaling van Erasmus.

Ek verwonder my, terwyl ek in die kerk sit, weer aan die ryk kleure wat deur die sier-vensters op ‘n mens afspeel. Maar in die stil atmosfeer kry ek kans om hom vir oulaas te huldig met goeie herinneringe. Maar ander dinge bly my ook by van hierdie diens, behalwe die kerkgebou, die vensters en al die herinneringe (intertekste) wat dit aan ander dienste daar oproep (ons jongste kind is daar gedoop, deur my pa, toe ons in Rattraylaan gewoon het).

Hoe val die ouer geslag nou weg.

Die kerk is vol grysaards. Tydgenote wat kom afskeid neem.

Buite gaan die lewe rustig sy gang, onverstoord, gejaagd, die daaglikse roetine. Dit is net nog een van baie begrafnisse.

Maar binne sing ons “Op berge en in dale” uit die ou ou Psalm-geboek. En die bekende orrelis speel ‘n wonderlike improvisasie daarvan voor die tyd. Ek vloei weg in die note, weg in herinneringe aan al die ou tye oor baie jare in baie plekke waar die lied gesing, aangehaal, gebid is.

Twee Schubert-liedere word gesing, in Duits. Dit is smaakvol, sober, rustig. Prof. Jan se gunsteling liedere, sê sy seun in sy huldeblyk so sonder fietrjassies en aansit. Sy doen van die blyk pas vir my by die diens. Dis hoe ons ons pa en ma begrawe het. “Aan die kunste.” Sing sy die Schubert lied.

Maar dit maak dit alles so skreinend seerder as destyds met my oom Jan se begrafnis op Hanover toe ant Vya, behoorlik opgewerk omdat niemand die begrafnis behoorlik treurig na haar sin hou nie, vol drama by die lykswa gaan staan en snik het. Dit is die mooiheid van soberheid, van terughoudendheid, van understatement wat die verlies intenser maak. Want mense wat ryk is in die lewe, in diepte, kan ‘n mens op ‘n telraam bereken.

Prof. Jan is op die rype ouderdom van 87 jaar dood. Hy het tydens ‘n kerkdiens sleg gevoel en net daar gesterf. Sommer vinnig.

Op hierdie stil-treurig-mooi dag in so ‘n mooi omgewing kan ‘n mens met soveel waardigheid en met soveel hartseer ‘n punt by ‘n lewenssin sit – hoewel te gou geskryf, te onherroeplik verby, te finaal. Nog iemand wat jy nie weer sal kan gaan opsoek nie.

Die swaargelaaide, donker wolke het dik strome reën uitgegiet toe ek na die begrafnis gou af dorp toe is vir ‘n paar takies. God se trane-bui wat die opgekropte hartseer uitwoed. Stellenbosch se lewe gaan voort. Die eeue sal kom en gaan. Ons name sal nie aan die vergetelheid ontruk word nie. Die tye sal oor ons nagedagtenis kom lê en dit vir altyd verdonker. Ons voetspore sal uitgewis word. Die waters van die tyd sal alles wegspoel waarvoor ons gelewe het.

Om voluit te lewe totdat hierdie waters uitgegiet word. Om dan te drink uit die fontein van die ewige lewe.

Thursday, May 14, 2009

Oor egte vroomheid en pilaarbyters




Ek lees vanoggend in Trouw hierdie funny artikel oor pilaarbyters. Die mooiste is vir my egter die prentjie van so ‘n “pilaarbyter” wat in die artikel in Trouw afgebeeld word en wat in Haarlem in ‘n katedraal hang. Dit is ‘n stoute afbeelding van iemand wat met sy tande en kuifie en ‘n reusestel bidkrale angstig aan ‘n paal kou.

Vir ‘n Protestant is die spotnaam vir ‘n geesdrywer uit die Roomse tradisie vreemd. Ons geskiedenis van die beeldebestorming het ons kerke kaal gelaat van skilderye en beeldhouwerke wat die geestelike lewe kan verryk. ‘n Pilaarbyter is blykbaar iemand wat gedurig vroom in ‘n katedraal by ‘n pilaar sit en bid voor een of ander kunswerk. Die woord “pilaarbyter” is dan eintlik ‘n parodie op ‘n “pilaar bidder.” In die digitale bibliotheek voor Nederlandse letteren word as soortgelyke Duitse uitdrukking verwys na ‘n vrou wat gedurig by die venster uitstaar as ‘n raamvreter (raamvreetster) of ‘n vensterbyter.

Dit is 'n baie ou uitdrukking - wat teruggaan op (die ouer) Brueghel se skildery.



Dit is inderdaad ‘n kort entjie verskil tussen ‘n pilaarbidder en ‘n pilaarbyter.

In ons godsdienstige tradisies, immers waarin ek grootgeword het, word vroomheid dikwels met lede oë gadegeslaan. Ons gesonde skote humor maak kort mette met ‘n geesdrywery wat nie uit ‘n verlangend hart opkom nie. Misplaaste vroomheid kan sieldodend wees.

Ons deel ons humor en ons argwaan met ons kaas-voorouers. Hulle het selfs ‘n biertjie wat die naam Pilaarbyter het. (Interessante webwerf – die een oor die Vlaamse bier. Sien die skakel hieronder).



Ons probleem is natuurlik dat ons in ons afkeer oor pilaarbyters te min kan maak van egte vroomheid en toewyding. Of so maklik pilaarbyters rondom ons uitwys. En te min raaksien hoe my eie tande kerklik “onvroom” in pilare vasslaan, maar origens ook hoe ek my tande wys en wyd en syd ander raakbyt en uitbuit. Miskien is die groot kwessie dat ons so dikwels wil wys ons is nie soos pilaarbyters nie, dat ons dit op ‘n onvroom manier wil wys en dan wêreldser as die wêreld wees.

Dit bly ‘n lyding om na binne te kyk en te besef hoeveel ‘n mens aan self-bedrog in jou koester en daarmee die eie pilaarbytery miskyk. Dit is iets wat God in ons wil genees – pynlik, soms. Maar op die ou end bevrydend.

Hier is so ‘n uittreksel van leesstof oor pilaarbyters in kaasland:

Die naam:
Het is een spotnaam voor iemand, die altijd in de kerk zit en voortdurend biddend of prevelend opziet tegen een pilaar, waaraan bijv. een schilderij van den een of anderen heilige hangt (http://www.dbnl.org/tekst/stoe002nede01_01/stoe002nede01_01_1894.htm)

En die artikel uit Trouw.
Het gaat om houtsnijwerk in de Bavokerk aan de Haarlemse Grote Markt. Toen ik, voorovergebogen, probeerde vat te krijgen op dat wanstaltige mannetje, liep een gastvrouw van de kerk op me af en zei, zonder enige introductie en zonder verdere uitleg: ‘dat is een pilaarbijter!’ Ik schrok, want ik kon het woord niet thuisbrengen en niet relateren aan wat ik voor me zag.

Thuis keek ik in van Dale’s woordenboek. Een pilaarbijter is ‘iemand die overdreven druk naar de kerk loopt, een schijnheilige, een femelaar’. Zo roept het ene schitterende woord het andere op … een femelaar is ‘een zoetsappige zeurkous, een kwezel die temend spreekt’ … en een kwezel is een ‘overdreven vroom persoon’, een ‘sufferd’ … en als je ‘teemt’, dan spreek je op ‘zeurderige toon’. Een ketting van wonderlijke en naargeestige woorden … wat kan taal mooi zijn! Het lijkt wel of ze, om extreme situaties uit te kunnen drukken, over haar eigen grenzen reikt, diep in het onderste van de kan. Stel je eens voor: je bent in de kerk, of op het plein, in een gemeenschap waar je bijhoort, waar dan ook. Je ziet dat er over je gefluisterd wordt. Dan klinkt het harder en harder, tot het woord tot je doordringt en als een dolk in je rug steekt: ‘pilaarbijter!’. Vroeger, toen de taal krachtiger was, en betekenisvoller, moet zo’n woord geklonken hebben als een veroordeling, een openbare terechtstelling. Want huichelachtige schijnheiligen die in de steunpilaren van de gemeenschap bijten, horen er niet bij. De excommunicatie is onvermijdelijk. Iedereen kent deze dynamiek van groepen of gemeenschappen. Denk maar even na, en je weet een voorbeeld te noemen. Want de pilaarbijter vertegenwoordigt een universele menselijke eigenschap. Het gaat om een archetypische figuur die duizendvoudig voorkomt, vroeger en nu, in duizendvoudige gedaantes, buiten je om, en, als je eerlijk bent, ook in jezelf.

http://www.trouwcommunities.nl/religie-filosofie/opinie/blogs/2351/11144.html


http://biervanhier.skynetblogs.be/post/5241596/pilaarbijter


Die foto's is oorgeneem uit die links wat hier genoem is.

Blog Archive